’N LEWE TOT STILSTAND GERUK
Aan die vooraand van Oscar se 32ste verjaardag vertel sy familie hoe hulle met die lewe moet aangaan
HULLE was ’ n familie verenig in hul smart toe hul pa en oupa sy laaste asem in die ZuidAfrikaans Hospitaal in Pretoria uitblaas. Om sy sterfbed kon sy familielede na mekaar uitreik; mekaar deur die trane omhels en troos.
Maar die plek van Hendrik Pistorius se kleinseun Oscar was leeg in die hospitaalkamer, net soos dit ook hierdie Kersfees e nop ander familie byeenkomste sal leeg wees.
Die Paralimpiese atleet, wat wêreldwyd as lemnaeler beroemd geword het, moes verlede maand die tyding van sy geliefde oupa se dood op 101 jaar op 19 Oktober aanhoor in die Atteridgeville-Korrektiewe Sentrum buite Pretoria. Hier dien hy sy vonnis van 13 jaar en vyf maande uit vir die moord op sy modelmeisie, Reeva Steenkamp (29), op Valentynsdag 2013.
Daar agter tralies – net ’n paar kilometer van die hospitaal, maar wêrelde verwyder van sy familie – moes hy alleen met sy hartseer worstel en die verlies verwerk.
Een van Oscar se tantes aan vaderskant, Heidi Drew (70), vertel sy het twee dae ná sy oupa se dood met Oscar oor die foon gepraat. “Oscar was verskriklik ontsteld. Ek dink soveel meer as ons, want hy is afgesonder van alles en almal waar hy nou is. Ons kan almal aangaan met ons lewe, maar hy sit in die tronk.
“Hy word nie deur familie omring nie, en dit is duisend maal erger wanneer sulke dinge gebeur. Wie troos hom? Ons het mekaar om vas te hou. Wie hou hom vas?” sê-vra sy, haar stem vol kommer.
Ook op die groot dae, soos sy verjaardag vandeesmaand, kan Oscar se uitgebreide familie nie by hom wees nie. Op 22 November word hy 32, maar hy sal die dag alleen in die gevangenis deurbring, al brand sy familie om by hom te wees.
Sy sal graag vir hom ’n lekker bord kos wil vat, sê Sonia Grobler (71), nog ’n tante aan vaderskant, wat op Stellenbosch woon. “Maar dít kan ’n mens nie eens op sy verjaardag vir hom gee nie. Nie eens ’n sjokolade nie.”
Wanneer lede van sy hegte familie hom wel te sien kry, is dit op ’n Saterdag tydens die besoeke wat hy net oor naweke mag ontvang of op die hartseer
samekoms van ’n roudiens.
Oscar sou na verwagting kort voor druktyd toestemming van die departement van korrektiewe dienste (DKD) ontvang om sy “Oupi”, sy laaste oorlewende grootouer, se roudiens op 13 November by sy tante Reine Malan (62) se Kleinkaap boetiekhotel in Pretoria by te woon, maar dit sou onder toesig van die DKD wees en hy sou net enkele ure buite die gevangenis toegelaat word om die diens by te woon.
Hy is ook verlede jaar op 10 Augustus toegelaat om die tronk tydelik te verlaat vir die roudiens van sy ouma aan moederskant, Joyce Bekker (93).
In dieselfde maand het oupa Hendrik 100 jaar oud geword, maar toe moes hy en die Pistorius familie die mylpaal sonder Oscar vier.
Toe Oscar destyds aangekla is van die moord op Reeva, het sy ouboet, Carl (nou 33), in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel: “Niemand se lewe bly onveranderd ná so ’n tragiese voorval nie. Niemand se lewe nie. As ’n mens deel is van ’n hegte familie en een van die familielede se lewe verander, dan verander die landskap van al die ander s’n.”
Die dag in November verlede jaar toe die appèlhof in Bloemfontein Oscar ’n swaarder vonnis (13 jaar en vyf maande) as sy aanvanklike vonnis van ses jaar opgelê het, was dit dus asof ’n vonnis ook oor die hegte Pistorius familie uitgespreek is – die wete dat hulle hom jare lank nie weer in die buitewêreld sal sien nie.
“Ons almal het ons eie lewe, en ons is almal ongelooflik g g geseën. Dit wat gebeur g het, is verskriklik, ongelooflik hartseer, maar ’n mens kan niks daaraan doen nie,” sê sy tante Sonia. “Ek besoek Oscar wanneer ek kan, maar die hartseerste is altyd om hom elke keer weer daar te los.”
OOK Oscar se pa, Henke (65), worstel met sy gevoelens. Hy dink elke dag aan hoe Oscar se vonnis sy seun se lewe tot stilstand geruk het, sê Henke. “Veral in die winter en in die aand, wanneer jy wonder of hy genoeg warm komberse het. Met die tyd het dit beter geraak, maar dit is steeds erg.” g
Al troos wat hy het, is dat dit ondanks sy omstandighede goed gaan met Oscar, sê Henke. “Dit gaan nou die beste met hom wat dit al gegaan het sedert die tragedie.”
Henke kan steeds nie aanvaar dat Oscar skuldig is aan moord nie.
“Dit is nie vir my aanvaarbaar dat hy daar is nie. Die proses is nog nie verby waardeur hy vroeër kan uitkom nie. Dit sal eers verby wees wanneer elke uitweg uitgeput is,” hou hy vol.
Henke vertel hy is trots op Oscar, wat hy as ’n modelge vangene beskryf. “Hy doen baie goed. Hy het ’n Bybelstu diegroep. Oscar was sy hele lewe lank gelowig. Ek onthou op hoërskool het hy en twee vriende weekliks bymekaargekom en Bybelstudie gehou.”
Hy glo Oscar “neem beheer” van sy situasie en maak die beste daarvan.
“Al drie my kinders is so. Hulle neem beheer. Hulle reguleer die prosesse, stel reëls en is georden.”
Oscar se kleinsus, Aimée (29), het hom tydens sy uitgerekte hofsaak getrou bygestaan, maar woon nou in Londen, waar sy vir’ n finansiële dienste groep werk.
“Dit gaan goed met haar. Haar aandag is maar by haar werk,” vertel Henke, wat van sy enigste dogter as sy “babatjie” praat.
Maar dan voeg hy by: “Solank Oscar se situasie nie verander nie, sal dit ’n demper op baie dinge plaas.”
Die afgelope paar maande het Aimée die wêreld vol gereis. In Oktober vanjaar
het sy in New York by ’n niggie ’n draai gemaak en kort daarna was sy in Barcelona, Spanje, vir ’n vriendin se hennepartytjie. Foto’s in die sosiale media wys hoe die klomp strooimeisies in eenderse swembroeke op ’n seiljag partytjie hou. Hulle klink glasies vonkelwyn en tussenin neem hulle foto’s om die sorgelose oomblikke vas te vang.
In Junie was Aimée saam met vriendinne by ’n polowedstryd, Chestertons Polo in the Park, wat as een van die hoogte punte op die kalender in die Engelse somer beskryf word.
Ouboet Carl, wat deesdae in die inligtingstegnologie bedryf werk, het vroee r vanjaar by Ai m é eind i e Britse hoofstad gaan kuier.
Oor Carl vertel Henke: “Dit gaan n goed met my kind. Hy’s ’n sterk mannetjie.”
Carl was vroeër bedrywig in die sosiale media en het gereeld foto’s en inspirerende aanhalings gedeel, maar deesdae is hy tjoepstil op Twitter en Instagram, en hy het sy Facebookprofiel gesluit.
Nes Oscar was Aimée en Carl geheg aan oupa Hendrik en sy vrou, wyle ouma Gerti, wat in Oktober 2016 oorlede is.
Ook Heidi sukkel nog om Hendrik, haar pa, se dood te verwerk. Hy sou vandeesmaand saam met haar Krugerwildtuin toe gegaan het, maar pleks daarvan hou hulle nou in dié tyd ’n roudiens vir hom.
Sy vertel Hendrik het tot aan die einde vas in sy kleinkind se onskuld en sy weergawe van die gebeure op Reeva se e doodsnag geglo: dat Oscar gedink het ’n n inbreker skuil in die badkamer toe hy Reeva in die vroeë oggendure van Valentynsdag 2013 deur die toe deur van sy meenthuis in Pretoria doodgeskiet het.
Hieroor sê Heidi: “Ek weet sonder twyfel Oscar het ’n groot fout gemaak, maar ek het ook tot vandag geen twyfel dat hy nie geweet het wie agter daardie deur is nie. Daardie kind – en ek sê kind, maar hy is vandag ’n man – is nie ’n moordenaar nie. Ek ken hom. Ek sien hom nog in my geestesoog as daardie seuntjie wat voor my grootgeword het.”
Haar hart breek steeds vir Reeva se familie, sê Heidi, maar sy glo die beeldskone model is per ongeluk doodgeskiet deur iemand wat vir haar lief was.
“Ons staan nie onsimpatiek nie; Reeva het haar lewe verloor. Maar ons kry ook swaar. Ek onthou nadat dit gebeur het, het die trane oor Oupi se wange gerol terwyl hy gesê het hoe jammer hy vir Reeva se ouers voel.”
Kort voor sy dood het Hendrik in ’n laaste onderhoud self aan Huisgenoot vertel hoe hy steeds oor Oscar gevoel het. “Ek het diep hier binne my gehuil. My kleinseun is nie ’n moordenaar nie. Hy is ’n gentleman. Gentle, but a man.”
Tydens Oscar se verhoor het al die familielede wat op ’n spesifieke dag in die hooggeregshof in Pretoria kon wees om hom by te staan eers soggens by haar broer Arnold se huis in Waterkloof bymekaargekom, vertel Heidi. “Dan het ons hande vasgehou en vir hom gebid.” Hulle bid vandag steeds vir hom, sê sy. Van die mense wat uit die buiteland gekom het vir Hendrik se roudiens, het hul reisreëlings juis so getref dat hulle Oscar in die gevangenis kon besoek.
Wat is Heidi se wens vir haar broerskind wanneer nog ’n eensame verjaardag agter tralies vir hom aanbreek?
Sonder aarseling antwoord sy: “Ons glo in jou. Byt vas. Ons sal hier wees die dag dat jy uitkom.”
“Ek wens hom net sterkte toe,” sê sy. “Hy moet net aanhou dapper bly.”
AL KAN sy nie vir hom ’n bord kos of sjokolade op sy verjaardag gee nie, wil sy tante Sonia vir hom “geloof en sterkte” toewens. “En vryheid. Dat hy sal kan uitkom. Dis nie lekker nie; ek hoop maar net hy bly sterk en dat waar hy is hom nie sal breek nie.
“Ons bid almal vir hom dat hy deur die ding sal kom en sy geloof sal behou.”
Sonia skryf gereeld briewe vir Oscar in die tronk, nes sy aktrise-niggie, Reine Swart, dogter van Reine Malan, Hendrik se jongste dogter.
“Ons probeer hom soveel moontlik inlig oor wat in ons lewe aangaan. Ek dink hy sal dit wil hoor en weet wat hier buite aangaan,” vertel Reine in ’n e-pos aan Huisgenoot.
“Hy kry briewe van mense oor die
wêreld heen wie se oë en harte helder kan sien en wat hom ongelooflik ondersteun. Daar is wonderbaarlike vriende wat vir hom en almal daar bid.”
Reine maak deesdae opgang in die Amerikaanse rolprentwêreld. Sy en haar man, Xander Swart, het ses maande gelede Los Angeles toe getrek nadat hulle ’n jaar lank in Portland, Oregon, gewoon het.
Die pragtige aktrise verskyn in die Amerikaanse kanaal Syfy se reeks Z Nation, en sy het ook ’n rol los geslaan in ’n nuwe rolprent, The Empty Man. Sy sal ook binnekort in twee ander flieks, Losing Addison en The Refuge, te sien wees.
Terwyl sy die wêreld vol reis, tref dit Reine gereeld dat Oscar nie meer daardie vryheid geniet nie.
“Dit is hartseer om so daaraan te dink”, veral omdat sy hom onthou as “’n lewendige seun wat van kleins af sonder bene sirkels om sy niggies en nefies gehardloop het”.
Terwyl haar nefie sy vonnis uitdien, bly hy in haar gedagtes en gebede. “Ek dink elke dag aan Oscar, wanneer ek gaan slaap en wanneer ek wakker word. Ons ondersteun hom deur vir hom te gaan kuier wanneer hy gereguleerde besoektye het.
“Ek kan maar net sê ek bid en ek bid en ek bid vir hom elke dag, byna elke oomblik van my lewe.”
Hoe familievas Oscar se binnekring is, het juis duidelik geblyk toe Reine in Mei ’n foto van haar gesinslede geplaas en daarby geskryf het: “Family is not an important thing. It is everything.”