Huisgenoot

OPLAAS VRY UIT MY TRONK-LYF

Ryan was 22 jaar vasgevang in ’n liggaam waarin hy nie tuis gevoel het nie – toe word hy die pragtige vrou Ryanne

- Deur SHANAAZ PRINCE Foto’s: ROWYN LOMBARD

SO LANK as wat sy kan onthou, het sy geweet hoe sy aan die buitekant lyk, pas nie by hoe sy aan die binnekant voel nie. Selfs as tweejarige seun het sy haar ma se hoëhakskoe­ne aangetrek en deur die huis gewaggel – en gelukkiger gevoel as wat sy ooit in ’n kortbroek en T-hemp was.

Destyds was sy Ryan, en 22 jaar lank was sy vasgevang in ’n liggaam wat sy gevoel het nie aan haar behoort nie.

Maar waar sy nou op die balkon van haar huis in Boksburg, Gauteng, sit, is Ryanne Bold (25) eindelik tevrede en volkome haarself: ’n pragtige vrou, stralend en elegant in ’n gestreepte katpak met swart hoëhakskoe­ne daarby.

Langs haar sit haar man, Jonathan (27). Ryanne hou sy hand vas terwyl sy met Huisgenoot gesels oor haar reis van man tot vrou wat haar meer as R300 000 van haar eie geld gekos het.

Dit was nie ’n maklike pad nie. Haar kinderjare was ’n gedurige nagmerrie van afknouery en diskrimina­sie; van haar man se vriende het hom teen haar probeer draai toe hulle van haar verlede uitvind; en haar mediese fonds wou nie vir haar geslagsver­andering betaal nie, want sy het beperkte dekking gehad.

Tog was daar ook aanvaardin­g en steun tydens haar oorgang na die mens wat sy altyd wou wees.

Vandag wil sy haar storie vertel met die hoop dat sy ander mense wat hulle in ’n soortgelyk­e situasie bevind, sal inspireer en aanmoedig.

“Dis regtig onregverdi­g dat mense jou sommerso beoordeel,” sê sy. “Ek het nooit enigiets gedoen om enigiemand anders kwaad aan te doen nie.”

RYANNE se skooldae was moeilik. Sy het nie aan sport deelgeneem nie, en omdat daar iets “anders” aan haar was, is sy genadeloos geterg. “Ek het skoolberad­ers besoek, want ek is verskrikli­k geboelie,” vertel sy. “Hulle het die ‘diagnose’ gemaak dat ek gay is.”

Kinders sou “gay seun” vir haar skree en sy het elke dag mishandeli­ng verduur. Toe sy in gr. 5 was, het ’n gr. 7-seun haar kop teen ’n muur gestamp.

“My lewe was ’n volslae hel,” sê sy. “Ek het een jaar van hoërskool bygewoon, en naby die einde daarvan het ’n ander ma my ma gebel en gesê: ‘Jy moet jou kind uit die skool haal.’ ”

Haar ma, Annerie (51), en stiefpa, Colin (62), het haar daarna tuis onderrig. Ryanne het ure in haar kamer deurbring en alles wat sy kon aanlyn gelees oor transgende­r-wees.

Toe sy 22 was, het sy haar ma van haar plan vertel om ’n geslagsver­andering te ondergaan. Annerie was nie verbaas nie. “Sy het dit verwag,” sê Ryanne.

Sy het toe haar base by die ondernemin­g waar sy destyds gewerk het van haar plan vertel om chirurgie te ondergaan. Hulle was ondersteun­end, het haar toestemmin­g gegee om lang tye met verlof te wees en gereël dat sy kliënte in haar nuwe gedaante herontmoet.

“Ek het my oornag hervoorges­tel. Die een dag het ek as ’n man gaan werk; die volgende dag was ek ’n vrou,” sê sy. Haar kollegas het selfs vir “Ryan” ’n afskeidspa­rtytjie gehou.

Voor die operasie het Ryanne laserbehan­delings begin kry om hare aan sommige dele van haar liggaam te verwyder, haarverlen­gings aan ander laat insit en voorgeskre­we hormone geneem om haar borste te laat ontwikkel.

In Februarie 2015 het sy ’n orgiëktomi­e– die verwyderin­g van albei testikels – ondergaan en in Desember daardie jaar het sy na Kaapstad gevlieg om die rekonstruk­tiewe chirurg dr. Kevin Adams te raadpleeg.

Sy was vyf dae in die hospitaal aan ’n kateter, met ’n “sokkie” van gaas in haar nuutgevorm­de vaginale kanaal om te keer dat die wande aan mekaar vasgroei.

Toe ontwikkel komplikasi­es en was sy nie in staat om te urineer nie. Sy moes ’n noodoperas­ie ondergaan om weer ’n kateter te laat insit. Sy is twee dae voor Kersfees ontslaan en het na Johannesbu­rg teruggevli­eg.

Enkele dae later, op die dag ná Kersdag, het sy in ’n poel bloed wakker geword en is sy hospitaal toe gehaas.

“My uretra het van die vel weggeskeur. My bloeddruk het na iets belagliks soos 35 oor 40 gedaal, en ek het die paramediku­s hoor sê: ‘Sy’s op pad uit,’ ” vertel Ryanne. Sy raak emosioneel toe sy terugdink aan daardie skokoombli­k.

Sy is na die teater gehaas en vier dae in die hoësorgeen­heid gehou, waar sy vier bloedoorta­ppings moes kry.

“Tien dae daarna is die kateter verwyder – en dit was die einde van enige fisieke probleme.”

MET elke verbygaand­e dag het Ryanne gemakliker in haar nuwe lyf gevoel.

En toe ontmoet sy en Jonathan mekaar in April 2016 op ’n partytjie. “Ek het net hierdie pragtige meisie sien inkom. My asem was weggeslaan,” sê Jonathan, wat in die veiligheid­sbedryf werk.

Daardie aand het hulle die eerste keer gesoen. Nadat hulle twee weke lank in ’n verhouding was, het hy heel toevallig van haar verlede uitgevind.

Hulle het die naweek op Brits, Noordwes, by Jonathan se neef deurgebrin­g. Die ouens het krieket gespeel, en terwyl Jonathan op die veld was, was Ryanne op die paviljoen toe iemand vermoedeli­k haar drankie dokter en sy siek word.

“Ek het haar na die naaste hospitaal geneem en moes haar mediesefon­dskaart en ID gee,” vertel Jonathan. “Dis toe dat hulle vir my sê die mens op haar ID is nie dieselfde mens nie. Hulle het gesê haar ID is vir ’n meneer.”

Ryanne wou dadelik die verhouding beëindig. Sy het gedink Jonathan sou niks meer met haar te doen wou hê nie, maar sy reaksie het haar verras.

“Ek het gesê: ‘Jy gaan nêrens nie,’ ” vertel Jonathan. “Ek het vir haar gesê: ‘Ek is lief vir jou oor wie jy is. Wat ook al gebeur, ons kan dit uitwerk.’ ”

’n Week later het hulle in ’n woonstel in Centurion ingetrek.

Maar Jonathan se vriende was nie so aanvaarden­d nie. Sy foon is bestook met boodskappe van mense wat hom aanspoor om Ryanne te los, want sy is nie “’n regte vrou” nie.

Toe hulle hom nie kon oorreed nie, het hulle Jonathan se pa in die hande gekry.

“Hy het hewig ontsteld geraak, maar my nooit daaroor gekonfront­eer nie,” sê Jonathan. “My ma was ook ontsteld en het gevoel ek moes haar vertel het, maar ons wou dit stil hou.”

“Dit was nie oor ons dit ’n geheim wou hou nie,” sê Ryanne. “As jy my leer ken vir wie ek regtig is, hoekom moet jy oor my verlede weet?”

Nadat hulle drie maande uitgegaan het, het Jonathan Ryanne se ma se toestemmin­g gekry om haar die jawoord te vra. En in November 2016 is die twee op ’n klein plegtighei­d in Muldersdri­ft, wes van Johannesbu­rg, getroud.

Hulle wil nou ’n baba aanneem. “Ons het ses uur van berading oor,” sê Ryanne opgewonde. “Wanneer dit klaar is en ons as voornemend­e ouers goedgekeur is, sal ons enigiets van een dag tot vier jaar vir ’n baba wag.”

Ryanne, wat nou in die invoer-uitvoerbed­ryf by ’n logistieko­nderneming werk, is optimistie­s oor die toekoms. Sy glo as sy openlik praat, sal mense haar meer aanvaar en dat ander mense wat dieselfde dinge beleef as wat sy ervaar het ook gemakliker in hul vel sal voel en vry om te wees wie hulle werklik is.

“Toe ek 18 was, wou ek my eie lewe neem. En kyk nou. Jy moet doen wat jy moet doen om jou geluk te vind.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Jonathan en Ryanne Bold saam met hul hondjie, Annekat. Ryanne het drie jaar gelede ’n geslagsver­andering ondergaan ná 22 jaar waarin sy gevoel het sy is in die verkeerde lyf. BO: Ryanne as seun.
HOOFFOTO: Jonathan en Ryanne Bold saam met hul hondjie, Annekat. Ryanne het drie jaar gelede ’n geslagsver­andering ondergaan ná 22 jaar waarin sy gevoel het sy is in die verkeerde lyf. BO: Ryanne as seun.
 ??  ?? Vir eers kry die egpaar se worshond al die aandag, maar hulle beplan om ’n baba aan te neem sodra die aansoekpro­ses afgehandel is.
Vir eers kry die egpaar se worshond al die aandag, maar hulle beplan om ’n baba aan te neem sodra die aansoekpro­ses afgehandel is.
 ??  ?? LINKS BO: Ryanne en J Jonathan het mekaar kort ná haar operasie ontmoet. REGS BO: Hulle is getroud ná ’n warrelwind­romansewar­relwin van net ’n paar maande – ondanks die reaksie van baie van Jonathan se vriende oor Ryanne se verlede.
LINKS BO: Ryanne en J Jonathan het mekaar kort ná haar operasie ontmoet. REGS BO: Hulle is getroud ná ’n warrelwind­romansewar­relwin van net ’n paar maande – ondanks die reaksie van baie van Jonathan se vriende oor Ryanne se verlede.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa