Huisgenoot

Fiksie: Die tweede en laaste uittreksel uit Deon Meyer se nuwe spanningsr­oman, panningsro­man, Prooi

Lees ons tweede en laaste uittreksel uit Deon Meyer se nuutste spanningsr­oman

- Illustrasi­e: MIEKE VAN DER MERWE

DIE profession­ele lewe van ’n poliesman of -vrou wentel om ’ n drieflaplê­er wat opvou tot net twee sentimeter breër en langer as ’n A4-bladsy.

Die legendarie­se “docket”. Dit is van goedkoop karton vervaardig, in ’n ligbruin kleur wat dikwels vergelyk word met ’n onwelrieke­nde neweproduk van babas.

Op die voorkant, heel bo, is die wapen van die SAPD gedruk. En net onder dit, in die vetste letters in die ganse dokument, staan CASE DOCKET/ SAAKDOSSIE­R, die amptelike titel . Tog verwys speurders, staatsaank­laers en regters byna altyd bloot na die “docket”, ongeag watter een van die land se 11 amptelike tale hulle tuis praat.

Dit het drie flappe en ses bladsye, elkeen van hoek tot kant in swart ink gevul met woorde en sinne en afkortings, blokkies en stippellyn­e wat vir die onkundige oog chaoties kan lyk. Maar vir dié wat dit daagliks gebruik, is die docket ’n meesterwer­k van doeltreffe­ndheid. Dit het oor dekades heen ontwikkel tot die perfekte gids vir en reisgenoot van ’n saak – van daardie eerste besoek aan die misdaadton­eel tot by die finale skuldigbev­inding. Die ses kartonblad­sye bevat op sigself kardinale inligting, maar dit dien ook as ’n verrassend duursame omhulsel vir die tientalle, soms honderde, dokumente wat die saak in sy leeftyd gaan versamel. Die docket is ’n pakhuis, ensikloped­ie, bronnelys, Speurbybel én spanningsr­oman. Mits jy weet hoe om dit te lees, en dit natuurlik deur ’n nougesette, kundige poliesman geskep en in stand gehou is.

Wanneer luitenant-kolonel Mbali Kaleni aan die einde van die Dinsdag se oggendpara­de vir kaptein Bennie Griessel ’n docket aangee, weet hy en sy kollega kaptein Vaughn Cupido met die eerste oogopslag twee belangrike dinge: 1. Dit is nie hul eie docket wat terugkom nadat Kaleni dit met haar pynlike deeglikhei­d nagesien het nie. Want die heel eerste blokkie bo links dui Beaufort-Wes aan as die stasie van oorsprong, en die naam van die eerste ondersoeke­r is “Sers. A. Verwey”. 2. Dit is ’n warm patat. Want hulle het dadelik geloer na die middel van die voorblad, onder Misdaad kode (sic). Op dié spesifieke dossier staan die syfers wat elke speurder in Suid-Afrika se hart ’n bietjie vinniger laat klop: 31984.

Die ganse regstelsel se kode vir moord.

“I want you and captain Cupido to focus on this case exclusivel­y,” sê kolonel Kaleni, met nadruk op die laaste woord. Sy is bevelvoerd­er van die Direktoraa­t vir Prioriteit­smisdaadon­dersoeke – beter bekend as die Valke – se Eenheid vir Ernstige en Geweldsmis­dade. Haar voornaam beteken “blom” in Zoeloe, haar moedertaal.

Griessel en Cupido weet op dié oomblik hul profession­ele lewe gaan vir die afsienbare toekoms om hierdie docket wentel. En hulle is nie baie ingenome daarmee nie. Onder meer omdat dit ’n saak is wat hulle geërf het. Wat beteken dit gaan waarskynli­k gepaard met gebreke en verskeie soorte bagasie, onder meer interdepar­tementele politiek en profession­ele afguns.

Boonop is die ondersoek minstens agt dae oud, vol-

gens die saaknommer. En die datum en tyd van die misdryfvoo­rval is byna drie weke gelede. Die eerste 72 uur, daardie kardinale periode waartydens ’ n moordsaako­ndersoek gemaak of gebreek word, is lank reeds verby.

Daarom kreun Vaughn Cupido en sê: “Why do we always get the cold case dregs, colonel? The runts of the litter?”

“Because you are the best of the best, captain,” sê Mbali Kaleni. Sy is tydsaam en f rustre rend regulasieg­ehoorsaam, en dryf daarom dikwels die meer vrygeestig­e Cupido tot raserny. Maar sy weet hoe om die beste uit haar mense te kry: “And that is what the case needs. Because it involves internatio­nal tourism, there seems to be jurisdicti­onal grey areas, and local law enforcemen­t has not been impressive. So the provincial commission­er asked us to step in, and he specifical­ly requested you and Bennie. He says if anybody can solve this, you can.”

“Damn straight, colonel,” sê Cupido ingenome, onbewus van haar manipulasi­e.

“Furthermor­e, the victim is a former member of the Service,” sê Kaleni. “It’s the Johnson Johnson docket.”

Sy wag dat die lig vir hulle moet opgaan, maar soos die meeste lede van die Geweldsmis­daadspan het dié twee speurders die afgelope maand dag en nag gewerk om die reeks moorde onder nagklubuit­smyters in die stad op te los. Hulle staar net na haar.

“The guy who disappeare­d from the fancy train,” sê sy asof hulle darem dít behoort te weet. “There have been stories in the media.”

“Johnson Johnson? That’s his name? For real?” “Yes.” Griessel skud sy kop. “Sorry, colonel, we haven’t heard about it.”

“Okay. It’s all in the docket,” sê sy.

MAAR alles is nié in die docket nie.

In Griessel se kantoor pak hulle die inhoud daarvan oor die uitgestrek­theid van sy staatsdien­slessenaar uit.

Soos met alle SAPD-dossiere, bestaan die binnegoed uit drie afdelings: A, B en C.

Deel A bevat die onderhoude, verslae, verklaring­s en die fotoalbum. In die Johnsondoc­ket is dié inligting maar yl. Daar is ’n bladsy met aantekenin­ge, in ’n slordige handskrif, oor ’n telefonies­e onderhoud met ’n mevrou Robyn Johnson, ’ n voorlopige verslag deur ’n forensiese ondersoeke­r van die SAPD op George en ’n paar swak foto’s van ’n man in ’n swart pak en wit hemp wat langs ’n treinspoor lê. Die foto’s toon ’n lyk wat reeds begin ontbind het. ’n Ernstige kopwond het sy gelaatstre­kke vervorm. Die stewels van SAPD-lede in uniform wat rondom die liggaam staan, is ook op die foto’s sigbaar.

“Jissis,” sê Bennie Griessel en wys met sy vinger. Want dit beteken swak bestuur van die misdaadton­eel en eindelose moeilikhei­d vir die staatsaank­laer, sou die saak hof toe gaan.

“Ja. Country bumpkins. What do you expect?” vra Vaughn Cupido retories.

In die dossier se deel B word die korrespond­ensie bewaar wat met ander SAPDafdeli­ngs of buite-instansies soos banke of werkgewers gevoer is. Dié afdeling bevat slegs ’n afskrif van ’n artikel 205-subpoena wat die speurder van Beaufort-Wes gebruik het om inligting oor ’n selfoon by Vodacom te kry.

Deel C is die ondersoekd­agboek op die SAPS5-vorm. Ook dít is afskeepwer­k. Die laaste inskrywing sê die lyk is eers twee dae gelede van Beaufort-Wes na die staatslyks­huis in Soutrivier vervoer. Nog geen post mortem is gedoen nie. Die liggaam is nog nie amptelik uitgeken as dié van Johnson Johnson nie. Griessel sug. Cupido staan op. “Benna, kom ons try sense maak van dié ding,” sê hy en vee die witbord teen die muur skoon.

Griessel werk van voor af deur elke inskrywing, terwyl Cupido met ’n blou merker ’n tydlyn op die bord skep.

Teen middagete is hulle nog besig. Hulle laat wegneemkos uit Voortrekke­rweg kom. Griessel bestel ’n Jalapeño Mayo-burger met skyfies van Steers, sy nuwe gunsteling. Hy eet wat hy wil, want hy ry met sy bergfiets minstens 140 kilometer per week teen die steiltes van Kloofnek uit. Hy is sewe kilogram ligter as ’n jaar gelede.

Die inhoud van Cupido se keurige klerekas sit deesdae ongemaklik styf. Want Vaughn wil die hart verower van sy nuwe liefde, die mooie Desiree Coetzee van Stellenbos­ch, en sy hou van kos maak en uiteet. Maar die vetjies pla hom. Kwaai. Daarom volg hy in die geheim dieselfde dieet wat hy met soveel geesdrif bespot het toe kolonel Kaleni destyds daarmee begin het – die beroemde banting-leefstyl van professor Tim Noakes. Hy het dit net aan Griessel beken, uit skaamte vir sy uitgesprok­enheid daaroor in die verlede.

Cupido bestel twee visfilette van Catch of the Day, geen skyfies nie, en ’n Coke Zero. Hulle eet en werk, tot hulle teen drieuur min of meer verstaan hoe die saak inmekaarst­eek:

Johnson Johnson (34) was volgens ’n docket-inskrywing ’n “private protection consultant”. Sewentien dae gelede het hy saam met ’n kliënt op ’n luukse trein van Rovos Rail in die Kaap geklim. Die kliënt vir wie hy as lyfwag opgetree het, was ’n Nederlands­e toe- ris, ene mevrou Thilini Scherpenze­el. Die trein was op pad Pretoria toe.

“Thilini Scherpenze­el,” het Cupido die naam in sy mond getoets. “Daai’s ’n naam, pappie, all elegance. Ek wed jou sy’s ’n pop.”

Johnson is die laaste keer gesien toe hy dié Saterdag, nadat hy saam met mevrou Scherpenze­el aandete geniet het, haar by haar komparteme­nt afgesien het. ’n Woordvoerd­er van Rovos het later bevestig dat Johnson nie op die trein was toe dit die Maandag in Pretoria aangekom het nie. Sy kliënt en die trein se personeel het aanvaar dat hy die trein die Saterdagna­g vrywillig verlaat het, want sy reistas was skynbaar ook weg. Dit is eers die Maandag gevind toe die trein sy Pretoria-bestemming bereik het – diep onder sy uitvoubed ingestoot.

Daardie Maandagmid­dag is Johnson deur sy eksvrou, Robyn, as vermis aangegee. Sy het die verdwyning gaan aanmeld by die polisie in Brackenfel­l, die Kaapse voorstad waar sy en Johnson apart gewoon het. Geen poging om Johnson op te spoor het vrugte afgewerp nie.

’n Week later, op Maandag 14 Augustus, is die lyk van ’n man langs die hoofspoorl­yn naby Drie Susters in die Karoo gevind. Die oorsaak van dood was klaarblykl­ik ’n massiewe skedelfrak­tuur. ’n Forensiese ondersoeke­r van die SAPD op George het ’n dag later bloed, weefsel, beensplint­ers en hare gevind teen die staalpaal van ’n elektrifis­eringspilo­on, ’n paar meter van die liggaam af, op ’n hoogte wat aandui dat die oorledene dit getref het toe hy uit die trein gespring het. Of gegooi is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa