Huisgenoot

’N VRAAT WEENS DIE LIEFDE

As ‘die wêreld se vetste man’ het hy 298 kg verloor, maar ná ’n liefdestel­eurstellin­g eet hy nou dag en nag

- Saamgestel deur KIM ABRAHAMS

WEES op die uitkyk na die man op die gemotorise­erde karretjie – hy is op kringtelev­isie vasgevang waar hy sy mandjie vol kruidenier­sware laai en die winkel dan verlaat sonder om te betaal. Dit was die opdrag aan veiligheid­swagte by die supermark, allermins iets ongewoons in ’n winkel waar goed soms gegaps word.

Toe dié dief sy streke weer uithaal, het hulle op hom toegesak en hom met naskeermid­del, parfuum, foonlaaier­s, ’n Star Wars-figuurtjie en oorfone vasgetrek. Die man het beweer hy het vergeet om vir die buit van altesaam R3 200 te betaal, maar die sekuriteit­sbeamptes by Walmart in Orange in die Amerikaans­e deelstaat Massachuse­tts wou dit nie daar laat nie.

Hy is in hegtenis geneem en van winkeldief­stal aangekla. As hy skuldig bevind word, kan hy tot ’n jaar tronkstraf of ’n boete van R21 500 kry.

Dit klink dalk nie na ’n besonder nuuswaardi­ge voorval nie – tot die storie ontknoop van die man wat daardie dag in hegtenis geneem is . . .

Hy is Paul Mason, wat in 2010 die vetste man ter wêreld genoem is. Hy het later ingrypende chirurgie ondergaan om hom te help om gewig te verloor en sy lewe weer op koers te kry.

Paul het selfs op ’n Amerikaans­e vrou verlief geraak en van sy geboortedo­rp, Ipswich in Engeland, na Amerika getrek om by haar te wees. Die twee het verloof geraak en sy het haar geliefde gehelp om sy verslankin­gsprogram op dreef te hou. Sy was ook aan sy sy toe hy chirurgie ondergaan het om 25 kg oortollige vel te laat verwyder nadat hy die vet laat wegsmelt het.

Maar hul verhouding het verbrokkel – en Paul se gesonder leefstyl het ineengesto­rt.

Trouens, hy is deesdae weer amper so vet soos hy destyds was. Hy eet so te sê dag en nag, erken hy self. Hy wil nou na Engeland terugkeer vir ’n operasie om ’n maagkram te herstel wat as gevolg van sy vraatsug ’n breuk gevorm het. Hy is ook desperaat om ’n dubbele knie-oorplantin­g te ondergaan – alles op onkoste van Brittanje se gratis gesondheid­sorgprogra­m, National Health Service (NHS).

Vriende van Paul vertel hulle vrees hy “is besig om te vryval”, en ’n nuwe dokumentêr, The Worlds Fattest Man – The American Adventure, skets ’n donker prentjie oor sy agteruitga­ng.

“Dit was ’n moeilike paar jaar vir Paul,” sê David Pounds, die dokkie se vervaardig­er. “Hy moes die verbrokkel­ing van sy verhouding en depressie verwerk en het as gevolg daarvan gewig aangesit. Sy kosverslaw­ing het regtig oorgeneem. Nou word hy van winkeldief­stal beskuldig.”

Maar mense op Ipswich is nie so simpatiek nie. “Om die land te verlaat en terug te kom net omdat ons ’n gratis NHS het, is verkeerd,” sê ’n inwoner. “Hy moet nie net na sy gewig kyk nie, maar na hoe hy dink en voel sodat hy beter opgewasse kan wees wanneer dit nie met hom goed gaan nie.”

Maar David sê Paul (54) het geen ander keuse as om terug te keer huis toe nie. “Hy het voorheen veiligheid­snette gehad, maar nou is daar niks om hom te vang nie. Hy weet nie waarheen anders om hom te wend nie. Die koste is net te hoog in Amerika.”

PAUL was nie altyd oorgewig nie en het eers die vetjies begin aanpak nadat sy pa, Roy, ’n voormalige militêre polisieman, dood is kort nadat Paul hoërskool voltooi het. ’n Mislukte liefdesver­houding met ’n

vrou 15 jaar ouer as hy het gevolg en hy “het geëet om die kraak in my hart te vul. Dis soos alkohol vir ’n alkoholis. Ek het sowat R320 per week aan sjokolade bestee,” het hy in die 2011-dokumentêr Britain’s Fattest Man gesê.

Teen 2002 het hy 356 kg geweeg en sy organe het onder die las gely. Toe hy eenmaal hospitaal toe moes gaan, was hy so groot, ’n 1,6 m hoë venster moes uit sy huis verwyder word sodat hy met ’n vurkhysert­rok uitgehaal kon word.

Toe sy ma in 2009 sterf, het sy gewig tot 381 kg toegeneem. Hy was so groot, hy kon nie eens haar begrafnis bywoon nie.

Paul was so te sê ’n invalide. ’n Span van sewe NHS-versorgers het hom drie keer per dag besoek om vir hom te kook en skoon te maak. In ’n stadium het hy sowat 84 000 kilojoules per dag ingeneem – sowat 10 keer soveel as wat ’n deursneema­n nodig het.

’n Tipiese ontbyt was vier stukke wors, vier eiers, twee stukke braaibrood en ’n hoop aartappelk­oekies. Teen tienuur het hy aan worsrolle en pasteie weggelê en vir middagete het hy vier porsies vis-entjips en twee kebabs verorber. “Saans het ek gebraaide aandetes, kerries, tjips en pizza ingestop,” sê hy. Hy het ook 30 tot 40 sjokolades­tafies en sowat 72 pakkies tjips deur die dag geëet.

Dit was ’n onbenydens­waardige gedoente om hom skoon te hou. Versorgers moes diep tussen reuse-inhamme vlees afvee om te probeer keer dat bedsere en blase vorm. Hy kon nie toilet toe gaan nie en doekies is vir hom aangesit om sy uitskeidin­g op te vang.

Teen 2010 het hy die Britse belastingb­etaler sowat R1,1 miljoen per jaar vir behuising, kos en mediese uitgawes gekos. Op sy swaarste, in 2011, het Paul die skaal op 454 kg getrek. Hy het eindelik ’n maagomleid­ing ondergaan en 127 kg verloor, maar op 253 kg was hy steeds ’n swaargewig.

Hy was mistroosti­g en het bekendgema­ak hy gaan die NHS dagvaar, want die organisasi­e “het nagalaat om my my verslawing aan kos te help beheer.

“Ek soek vergoeding vir die lyding en verlore jare.”

Dis glad nie verbasend nie dat baie Britse burgers woedend was. “Ek is ’n enkelouer, nie deur my toedoen nie, met ’n gestremde kind en ek kan nie dié soort geld vir my seun kry nie,” het ’n vrou aan ’n koerant geskryf. Nogtans het Paul volgehou sy grootte is nie sy skuld nie.

“Die NHS moes my gehelp het sodat ek nie in die eerste plek al die gewig aangesit het nie,” het hy volgehou.

ANDERKANT die oseaan was iemand egter nogal ingenome met Paul se toestand: Rebecca Mountain, ’n vegetariër en vervaardig­ingsbaas van Amerika, het die dokkie Britain’s Fattest Man gekyk en dit het haar geroer. Sy het in daardie stadium net 52 kg geweeg.

Sy het Paul in 2013 gekontak en die volgende jaar het hy na Amerika getrek om by haar te wees. Hulle het verloof geraak en in Mei 2015 het Paul walle oortollige vlees tydens ’n operasie van nege uur in New York laat verwyder – ’n operasie van R546 000 wat vier plastiese chirurge ingestem het om gratis te doen.

Een van die dokters, Jennifer Capla, wat in die verwyderin­g van los vel spesialise­er, het aan die New York Times gesê sy het nog nooit iemand geopereer wie se gewigsverl­ies so ekstreem was nie.

In daardie stadium het Paul altesaam 298 kg verloor en dit het gelyk of dit goed gaan met sy lewe. Maar sy verhouding het swaargekry. “Paul is nie ’n maklike man om mee saam te leef nie,” sê David. “Hy het altyd aanmoedigi­ng en steun nodig. Ek dink Rebecca het gevoel die verhouding het balans verloor. Hy het opgehou om goed in en om die huis te doen. Sy is ’n taamlik gefokusde vrou en dié goed het haar geïrriteer.

“Hy’t vir haar gesê sy gee hom nie die emosionele steun wat hy nodig het nie. Hulle het uitmekaarg­edryf.”

Nadat Rebecca vort is, het Paul vinnig weer in sy ou gewoontes verval. Hy het meer as 100 kg aangesit, die meeste van die tyd in die bed gebly en sy kooktoeste­l en yskas na sy slaapkamer geskuif.

“Hy eet basies deur die nag,” sê David. “Hy is nie honger nie. Hy eet, want hy is depressief en verslaaf. Dit is ’ n bose kringloop.”

Paul moes vroeër vanjaar twee tone weens artritis laat afsit en drink glo pynstiller­s en medisyne vir toestande soos diabetes, weefselont­steking en bloedarmoe­de. “Ons rolprent wys hoe dramaties dit vir Paul is net om rond te beweeg. Dit is regtig nie maklik nie,” sê David.

“Maar Paul is ’n oorwinnaar. Wanneer hy wil, kan hy drasties gewig verloor. Hy het net die regte fokus en die regte mense om hom nodig.” BRONNE, DAILY MAIL, GQ, NEW YORK TIMES, THE SUN, CLOSERONLI­NE, ISPWICH STAR

 ??  ?? HOOFFOTO: PaulMason Paul Mason op sy swaarste, toe hy byna ’n halfton geweeg het. BO: Hy is die wêreld se vetste man genoem en het van Brittanje na Amerika getrek nadat hy sy voormalige verloofde, Rebecca Mountain, ontmoet het.
HOOFFOTO: PaulMason Paul Mason op sy swaarste, toe hy byna ’n halfton geweeg het. BO: Hy is die wêreld se vetste man genoem en het van Brittanje na Amerika getrek nadat hy sy voormalige verloofde, Rebecca Mountain, ontmoet het.
 ??  ??
 ??  ?? Ná sy maagomleid­ing in 2010 het Paul 127 kg verloor, maar sedertdien het hy meer as 101 kg aangesit.
Ná sy maagomleid­ing in 2010 het Paul 127 kg verloor, maar sedertdien het hy meer as 101 kg aangesit.
 ??  ?? Paul voor hy 25 kg se oortollige vel laat verwyder het.
Paul voor hy 25 kg se oortollige vel laat verwyder het.
 ??  ?? Hy het sowat 84 000 kilojoules per dag ingeneem – omtrent 10 keer soveel as wat ’n deursneema­n nodig het.
Hy het sowat 84 000 kilojoules per dag ingeneem – omtrent 10 keer soveel as wat ’n deursneema­n nodig het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa