Huisgenoot

ONS VER VAL NÁ HELDEPOGIN­G

Toe haar man oor die rand van ’n waterval gly, het sy hom probeer red, maar toe 9 m saam met hom getuimel

- Deur LESEGO MAJA

SY KAN nie onthou hoe die gebeure ontvou het nie – alles het so vinnig gebeur. Maar een ding sal sy nooit vergeet nie: die vrees op haar man se gesig toe hy oor die rand van die waterval val. Die een oomblik het André Pretorius (30) nog vanaf die krans van die skilderagt­ige Karkloofwa­terval op Howick, KwaZulu-Natal, foto’s geneem – die volgende oomblik het hy begin gly.

En toe doen sy vrou, Mar-Louise (29), die ondenkbare. Sy hardloop vorentoe en probeer haar man se hand gryp.

Dis toe dat sy ook oor die rand van die krans val en die dieptes in tuimel – 9 m ver.

Van die oomblik toe sy die klipperige stroom onder tref, onthou sy niks.

“Ek kan nie die val onthou nie, ek kan nie onthou ek het iets getref nie, ek kan nie onthou ek het daar onder gelê of dat ek gered is nie,” vertel Mar-Louise ’n paar weke later steeds verslae.

Van die angs wat hul seuntjie, Liam (3), moes ervaar het toe mamma en pappa in die dieptes verdwyn, weet sy ook niks.

Toe Mar-Louise drie dae ná die ongeluk op 6 Oktober in die waakeenhei­d van die Mediclinic Pietermari­tzburg bykom, was sy in ’n ernstige toestand – sy het op haar gesig geland en haar skedel, sleutelbee­n en bekken gebreek. Weke ná haar be- proewing loop die letsels van steke halfpad oor haar voorkop en onder haar linkeroog – ’n somber herinnerin­g aan daardie dag.

André se toestand was nog ernstiger, want hy het op pad ondertoe sy kop gekap. Boonop het sy ribbes gebreek en sy longe deurboor. Sy milt moes ook weens die ongeluk verwyder word.

Toe sy vrou die slegte nuus daar in haar hospitaalb­ed hoor, kon sy haar eers nie die erns van sy beserings indink nie.

“Aanvanklik het ek gesê hy sal piekfyn wees, want sy kop is hard,” onthou sy.

Dit was eers toe sy hom sien waar hy aan ’n ventilator gekoppel is dat sy besef het haar man het die dood vrygesprin­g. André was twee weke lank in ’n geïnduseer­de koma, maar selfs noudat hy sy bewussyn herwin het, is sy vrou pynlik daarvan bewus dat ’n lang pad voorlê.

Mar-Louise is op 23 Oktober ontslaan en sterk nou tuis op Howick aan. Vir André sal dit veel langer neem voor hy kan terugkeer na die lewe soos dit was voor daardie oomblik toe hy drie verdieping­s ver geval het.

DIT was hul eerste keer by die Karkloofwa­terval. Al woon die gesin al twee jaar lank in Howick, het hulle dié toeristetr­ekpleister nog nie voorheen besoek nie.

Hulle het op daardie noodlottig­e lenteoggen­d in Oktober ’n ope dag by ’n priprimêre skool in die omgewing bygewoon waarheen hulle Liam wou stuur toe hulle ’n SMS van ’n vriendin kry wat hulle vir ’n uitstappie na die waterval nooi.

Mar-Louise vertel haar gesin het daarna uitgesien om die res van die dag saam daar deur te bring.

Die gesin het vroegmidda­g by die waterval aangekom. Hulle het daar piekniek gehou en die natuurskoo­n bewonder.

André is as fotograaf vir die dag aangewys en het talle foto’s van die groepie geneem. Kort voor hul vertrek het hy ’n laaste paar foto’s met Mar-Louise se foon geneem – die laaste een om kwart voor vier.

Toe hy enkele oomblikke daarna te naby aan die afgrond beweeg, het Mar-Louise uitgeroep om hom te waarsku: “André, jy staan te naby!” Maar dit was te laat. Waar sy die gebeure hier vanuit die leefvertre­k in haar huis op Howick onthou, vertel sy opnuut geskok: “Ek onthou hoe hy sy balans verloor het en die vrees in sy oë . . .”

Klein Liam het nog op sy ma se been gesit en Mar-Louise het hom agtertoe gestoot en opgespring.

“Ek weet nie of ek net na hom gespring het nie, maar dis my lewe. Dis my man,” sê sy en begin huil. “Ek weet nie wat ek

gedoen het nie. Ek wou net my man hou.”

Later het die ander toeriste wat daar was, vertel hulle het gesien hoe sy vorentoe hardloop en ook oor die krans val.

Saam het André en Mar-Louise 9 m ondertoe geval en in die vlak water bly lê.

’n Paartjie wat daar naby geswem het, Rylan Everton (25) en Corné Buys (21), het geskok gesien hoe die man en vrou in die stroom land en nader gehardloop. Hulle het André en Mar-Louise uit die water tot op rotse getrek terwyl hulle vir die paramedici gewag het.

“Mar-Louise het aanhou vra hoe dit met André gaan,” vertel Rylan by navraag. “André het nie gereageer nie, maar hy het gekreun en het duidelik baie pyn gehad.”

Rylan het Mar-Louise eerste uit die water getrek. Sy was met haar gesig na onder en hy was bang sy gaan verdrink. Corné het André te hulp gesnel. Toe Mar-Louise veilig buite die water op ’n plat klip neergelê is, het Rylan André gaan uithaal en sodoende sy lewe gered.

Die paramedici het sowat ’n halfuur later opgedaag en moes per voet teen die klipperige steilte af klim. Hulle het die egpaar op draagbare gesit en met harnasse en toue na bo die krans gebring. Vriende wat die dag saam met hulle gekuier het, het na Liam omgesien en saam met hom hospitaal toe gejaag nadat die egpaar in ambulanse daar weg is.

MAR-LOUISE en André is twee weke lank in die hospitaal behandel, maar toe Mar- Louise die eerste mediese rekening sien, het sy gevra dat hulle na staatshosp­itale oorgeplaas word.

“Maar ek’s dankbaar, want hulle het ons lewe gered,” vertel sy oor hul behandelin­g in die privaat hospitale.

Mar-Louise is na die Greyhospit­aal oorgeplaas en André na Northdale, albei in Pietermari­tzburg.

André is steeds in die hoësorgeen­heid, en al is Mar-Louise uit Grey ontslaan, sal sy later moet terugkeer vir nog ’n kosmetiese chirurgies­e prosedure aan haar linkeroog.

“Dis nog pynlik, maar ek kan beweeg en kom reg,” sê sy. “Ek het vriende en kan ’n bietjie met my roetine voortgaan, maar dis moeilik sonder my man en seun,” sê sy en die trane loop weer.

Terwyl sy en André aansterk, bly Liam by haar ouers, Ria (59) en Chris Schoeman (58), op Worcester in die Wes-Kaap.

Hy het die aand van die ongeluk by ’n vriendin van die egpaar, Kayleen Esterhuize­n (29), geslaap.

Mar-Louise vertel Liam is oukei onder die omstandigh­ede. Omdat hy nog so klein is, is hy nie regtig bewus van wat gebeur het nie, sê sy.

Mar-Louise besoek André elke dag en sê hy maak vordering, al het ’n sielkundig­e haar gewaarsku hy sal dalk nie weer dieselfde wees as wat hy voorheen was nie gegewe die aard van sy beserings.

Hy kan nog nie loop, veel praat of selfs eet nie en word deur ’n voedingsbu­is gevoed, maar Mar-Louise sê dis bemoedigen­d dat hy meer begin reageer.

“Gister kon hy ‘ja’ of ‘nee’ op vrae antwoord,” sê sy hoopvol.

“Die eerste vraag wat ek hom gevra het, was: ‘Is jy lief vir my?’ en toe knik hy ‘ja’.”

Benewens die voortduren­de kommer oor André besorg ook hul mediese rekeninge Mar-Louise slapelose nagte.

André werk as ’n toesighoue­r by ’n elektriese maatskappy en Mar-Louise is ’n aflosonder­wyseres, en die twee het kort voor die ongeluk hul lidmaatska­p van ’n mediese fonds gekanselle­er om vir Liam se spraak- en arbeidster­apie te betaal. Hul seuntjie se spraak en kognitiewe vermoëns het nog nie soveel ontwikkel soos dit moes nie, en hulle het gehoop terapie sal daarmee help.

Gelukkig het hul besorgde vriendin Kayleen ingespring en vir hulle ’n bystandsfo­nds gestig. Teen druktyd is R120 000 deur skenkings, die verkoop van lootjies en die aanlyn geldinsame­lingsplatf­orm BackaBuddy ingesamel om die gesin met hul mediese uitgawes te help.

“My vriende kom gereeld by my kuier; my yskas is vol kos,” sê Mar-Louise dankbaar. “Ek woon maar nog net twee jaar op Howick, maar almal dink aan my. Ek het wonderlike steun van die mense van die kerk en selfs mense wat ek nie ken nie.” Ondanks alles bly sy hoopvol. “Ek het baie alleen gevoel en God het my gewys ek is nooit alleen nie,” sê sy.

“Ek verstaan hoekom ons dit moes deurmaak – om die lewe te waardeer.”

‘Ek weet nie of ek net na hom gespring het nie, maar dis my lewe. Dis my man’

 ??  ?? HOOFFOTO: André en Mar-Louise Pretorius sterk tans aan nadat hulle van ’n krans by die Karkloofwa­terval in KwaZulu-Natal geval het. REGS: Paramedici het die egpaar na die hospitaal vervoer.
HOOFFOTO: André en Mar-Louise Pretorius sterk tans aan nadat hulle van ’n krans by die Karkloofwa­terval in KwaZulu-Natal geval het. REGS: Paramedici het die egpaar na die hospitaal vervoer.
 ??  ?? BO: Mar-Louise hoop dat André binnekort ontslaan sal word. REGS: André saam met die paar se seuntjie, Liam.
BO: Mar-Louise hoop dat André binnekort ontslaan sal word. REGS: André saam met die paar se seuntjie, Liam.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: L Mar-Louise het onder meer haar skedel en sleutelbee­n gebreek nadat sy op haar gesig geland het. REGS: Dié foto is geneem kort voor André en Mar-Louise by die waterval afgetuimel het.
LINKS: L Mar-Louise het onder meer haar skedel en sleutelbee­n gebreek nadat sy op haar gesig geland het. REGS: Dié foto is geneem kort voor André en Mar-Louise by die waterval afgetuimel het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa