’N VREEMDELING IN MÝ GRAF LANGS MY MAN
Sy het haar man se laaste wens eerbiedig deur vir haar die erf langs sy graf te koop, maar nou lê iemand anders daar
DIT was sy laaste wens wat hy voor sy dood met haar gedeel het: dat sy tot in der ewigheid aan sy linkersy sou lê wanneer sy die dag te sterwe kom. Dié versoek het haar geliefde man op sy doodsbed aan haar gerig, vertel die 81-jarige Isabella Kruger. Daar was niks vreemds aan sy sterwenswoorde nie, want in die Krugers se huwelik van 56 jaar was hulle nooit ’n nag weg van mekaar nie en het sy altyd aan dieselfde kant van die bed geslaap.
Daarom het Isabella twee dae nadat Marthiens in 2010 in die ouderdom van 77 aan prostaatkanker dood is twee erwe langs mekaar in die enkele begraafplaas op Steynsrus in die Vrystaat gekoop. Haar oorlede man sou in ’n graf op die een erf begrawe word en die erf aan sy linkersy sou vir haar gehou word.
Dit het haar laaste pensioengeld gekos om hul rusplekke langs mekaar te bespreek, sê Isabella en trek haar gesig dat haar ouderdomsplooie so frommel. Maar niks sou haar keer om Marthiens se laaste wens te bewaarheid nie. Tog is haar belofte aan haar geliefde man ’n paar jaar later verbreek – en dit deur ’n derde party.
Isabella is met afgryse gevul toe sy kort voor Nuwejaar in 2015 op ’n vroegoggend na die begraafplaas stap om wilde blomme op haar man se graf neer te lê. Daar, waar haar graf eendag moes kom, het ’n hopie klippe en grond gelê. Iemand anders het sowaar langs haar Marthiens tot rus gekom – en boonop aan sy linkersy.
Ontstig het sy na haar dogter se huis op die dorp teruggekeer en die 500 m van die voordeur tot by die kantoor van die Moqhaka-munisipaliteit gestap om by die owerheid te gaan hoor wie dan in haar graf lê. Maar vergeefs.
Weer en weer het sy by die owerheid gaan aanklop, maar telkens moes sy sonder ’n antwoord terugkeer huis toe. En nou, drie jaar later, wil sy dringender as ooit weet: Hoekom lê iemand anders begrawe aan haar man se linkersy, en wat moet sy dan doen om haar graf terug te kry?
In haar negende dekade raak haar dae hier op aarde immers ál minder.
Sy kon destyds sommer aanvoel haar ontslape Marthiens is ontsteld met dié dat ’n ander mens as sy langs hom rus, vertel die bejaarde vrou met die netjiese grys hare. Maar die munisipaliteit wou glo niks weet nie: Dis hul fout, het die owerheid glo erken, maar sy sal elders moet lêplek vind. “Ek het vir hulle gesê dis mý graf; dis waar ék gaan lê. Toe sê hulle ek moet sommer bo-op my man begrawe word,” sê sy opnuut geskok.
“G’n vrou kan mos tot in der ewigheid bo-op haar man lê nie; dis waansin. Ek wil aan sy linkersy lê – nes ons altyd ’n bed gedeel het.” Toe bied die owerheid glo aan om die graf aan Marthiens se regtersy vir Isabella te gee, “sommer daar in die voetpaadjie waar almal oor my kan loop”. Sy skud haar kop vies. “Dis sommer bog. Hulle ken nie dié tannie nie . . .”
En dis wragtig so, want net daar spring sy op en jaag ’n onwelkome roofvoël van die stoep af. Dié tannie vat nie nonsens nie, en daardie graf gaan waarskynlik nog lank nie benodig word nie . . .
SY YONTHOUdi ONTHOU die dag d van haar h man se dood soos gister, vertel Isabella in die sitkamer van haar dogter, Petro BothaPretorius ( 52), se huis op Steynsrus. Dit was ’n slag, vertel sy, maar nie ’n skok nie.
Prostaatkanker is in 2005 by hom gediagnoseer. Dit was die laaste slag nadat hy in die jare tevore – toe hy nog ’n bakker was en later vir die departement van openbare werke gewerk het – ’n “hand vol hartaanvalle” gehad het, verduidelik sy. “Geen twyfel het bestaan dat sy diagnose ’n doodsvonnis is nie,” vertel Isabella, destyds ’n tuisteskepper.
“Ek en Marthiens het ons lewe lank na aan mekaar geleef. Die dag toe kanker by hom gediagnoseer word, het ek geweet die einde van ons pad saam is nou in sig. Ek het geweet die Here gaan hom binnekort kom haal.”
In 2008 het die egpaar weens Marthiens se verswakte gesondheid sak en pak by Petro ingetrek sodat sy haar ma met die versorging kon help. Vandag is Petro steeds haar steunpilaar, sê Isabella, en druk haar dogter se hand vas.
Isabella vertel Marthiens het ’n moedige stryd teen die siekte geveg, maar hy het in 2010 hoop verloor toe die kanker sy hele liggaam oorneem.
Marthiens is daardie jaar op 18 Julie in sy slaapkamer in Petro se huis oorlede.
“Ek was minute voor sy dood nog by hom in die kamer . . .” sê Isabella en haar stem bewe.
“Hy het my nog gevra of ek nie tog vir hom ’n koppie tee wil maak nie. En toe vra hy ’n soentjie. Ek was in die gang op pad na die kombuis toe ek ’n verskriklike beklemming om my hart voel. Ek het geweet iets is fout, en toe ek in die kamer kom, was hy reeds weg. “My Marthiens . . . weg nadat ek my bokkie die laaste keer gesoen het.”
Net dae vantevore het sy neffens hom op die bed gesit toe hy oor sy dood begin praat het, vertel sy.
“Ek was teëstribbelrig; ek wou nie oor die dood praat nie. Maar dit was vir hom belangrik. Hy het vir my gesê in al die dekades dat ons getroud is, was ek nog altyd aan sy linkersy . . . En wanneer ek sterf, wil hy hê ek moet aan sy linkersy lê, nes ons altyd ’n bed gedeel het.”
Sy swaai ’n vel papier rond. “Kyk,” sê sy, “toe gaan koop ek erwe nommers 99 en 100 – en dit met die laaste geld wat daar oor was.” Woedend sê sy: “Nou wil mense vir my sê ek moet dit laat gaan; dis nie so ernstig nie. Bog! Dis my lêplek daardie – ek soek dit terug.”
Vererg vertel sy hoe vies sy vir die munisipaliteit is. “My mond het oopgehang toe hulle vir my sê: ‘Tannie moet sommer bo-op die oom gaan lê.’ ’n Vrou se plek is langs haar man . . .
“Toe ek aanhou baklei, stel hulle voor ek moet in erf 100A begrawe word. Maar dis op die voetpaadjie, dan gaan almal oor my loop. Hulle kan tot vandag toe nie vir ons sê wie langs my man lê nie. Hy sal mos nooit kan rus met ’n vreemde mens langs hom nie. Daar is geen registers of enige rekordhouding van die begraafplaas nie.”
Sy begin lag. “Nou is daar nóg ’n nuwe storie: Die munisipaliteit sê hulle kan my Marthiens opgrawe en ons elders saam laat rus.” Maar dit sal oor haar dooie liggaam gebeur, sê sy.
“Ek wil by hulle weet hoekom hulle nie die ander persoon opgrawe en hom of haar by geliefdes laat rus nie, maar al wat ek hoor, is ’n doodste stilte.”
Sy huiwer ’n oomblik. “Eers wou ek dit aanvaar, maar toe dink ek to hell with
that. Ek is 81 jaar oud. Ek gaan nie geboelie word nie. Ek sal sommer langs my man gaan lê net voor ek sterwe. Dis my grootste wens; my heel laaste een. Ek het klaar my Marthiens verloor; ek gaan nie my plek langs hom ook verloor nie.”
OP Marthiens se graf is ’n granietkruis en ’n houer met twee los plastiekblomme. Dit breek haar hart, sê sy, dat haar man nie ’n behoorlike grafsteen het nie. “Geld was maar nog altyd ’n kwessie . . . Dis hoekom dit vir my so belangrik is om langs my man begrawe te word – dis al wat ons nog het.”
Op die erf aan Marthiens se linkersy is steeds net ’n hoop klippe, en ná drie jaar ook nog geen steen om te identifiseer wie in die erf begrawe is nie.
Maar as dit van Isabella afhang, is dit in elk geval net tydelik. Want die jare rol verby, en daardie graf is háre.
By navraag sê Dika Kheswa, woordvoerder van die Moqhaka-munisipaliteit, hy is onseker waaroor die skielike bohaai gaan, veral omdat Isabella volgens hulle ingestem het om aan haar man se regtersy begrawe te word.
“Dit is uit en uit die munisipaliteit se fout dat iemand per ongeluk op mev. Kruger se erf in die Steynsrus-begraafplaas begrawe is,” erken hy egter.
“Ons is jammer daaroor en kan die frustrasie verstaan wat dit vir haar veroorsaak, maar ons het ooreengekom om ’n ander erf vir haar aan te wys en sy was tevrede met die oplossing.”
Hy sê dis nie moontlik om die oorskot van die liggaam in erf no. 99 op te grawe nie. Die munisipaliteit weet ook nie aan wie die oorskot behoort nie.
‘G’n vrou kan mos tot in der ewigheid bo-op haar man lê nie; dis waansin’