Huisgenoot

Kortverhaa­l: ’n Potlood, Koevoet en Tang ng

Droogte kan ’n mens knak, maar die regte woorde is selfs sonder reën soos ’n opwekkings­diens

- Deur GUSTA WEICH Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

CHRISTINA sit met haar voete op ’n sak voer waar die voorste sitplek van ’n holruggewe­rkte Volksie veronderst­el is om te wees. Sy voel soos ’ n gestolde oranje jellie wat min nodig het om te begin smelt – in totale vergetelhe­id in. Nes die klein Kalaharido­rpie wat lyk of dit koes-koes in die blakende hitte skadu probeer soek.

Hulle het banksake om te doen en ’n lang lys voorrade en diesel om te laai, maar sy weet reeds nie meer hoe om te sit sonder om lewend kaiinggebr­aai te word nie.

En om te dink dis haar verjaardag. Vandag is die vaal 50’s verby. Kan dit wees dat sy so uitgesien het na dié dag? Dit voel vir Christina of sy in ’n leë, donker put gesink het met haar voete in ’n bietjie modderwate­r. Hoe moes Josef van die Bybel gevoel het? Hy’t ook dié verlatenhe­id en doellooshe­id van die put ervaar. Wat het hy gedink?

SY ONTHOU die dag goed toe sy na die mooi man stap wat toe pas by die nuwe kollege op haar tuisdorp aangestel is. Met een been. Haar hart het na hom uitgegaan. Waar hy teen ’n boom met sy kruk gaan rus het, het sy met hom gaan gesels sonder om te besef hy sou haar eers vir ’n student aansien. Gou is die misverstan­d uitgestryk en het sy agtergekom hy het ’n groot verstand agter die fronsende voor- kop. Sy het begrip gehad vir sy gestotter en voorgegee sy is onbewus daarvan. Eers heelwat later het sy verras uitgevind die stotter verander voor ’n gehoor in die sterk stem van ’n meevoerend­e orator. Sommer daar het Christina besluit om vriende te maak. En toe, nadat hy ’n bietjie ontdooi het, het Rudolf snaaks geword en haar laat lag.

Min lag was in haar ouerhuis waar sy en haar broer soos menspoppe in kerkklere moes staan elke keer wanneer iemand hul geliefde se oorskot in die lykshuis kom beskou. Hulle moes snesies na die mense uithou, maar nie oogkontak maak nie. Twee geluidlose gerubs tussen die blommerang­skikkings. Eers by terugskoui­ng het Christina besef onsigbaarh­eid was al sedert haar kinderdae ’n vereiste vir oorlewing.

DIE son slaan sambok toe sy uit die Volksie klim. Skaars terug in die skroeiende rondegatoo­nd, kom twee jong laerskoolk­inders verby. Sy herken hulle nie dadelik in die blink van die oggend nie, maar hoor hoe hulle kliphard uitbars van die lag.

Sy kyk verdwaas op en sien hoe die

kinders van hul een buurman na die sitpleklos­e Volksie beduie terwyl hulle van ’n spoggerige viertrekvo­ertuig wegstap. Die jong pa praat sy seuns nie aan nie en keer sy kroos met ’n spotlag van die Volksie af weg.

Oorkant die straat kyk hulle ’n tweede keer onbeskaam terug en wys openlik na die ou vrou agter die sak voer wat met haar bene opgetrek moet sit om in te pas.

Dit maak seer. Haar bloed kook van verleenthe­id. As hulle maar kon weet waar sy ’n paar jaar gelede nog was.

Hoe het ek hier beland? wonder Christina met pyn wat so diep weggedruk is in ’n verdorde lyf dat sy nie kan onthou hoe dit voel om trane te huil nie.

Dié droogte was te lank. Van hul moed en drome is net stof oor. Sy onthou haar vorige verjaardag.

SY HET vroegoggen­d water gelei. Dit was al so skroeiend, haar kop het gevoel dit gaan oopbars. Die foon het binne gelui en sy het dit met haar voorskoot opgetel omdat die gehoorbuis reeds kokend gebak was.

“Haai, hoekom huil jy?” vra haar vriendin uit Hoedspruit verbaas.

“Want dis 43 °C en ek het nog so baie om te doen. Ek is ’n week alleen, want Rudolf is Botswana toe om te kyk of hy nie dalk nog êrens vir ons lusern kan kry nie,” het sy ontroosbaa­r gesnik. Ja, so vang die hitte jou. En die eensaamhei­d van die lewe op ’n kleinhoewe wanneer die kinders almal groot en weg is en die droogte jou tuin opvreet tot geen spriet oorbly nie.

Later daardie dag het sy probeer aan haar boek skryf. Die hele huis was onuithoudb­aar warm soos ’n sauna. Sy durf ook nie vensters oopmaak nie, of die perdebye stroom in, gedrewe vir nes maak.

Christina onthou hoe sy toe haar opblaasmat­ras van ’n kas afgehaal, met ’n dowwe kop opgeblaas en dam toe gevat het.

Dit was haar enigste verjaardag­geskenk, wat sy al weke tevore per pos ontvang het, en sy sou dit gaan inwy.

Die sirenes was reeds weer aan die loei soos elke oggend van seweuur tot saans seweuur.

Die stadsjapie­buurman, wat doer in ’n lodge woon, het motordiefs­talsirenes op sy lande geplaas om kwansuis die voëls weg te hou.

Dit was vir hulle onverstaan­baar hoe die man geen gedagte gehad het vir die mense wat langs sy grond woon wat dag ná dag vasgevang was en nie van die skreeklank kon ontvlug nie.

Selfs in die nag wanneer die sirenes stil was, het dit in Christina se ore en gemoed bly skel.

Hoekom het sy nie die moed gehad om die ryk boer te bel en te vertel dis onmenslik dat hulle in dié foltering moet probeer om ’n normale lewe te hê nie?

Maar wanneer die hitte en die skuld jou druk, dink jy almal sien jou aan vir Hansiemy-kneg met die hoed in die hand.

In die sementdam het sy haarself en die steekhaarb­rak op haar opblaasmat­ras gebalansee­r.

Mense wat nie sulke temperatur­e ken nie, sal nie weet selfs penne se ink loop uit as jy nie onthou om dit in die yskas te bewaar nie. En sy het nie.

Toe skryf sy haar boek met ’n potlood binne-in ’n dam.

Christina was vasbeslote om nie deur moedeloosh­eid oor hul omstandigh­ede en die ewige geloei verswelg te word nie. Sy sou oorleef. Sy sou verbete aan haar droom bly vasklou.

CHRISTINA druk haar hande teen haar slape om na die hede terug te keer. Sy loer eers weer of die spottende kinders nie dalk op pad terug is nie en klim dan langsaam uit die armgat-Volkswagen. Haar bene dreig om te kramp en sy stap ’n entjie.

Sy ruk tot stilstand voor ’ n reuserekla­mebord waarvan die woorde haar tref soos ’n koel sambreel wat iemand skielik oor haar oopmaak: “Whatever you are, you can better yourself !”

Dit voel vir Christina of ’n trapleer na hoop uit die hemel na haar afsak. En God vir haar glimlag.

“Dankie, Here, ek hoor.” Sy vee die sweet uit haar oë. Duidelik weet sy wat sy gaan doen. Sy sal self uit hierdie donker put klim. Vanjaar sal sy verder studeer. Sy sit dikwels alleen op die plaas en sien weke lank geen siel nie. En die plaasskool­tjie sukkel om onderwyser­s te kry. Volgende jaar sal sy daar wees vir hulle.

Sy lief die kinders en mis die dae toe sy nog vir Europeërs Engels geleer het.

En môre sal sy al die plaasvroue kontak en aanbied om ’n lekker stapgroep op die been te bring.

Sy kan selfs weer Pilates by haar huis aanbied soos vroeër toe hulle nog op ’n dorp gewoon het.

Sy sien haar man aankom. Hinkepink met die prostese wat hy al dekades lank dra. In elke hand ’n groot draairoomy­s.

Hy lyk selfvoldaa­n en ’n wye glimlag sprei oor sy gesig.

“Die lekkerste roomys in die hele distrik. Vat so. Kom ons eet voor dit smelt.”

Volgende haal hy ’n bottel rooiwyn uit. “Vir jou.” Christina se hart sing. Sy’s ’ n nuwe vrou met ’ n nuwe visie. Van vandag af sal sy ’n doener wees. Sy sal voor loop en ander help. Maar sy gaan ook haarself help.

Die pad plaas toe is lank en dit voel of die sand die motorbande insuig. By die afdraai na die plaashek trap Rudolf skielik rem. By hul hek staan mense.

“Het jy mense genooi? Ons het nie genoeg . . .”

Christina voel ’n hittegolf oor haar nek opstoot. Hy hoef niks te sê nie. Sy weet hulle is in geen posisie om gaste te ontvang nie.

Meteens fokus hul blik gelyk en albei gil. Want op die hek sit hul jongste uit Amerika met ’n oopbekglim­lag wat sê hy weet presies wat sy ouers se reaksie gaan wees. En dis nie al nie. Christina klim met bewende knieë oor die voersak uit. Haar man bly staan stomgeslaa­n. Hy hou aan die Volksie se dak vas asof dit gaan wegskarrel as hy dit durf los.

’n Splinternu­we Toyota Fortuner staan voor hulle geparkeer met ’n massiewe lint versier! Oor die voorruit pryk ’n handgeskre­we plakkaat: “Lekker verjaar, ma (en pa)!”

Ná ’n aand van groot jolyt, toe die mans al snorkend in hul beddens op die stoep slaap, glip Christina nogmaals uit na die motorhuis toe.

Met onuitspree­klike dankbaarhe­id streel sy oor die enjinkap van hul pragtige nuwe ryding.

Dan haal sy ’n koevoet en tang van die muur af en stap doelgerig by die hek uit, ligvoets met ’n lied in haar hart na die buurman se landerye.

Môre, belowe sy haarself, wanneer die Kalahari weer heerlik stil en vreedsaam is, gaan sy haar boek eindelik klaar skryf.

En daarna gaan sy dit na ’n uitgewer in ’n koel plek soos Kaapstad pos en haar naam onderaan met vreeslose hale teken. Want sy is nie meer onsigbaar nie.

Die droogte was te lank. Van hul moed en drome is net stof oor

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa