SY KENNISSE VERTEL
DR. ROELOF BOTHA, ekonoom en Pik se seun
Toe Roelof op 17 sy matriek voltooi, was hy nog te jonk vir diensplig en “ook nog nie lus vir universiteit nie”. Hy wou gaan reis.
Die plan was dat hy en ’n vriend – wie se pa ’n hawemeester in Durban was – werk op ’n skip sou kry en so die wêreld sien.
“Maar my pa het geweier. Hy het gesê onder geen omstandighede sal hy dit toelaat nie. Ek het vir hom gesê ek wil vry wees, en toe deel hy met my ’n ding wat my altyd sal bybly.
“Hy het gesê: ‘Seun, die grootste vryheid lê in gebondenheid.’ Ek kon dit nie onmiddellik verstaan nie. Jare later het ek besef hy verwys na gebondenheid in die Here omdat jy dan werklik vry is en niks hoef te vrees nie. Hy het my twee dinge geleer: Lees elke dag Bybel – en leer soveel jy kan.”
THERESA PAPENFUS, biograaf
Theresa, skrywer van Pik Botha en Sy Tyd, vertel sy was benoud toe Pik in 2011 laat was vir ’n boekbekendstelling.
“Sy vrou, Ina, het my vroeër laat weet Pik het ’n moeilike aand gehad en dat hulle ’n bietjie laat kan wees. Die restaurant was volgepak. Toe kom Pik daar aan en hy lyk goor. Moeg en hy maak nie oogkontak nie. My hart het tot in my skoene gesak.
“Maar toe ons op die verhoog klim en Pik die mikrofoon neem, was dit asof hy uit die dood herrys: Hy het met daardie bekende diep stem gepraat, in afgemete sinne, en was verskriklik sjarmant.
“Die mense het aan sy lippe gehang. Van die vroue het begin huil . . . Skielik was die skete en pyne sommer vergete. En dís hoe ek hom onthou; ’n regte aanhouer.”
Pik het nooit regtig van die idee oor ’n boek oor homself gehou nie, sê sy. Die eerste proewe van haar boek was 1 000 bladsye lank. Pik se reaksie was: “Maar my magtig! Jy kan mos nooit so ’n spul goed wil uitgee nie.”
Hy het dag en nag daaraan gelees en soms het sy middernagtelike oproepe van Pik gekry. “Hy het kort-kort ontplof. Daar was mense wat nare goed oor hom gesê het en dis in die boek vervat.” In ’n stadium het Pik aan haar gesê: “Hel. Dis seker die man se goeie reg om van my te dink en te sê wat hy wil . . .”
Sy het in die jare dat sy saam met Pik gewerk het, besef sy tweede vrou, Ina, was reg: “Hy is eintlik ’n introvert. Skugter. Selfs skaam, al sou niemand dit glo nie.”
MATHEWS PHOSA, oudpremier van Mpumalanga
Mathews sê Pik is in baie kringe as gevaarlik bestempel, veral nadat hy in die 1980’s die vrylating van Nelson Mandela begin voorstaan het.
“Hy is verskeie kere byna afgedank omdat hy nie altyd presies gedoen het wat die NP wou hê hy moes nie. Maar hulle kon hom nooit laat gaan nie, oor sy gewildheid onder wit kiesers. Daarby het baie Afrikastaatshoofde hom gerespekteer vir sy opregtheid.”
Ja, hy was ’n omstrede figuur, sê Mathews, maar hy is wyd gerespekteer. “Hy het verandering omhels en geglo in ’n nierassige toekoms in Suid-Afrika.”
PROF. WILLIE ESTERHUYSE, filosoof en sakeman
Willie, wat destyds die onderhandelings vir ’n demokratiese bestel help bewerkstellig het, sê ’n kuier op die plaas van Danie Hough, voormalige administreur van die Transvaal, saam met Pik en ander kabinetsministers sal hom altyd bybly.
Hy vertel die ministers het om die braaivleisvuur sit en staaltjies uitruil toe Pik in ’n stadium uit pure verveeldheid ’n geweerpatroon in die vuur gooi en die mans daarvan vergeet.
“Maar toe word daardie patroon warm en ontplof. Jy het nog nog nooit in jou lewe gesien hoe ’n groep ministers en hul lyfwagte tegelykertyd uitmekaarspat nie. Dit was ongelooflik snaaks.“
Oor Pik se bekende diep stem: “Sy stemintonasie kon die belangrikheid van ’n saak beklemtoon.” En: “Hy was ’n uitstekende onderhandelaar. Hy was geloofwaardig onder ministers van Washington tot Londen en Parys. Sy dood is ’n verlies.”