ANTIEKE TYE
Die eerste hulpmiddel wat mense ontwikkel het om te kommunikeer, was taal. Wetenskaplikes meen dit het sowat 35 000 jaar gelede gebeur. Eers het mense net gepraat, maar later het hulle ook prente teen grotmure geteken. Die sketse het tot simbole ontwikkel om idees te verteenwoordig, wat later tot skrif gelei het.
Die eerste vorm van skrif is spykerskrif genoem en het in omstreeks 3500 v.C. in Sumerië (die hedendaagse Irak) ontwikkel. Dit het die uitvinding van hiërogliewe in omstreeks 3100 v.C. in antieke Egipte beïnvloed. In China het skrif onafhanklik van dié invloede in die 13de eeu v.C. ontwikkel en die Chinese gebruik die ingewikkelde stelsel vandag nog.
Die vroeë skrifstelsels het simbole gebruik om volledige idees en woorde uit te beeld, maar dit was eers in die 11de eeu v.C. dat die Fenisiërs (van die gebied wat nou as Libanon bekendstaan) hiërogliewe vereenvoudig en in ’n alfabet verander het. Daarin verteenwoordig elke simbool ’n klank, en wanneer jy hulle bymekaarvoeg, kan jy enige woord lees. Die antieke Grieke en Romeine het dit verder ontwikkel tot die alfa- bet wat ons vandag gebruik.
Die Sumeriërs het stilusse gebruik om vorms in nat kleitablette te druk. Die antieke Egiptenare het hiërogliewe in mure van kliptempels gegraveer, maar ook op papirus – die eerste papier ter wêreld – geskryf.
Met die uitvinding van papier kon die Farao sy bevele in die vorm van briewe met ’n boodskapper aan sy volgelinge uitstuur. Dit was die eerste posdiens.
Ander antieke samelewings soos die Grieke en Romeine het ook briewe per boodskappers te perd uitgestuur. Hulle het dit ook aan posduiwe vasgebind. Maar dit was steeds net heersers en rykes wat so kon kommunikeer. Die meeste mense kon nie lees of skryf nie.