VOLWASSENES VOL DRAADWERK
Draadjies is lankal nie meer net iets vir tieners nie. Kenners sê hoe jy jou vir ’n mooi en gemaklike glimlag bedraad
EK IS nie mal oor tandarts toe gaan nie en dié besoek sou net ’n roetineondersoek gewees het. Darem nie te erg nie, het ek gedink. Maar die tandarts was lank besig en ek het begin bekommerd raak. Eindelik het sy haar bevinding gemaak: “Ek dink draadjies is iets wat jy ernstig moet oorweeg.” Ek het byna flou geval. Wat? My gedagtes was ’n warboel. Ek is ’n volwassene; 30 jaar oud. Ek sal op geen manier die wêreld in die gesig kan kyk met draadjies aan my tande nie.
Ek weet nie hoekom die idee daaraan vir my so erg was nie, want sterre soos die akteurs Tom Cruise en Nicolas Cage en die sangers Gwen Stefani, Estelle en Niall Horan het almal breed bly glimlag toe hulle as volwassenes draadjies moes dra.
Tot my skaamte was my eerste gedagte: Waar gaan ek nou ’n man kry? En hoe gaan ek weer ’n selfie neem sonder om mense met my blikgrynslag te verblind?
Maar teen die tyd dat die tandarts verduidelik hoekom draadjies die beste oplossing is vir my tande – skeef nadat verskeie deur die jare getrek moes word – begin my gesonde verstand inskop. Nou, ’n paar weke later, oorweeg ek dit. Draadjies is lankal nie meer iets wat net tieners dra nie en ortodonsie vir volwassenes het in die afgelope dekade beduidend toegeneem en ontwikkel, sê dr. Muhammed Kaka, ’n ortodontis van Greenside in Johannesburg.
“Volgens beskikbare data het die getal volwassenes wat ortodontiese behandeling ontvang sedert 1996 met byna 40% toegeneem,” sê hy. “Ons sien dit in ons praktyk ook. Ál meer volwassenes wil ’n volmaakte glimlag en gebit hê.”
Die Johannesburgse ortodontis dr. Andre Hugo beaam dit. Ook in sy praktyk sien hy ál meer volwassenes wat besluit om draadjies te dra. “Ons ervaar ’n toenemende vraag, en ek glo dit sal nog meer groei omdat mense ál meer bewus word van die behandelings wat vir hulle beskikbaar is.”
Muhammed sê dit word om kosmetiese redes gedoen soos om die glimlag en voorkoms van die gesig te verbeter. Dit word ook voorgeskryf ter wille van mondhigiëne, ’n beter bytfunksie, beskerming van die kaak en om skade aan tande of kake weens byvoorbeeld ’n foutiewe byt te voorkom.
Hy sê as pasiënte die behandeling uitstel, kan hulle op die lange duur moont- lik krone benodig, of behandeling om latere skade aan die tande of kake te herstel.
Hoe lyk die vooruitsig as jy met skewe tande of ’n ongemaklike gebit sit?
Klop eers by ’n ortodontis aan
Wanneer jou tandarts aanbeveel dat jy draadjies oorweeg, is die eerste stap daarna om ’n geregistreerde ortodontis te besoek, sê Muhammed.
’n Ortodontis is ’n gespesialiseerde arts wat vier jaar langer as ’n tandarts studeer het om in ortodonsie, die behandeling van skewe tande of ’n skewe gebit, te spesialiseer.
Die ortodontis sal eers X-strale van jou tande en kakebeen neem. Die arts sal ook waarskynlik ’n gietvorm maak om die grootte van jou tande te bepaal en hoe dit op en langs mekaar pas. Dit sal die spesialis help om die regte behandelingsplan vir jou te skep.
Andre sê dit is belangrik om aan jou geliefdes te verduidelik waarom jy die stap oorweeg om draadjies te kry sodat hulle jou kan steun.
“Draadjies is vir sommige mense nog-
al ongemaklik, en motivering en steun van geliefdes is baie belangrik,” benadruk hy.
Die opsies wat jy kan oorweeg
Draadjies kan deesdae minder opvallend wees danksy tegnologiese verbeterings. Verskeie opsies kan in oorleg met jou ortodontis oorweeg word: Tradisionele draadjies: Dit word van hoëgraadse vlekvrye staal gemaak en is die algemeenste soort. Elke tand word aan ’n metaalklampie geheg wat met ’n steundraadjie aan die volgende klampie verbind word. Dit plaas drukking op die tande en help dat dit na die regte posisie beweeg.
Staaldraadjies kos tussen R20 000 en R30 000 vir matige probleme (opvolgbesoeke, aanpassings, rekke en toestelle ingesluit). Die prys kan hoër wees vir ernstiger probleme.
Keramiekdraadjies: Dit word van kleurlose of tandkleurige keramiekmateriaal gemaak wat met jou tande inskakeer. Dit vertoon minder opvallend. Dié soort draadjies kan voldoende wees, maar dit is nie heeltemal so doeltreffend soos metaaldraadjies nie, sê Andre.
Muhammed glo egter dit is net so doeltreffend. Die enigste verskil is die voorkoms.
Dié soort is duurder; dit kos sowat R4 000 meer as die tradisionele draadjies (opvolgbesoeke, aanpassings, rekke en toestelle ingesluit).
Tongdraadjies: Dit is soortgelyk aan metaaldraadjies, maar vertoon minder opvallend omdat dit aan die binnekant van die tande geplaas word. Dit kos vanaf R40 000 (opvolgbesoeke, aanpassings, rekkies en toestelle ingesluit).
“In my ervaring is tongdraadjies agter die botande doeltreffend saam met tandkleurige keramiekdraadjies vir die onderkaak. Tongdraadjies onder is nie so gerieflik of doeltreffend nie,” sê Andre.
Hy sê min ortodontiste bied tongdraadjies, want dit is moeilik om in te sit en ander alternatiewe werk ewe goed. Invisalign (deursigtige rigters): Dit is ’n kleurlose plastiekgebit wat oor jou tande pas, amper soos ’n mondskerm wat in sport gedra word. Dit is diskreet en jy kan dit uithaal wanneer jy byvoorbeeld na ’n partytjie toe gaan. Dit is die duurste opsie; dit kos sowat R70 000 (alles ingesluit).
Pasiënte moet elke 10-14 dae ’n nuwe stel kry om by die veranderende gebit aan te pas. Dit word met ’n 3D-drukker vir jou gemaak sodat dit volmaak in jou mond pas.
“Invisalign is ’n wonderlike opsie as die behandelingsplan goed uitgewerk word deur die ortodontis en die pasiënt die opdragte presies uitvoer,” sê Andre.
Hy waarsku as die voorskrif verkeerd uitgewerk word en die gebit nie reg pas nie, kan jou tande verkeerd skuif en ander komplikasies voorkom.
Is dit seer?
Dit voel min of meer dieselfde as vir tieners. “Jou mond kan in die eerste paar dae seer wees en die tande kan sensitief wees wanneer jy daarop byt, maar dis normaal,” sê Muhammed.
Anti-inflammatoriese middels kan verligting bring.
Die eerste paar dae sal ongemaklik wees terwyl die tande na hul nuwe posisie beweeg. Daarna sal dit nie meer beweeg nie, maar sal dit in plek gehou moet word sodat nuwe been vorm en die tandvleis en been vervorm. Tydens dié fase het die pasiënt nie veel ongemak of pyn nie.
Muhammed sê volwassenes laat dikwels bykomende werk aan hul tande doen, onder meer die gebruik van krone of implantate en tandvleis- of kaakchirurgie om hul gebit te verbeter.
In sulke gevalle is die ortodontis die “argitek” wat ’n plan vir jou mond ontwikkel. Ander spesialiste, soos ’n tand- arts of chirurg, sal die bykomende werk of prosedures dan uitvoer.
Hoe lank moet jy die draadjies dra?
Dit sal afhang van die probleem wat herstel word en watter soort draadjies jy dra, sê Andre.
Dit kan van ses maande tot twee jaar duur. Pasiënte sal hul orto dontis in dié tyd elke vier tot ses weke moet besoek.
Hoe bekostig jy dit?
Sommige ortodontiste laat hul pasiënte toe om die bedrag in paaiemente af te betaal. ’n Mens kan dan 25% van die koste van jou behandeling as eerste afbetaling en daarna die balans in gelyke paaiemente oor die geskatte behandelingstydperk betaal, sê Andre.
Muhammed sê egter alles hang van die praktyk en mediese fonds af. Almal werk anders en die struktuur wissel van plek tot plek.
Die meeste mediese fondse dek ortodontiese behandeling gegrond op hul spesifieke tariewe en jou beskikbare spaarfonds.
Baie ortodontiste vra 50-100% meer as die mediesefondstarief; dus is dit belangrik om vooraf by jou mediese fonds uit te vind hoeveel dekking jy het sodat jy nie later onaangenaam verras word nie.
Maar teen daardie tyd behoort jy darem met selfvertroue te kan glimlag. EKSTRA BRONNE: ORALB.COM, COLGATE.COM