MY STRYD OM MY PA SE TROTS
Die akteur André Lotter moes jare lank worstel met sy pa se siekte en hul vervreemding ‘Skielik het jare se emosies na die oppervlak gekom. Ek was stukkend’
TUSSEN die see van gesigte wat hom toejuig terwyl hy as hoofseun van die Laerskool Oosterkruin in Johannesburg ingehuldig word, is die een waarna hy soek nie daar nie – dié van sy pa. Ure later skud die 13- jarige André Lotter sy pa tuis uit sy drankbenewelde slaap wakker om hom die groot nuus te vertel. Maar pa Willem se ongeërgdheid is ’ n skoot yskoue water in die gesig.
Dít was die oomblik toe die groot skeuring tussen hom en sy pa gekom het, vertel André, nou 34 jaar oud en aan 7de Laan-kykers bekend as die karakter Rickus. Tog was dit nie sy pa se drinkery wat die akteur kleintyd so byna geknak het nie.
Kort ná die bittere hoofseunvoorval, in dieselfde jaar, het die siekte spierdistrofie sy pa afhanklik van ander gelaat. Dit was die jong André wat die pa met wie hy geen verhouding gehad het nie toenemend soos ’n baba moes versorg.
“Ek moes my pa soggens en saans in en uit die bed help – hom met tye help aantrek, sy skoenveters vasmaak en later jare selfs na die badkamer help,” deel André vandag vir die eerste keer sy verhaal.
“Dít alles sonder dat ek ooit geweet het of hy dankbaar is.”
André het destyds gevoel soveel word van hom gesteel – sy sorgeloosheid, sy kindwees en later ook sy vryheid.
“Ek het geweet hy is my pa, ek móés na hom kyk, maar ek was so verbitterd omdat dit van my verwag is. Ek het destyds soveel opgekropte kwade gevoelens gehad.”
Die kloof tussen pa en seun het verder verdiep. André se smagting na aanvaarding het bittere rebelsheid geword. En sy pa se frustrasie, woede en drinkery het toegeneem.
Toe André eindelik uit sy ouerhuis ontsnap, het hy sy rug op sy pa gekeer.
“My lewe lank wou ek hom net beïndruk – en toe ek nie die aanvaarding kry waarna ek smag nie, het ek hom verwerp, want ék het verwerp gevoel,” erken hy.
Eindelik sou toneelspel hom help om sy pa se frustrasies en sy eie woede beter te verstaan – en pa en seun help om in ’n mate te versoen.
“Maar ek sou nooit kon raai hoe my pa se dood my sou ruk nie . . .”
HIER by die 7de Laan-ateljees in die noorde van Johannesburg groet André ons met ’n breë glimlag. Op die oog af verklap niks deur watter diep waters hy al is nie. Hy praat vandag die eerste keer openhartig daaroor.
“Ek het nou die dag die eerste keer besef hoeveel ooreenkomste daar tussen my en my karakter in 7de Laan is,” sê hy. “Hy is in alle opsigte ’n jonger ek. Soekend na aanvaarding, verward, onseker . . .”
Hy lag. “Life imitates art – so lui die gesegde mos.”
Spierdistrofie is reeds in sy pa, Willem, se tienerjare by hom gediagnoseer. Hy ht het egter t baie b i jare j l lank k’ ’n vol ll lewe gelei. l i Maar in 1997, toe André 13 jaar oud was, het hy geval en ’n been gebreek. “Hy was weke lank in gips en aan ’n rolstoel gekluister en het nooit weer herstel nie,” vertel André.
“Ek het geweet ons lewe gaan vir altyd verander. My pa was ’n moeilike man. Hy versinnebeeld ’n tipiese ouer generasie – dit was vir hom moeilik om liefde te
toon of aanraking te gee.
“Die laaste strooi was s toe sy vryheid wat hom m ontneem is. Hy was kwaad d vir die wêreld en gefrus- - treerd; hy kon soveel nie e doen nie. Alkohol het sy y
go-to geword, en elke keer r wanneer hy gedrink het, t, het hy net nog kwater er geword.”
André, wie se ouers rs geskei is toe hy drie jaar ar oud was, het by sy pa en n stiefma gewoon, maar ar gereeld vir sy ma, Martie ie (67), gaan kuier. Hy het as’t ware sy pa se versorger geword omdat sy jonger broer nie die fisieke krag gehad het om Willem met alledaagse takies te help nie.
Ook sy stiefma was nie fisiek sterk genoeg om haar man met alles by te staan nie.
Sy pa se bitter houding het André ook verbitterd gemaak.
“Ek het sy frustrasie verstaan, maar ek was terselfdertyd kwaad omdat ek so om sy aanvaarding gestoei het. “Ons het nooit daarin geslaag om bud
dies te word nie. Nie een van ons het gepraat oor die ongelukkigheid tussen ons nie en ons verhouding het ál meer verbrokkel.”
Kort voor sy matriekeksamen het André weggeloop en by ’n vriend gaan woon.
“Dalk sou ek nie so gerebelleer het as ek destyds net één keer gehoor het hy is trots op my nie. Maar ek het my van hom losgemaak omdat hy nooit daai woorde kon uiter nie.”
Die volgende twee jaar was hy rigtingloos. Hy het onder meer aan motors gewerk en ’n jaar lank onderwys studeer. Hy het sy familie vermy.
In 2006 ontmoet hy toe ’n regisseur van die sepie 7de Laan en dit inspireer hom om vir ’n dramagraad by die destydse Technikon Pretoria in te skryf.
“Tydens my studie het ek met ’n wye spektrum emosies te doen gekry. Soms het ’n rol vereis dat jy eendag hartseer of kwaad is en die volgende dag bitter of koud. Dit het my laat verstaan hoekom my pa so kwaad was,” sê André.
“Daarby het ek begin leer hoekom ek soveel jare lank ook kwaad was.”
’n Dekade nadat hy uit die huis weggeloop het – toe hy die karakter Liam le Roux in die sepie Villa Rosa gespeel het – het hy en sy pa in 2012 versoen.
“Ek wou nie meer ’n wrok koester nie,” sê André. “My pa was ouer, moeg en uitgeput. Ons het geen verhouding gehad nie, maar ek het die jare se kwaad en seer agter my gesit.”
In Desember 2014 was hy op die Villa Rosa-stel toe sy stiefma hom bel met die nuus dat sy pa skielik in die hospitaal dood is nadat hy dae tevore ’n hewige beroerte gehad het.
“Skielik het jare se emosies na die oppervlak gekom. Ek was stukkend. Ons het dit glad nie verwag nie.”
“Niemand kon my troos nie. Net voor sy dood het hy die heel eerste keer in sy lewe vir my gesê hy is trots op my. Dis waarna ek my lewe lank gesmag het. Maar toe is hy weg.
“Dit het my lank gevat om daaroor te rou, maar ek kon vrede kry. Ek weet nou hy was trots op sy seun.”
IN DIE jare ná sy pa se dood was oefening sy uitkoms, vertel die akteur, wat gereeld in 7de Laan sy mooi lyf wys. “As ’n kind was ek angsbevange be dat ek eendag soos my pa sou ly. En later moes ek sterk wees om hom te kan ka help.
“Maar “’n sielkundige het vir my gesê my pa se siekte is juis die rede waarom ek so hard oefen. oefen Ekhetd Ek het die siekte wat my pa se lewe geëis het in die oë gekyk.
“In ’n stadium het ek geoefen tot ek naar is of nie meer voor my kon sien nie. Dis eers twee maande terug dat ek besef het ek is besig om myself dood te oefen.
“Vir die eerste keer is ek rustiger en ek is die gelukkigste nog. En dis alles danksy my vrou, Madelaine. Sy is my rots en anker.”
Boonop bring sy rol as Rickus in 7de Laan hom groot vreugde. “Ek stort baie van myself in die karakter. Tog weet ek waar die skeidslyn met my eie lewe is. Ek werk ongelooflik hard, maar is altyd gelukkiger wanneer ek alles gee.”
Hy het vandag al die geluk wat hy as kind en jong man nooit ervaar het nie.
“Daar is dinge wat ek dalk anders sou aanpak, maar die seer en die kwaad is nou meer as ooit ver weg van my verwyder.
“Ek het ’n wonderlike vrou vir wie ek pynlik lief is, goeie vriende, ’n wonderlike werk . . . En wie weet, dalk word ons volgende jaar ook ouers.”