’N MONSTER? NIE MÝ BOKKIE
Die nuwe vrou in die lewe van die gevonnisde pa van die Springsgruwelhuis vertel hoekom sy gevoelens vir hom het
OP ’N dag het sy asof uit die niet verskyn en almal se wenkbroue omhoog laat lig. Wie is die onbekende vrou wat die das van die man in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Pretoria vir hom so netjies regtrek? En tydens onderbrekings in die verrigtings sy hand vashou? Sy het ook nie geskroom om hom te soen en saggies in sy oor te fluister nie.
Hoe kan sy – wat besiel haar – het hofgangers gewonder. Want die beskuldigde wat sy so liefderik ondersteun, is immers die sogenaamde Springsmonster wie se dade die land met afgryse gevul het.
Regter Eben Jordaan het hom onlangs skuldig bevind aan die verkragting van sy oudste dogter en poging tot moord op sy oudste seun. En dat hy al vyf sy kinders jare lank in sy huis van gruwels in Springs opgesluit, mishandel en verhonger het.
Nogtans het die vrou hom openlik in die hof gesoen – en dit op die dag dat regter Jordaan hom tronkstraf van effektief 35 jaar opgelê het vir sy gruweldade.
En hier sit ons nou oorkant die vrou in haar 40’s wat die land aan die gons het. Volgens die wet mag nóg sy nóg die Springsmonster geïdentifiseer word om die identiteit van hul minderjarige kinders te beskerm. Sy is self die ma van twee blondekopkleuters.
Hoe kan ’n vrou so ’n man liefhê? wil ons van haar weet.
Sy was dan in die hof toe regter Jordaan gesê het hy is ’n psigopaat en ’n sadis. Sy het reg agter die pa van vyf gesit terwyl ’n verklaring van sy seun voorgelees is. ’n Verklaring waarin hy sê as hy kon, sou hy sy pa self doodgemaak het. Dieselfde seun wat ’n einde aan sy pa se skrikbewind gemaak het toe hy in 2014 met oë wat blou geslaan is uit die Springshuis ontsnap en hulp gesoek het.
“Ek weet nie wat om te glo nie,” antwoord die donkerkopvrou van agter die kuif wat oor haar oë hang.
“Hy het al vir my gesê hy berou die vreeslike goed wat hy gedoen het,” sê sy.
“Ek gee baie om vir hom. Hy laat my goed voel en praat mooi met my.”
Maar die regter het dan bevind hy het sy eksvrou en medebeskuldigde – wat intussen van hom geskei en aan sy neef verloof geraak het – ook mishandel? In so ’n mate dat sy medepligtig was aan sy mishandeling van haar kinders?
Sy het nie die saak in die media noukeurig gevolg nie, sê die sogenaamde Springsmonster se nuwe liefde.
Sy het hom sowat nege maande gelede die eerste keer in die streng gekontroleerde omgewing van die tronk se besoekhokkie besoek.
Maar daardie dag van sy vonnisoplegging was die eerste keer dat sy aan hom kon raak en hom kon soen.
Nou weet sy nie wanneer hulle dit weer sal doen nie.
ONS gesels in die besige spreekkamer van ’n WesRandse dokter waar sy onlangs as ontvangsdame begin werk het.
Die woorde kom vinnig uit haar mond, want ons word telkens deur ’n pasiënt of ’n oproep onderbreek. In die stiller oomblikke glip sy uit vir ’n sigaret.
Oor haar persoonlike lewe verklap sy min, want sy wil haar twee kinders beskerm. Sy en haar man is vervreem en hy is nogal moeilik sedert daardie aand ná die vonnisoplegging toe in die media oor haar gegis is.
Vandag, twee dae later, weet sy nie mooi wat om oor als te dink nie.
Haar ontmoeting met die Springsmonster nege maande gelede was heel toevallig, vertel sy.
Sy en ’n vriend het vir ’n ander gevan-
gene in Pretoria se Kgosi Mampuru IIgevangenis gaan kuier. Laasgenoemde het die Springsmonster in die tronk bevriend – en toe teken hulle albei gevangenes uit vir die besoek in die besoekerslokaal.
“Ons het net van die begin af gekliek,” sê sy.
“Hy het vir my vertel hoekom hy in die tronk is. Ek het eers toe besef dit is die sogenaamde Springsmonster wat ek nou in die oë kyk.”
Maar dié onthulling het haar nie veel gepla nie. Die twee het gou bevriend geraak en ál meer gesels. Hy het haar gereeld van die tronk se foon gebel.
Sy kuier gewoonlik elke tweede week by hom in Pretoria. Die langste wat hulle mekaar die afgelope paar maande nie gesien het nie, was drie weke. Haar selfoon lui. “Dis hy,” sê sy. “Hallo, bokkie,” antwoord sy die foon. Ná die oproep sê sy hy het aansoek gedoen om teen sy vonnis te appelleer. Dit is geweier.
“Hy sal eers 30 jaar van sy vonnis moet uitdien voor hy vir parool kan aansoek doen,” sê sy met ’n snik.
“Ek dink baie aan alles wat in die hof uitgekom het. Veral oor die feit dat die hof gesê het hy is ’n psigopaat en ’n sadis.
“Dit maak seer, want dit is nie die man wat ek die afgelope nege maande leer ken het nie.”
Hulle het nie verwag hy sou so swaar gestraf word nie. In die oproep aan haar het die die Springsmonster gesê hy is stukkend.
“Noudat ek iemand ontmoet het wat regtig lief is vir my en by my wil wees, nou gebeur dit.
“Nou kan ek nie by haar wees nie, want ek sit hier binne. Ek is so lief vir haar, maar ek sal nooit by haar kan wees nie,” het hy gesê. Sy teug ingedagte aan haar sigaret. “Ek het nog nie daaraan gedink of ek 30 jaar lank sal kan wag nie. Daar was nie tyd om daaraan te dink nie. Daarby is ek nog te gespanne oor die saak,” sê sy. “Mense kan my maar kritiseer; dis maar hoe dit is.
“Sit hom saam met mense wat hom respekteer, waardeer en vir hom lief is. Dan sal hy ’n ander mens wees.”
Die sogenaamde Springsmonster se vrou, wat saam met hom verhoor is, is vyf jaar opgeskorte tronkstraf opgelê. Sy is vroeër skuldig bevind aan kinderverwaarlosing, dwelmmisbruik en regsverydeling. Regter Jordaan het bevind sy was as ’n mishandelde vrou ’n slagoffer van haar omstandighede.
‘Ek het nog nie daaraan gedink of ek 30 jaar lank sal kan wag nie’