Huisgenoot

So benader jy jou maat se ma

Wanneer jou maat se ma dit duidelik maak sy hou nie van jou nie, kan dit jou lewe baie onaangenaa­m maak. Hier is raad oor hoe om die ingewikkel­de situasie met sensitiwit­eit te benader

- Deur SHANAAZ PRINCE

JY EN sy suster is byna soos beste vriendinne en sy pa is vir jou soos ’n tweede pa. Maar sy ma is ’n heel ander storie . . . Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy kan haar oënskynlik nooit tevrede stel nie. Met jou skoonma of aanstaande skoonma bly dinge eenvoudig ’n alewige gesukkel.

“Ek voel sy dink ek is nie goed genoeg vir haar seun nie,” sê Dani* (28). “Ek en hy gaan al langer as ’n jaar uit en sy laat my steeds ongemaklik voel elke keer wanneer ons daar kuier. Sy fokus net op hom en gesels nie veel met my nie.

“Sy vra my nooit hoe dit gaan of hoe dit by my werk gaan nie,” voeg Dani by. “En sy lig dikwels ’n wenkbrou oor die klere wat ek dra.”

Vir ander, soos die 40-jarige Tanya*, is dit ’n ernstiger probleem as net ’n botsing van persoonlik­hede of ’n ma se wrokkighei­d oor die vrou in haar seun se lewe. Die tuisblyma sê haar verhouding met haar skoonma het so versleg dat sy besluit het om alle bande met haar te verbreek.

Sy en Greg* is vyf jaar gelede getroud en sedertdien het dinge “ál leliker” geraak. Toe die konflik tussen Tanya en haar skoonma haar twee kinders begin raak – haar skoonma het eenkeer “vergeet” om haar vierjarige dogter by die skool te gaan oplaai – het Tanya gevoel dit is tyd om ’n streep te trek.

“Ek weier om deur haar geboelie te word,” sê ’n gefrustree­rde Tanya. “En my man ondersteun my besluit, waaroor sy nie gelukkig is nie.”

Gelukkig veroorsaak die situasie nie spanning in haar huwelik nie. Greg was trouens die een wat voorgestel het hulle distansiee­r hulle van sy ma nadat sy hom ’n aantal kere gebel het bloot om Tanya sleg te sê.

As jy en jou maat se ma nie langs een vuur sit nie, beteken dit nie noodwendig jou verhouding is gedoem nie. Maar as dit nie reg hanteer word nie, kan dit baie spanning veroorsaak of selfs jou verhouding laat skipbreuk ly. Hier is raad oor wat jy kan doen om konflik met “die ander vrou” in jou maat se lewe te hanteer en hoe om te sorg dit veroorsaak nie skade in jou verhouding met jou maat nie.

ERKEN DIE MAMMABEER

Dit is nou maar eenmaal so – jou maat se ma is ’n sentrale figuur in jou lewe, ongeag of julle na aan mekaar is of nie. Erken daarom haar plek in jou maat se lewe. Dit is dalk vir jou moeilik, maar dit is vir jou maat net so ongemaklik om te voel hy is vasgevang tussen twee mense wat vir hom baie beteken.

‘Sy dink ek is nie goed genoeg vir haar seun nie’

Sy is ’n belangrike deel van jou maat se lewe en sal dit altyd wees, en jy moet hul unieke verbinteni­s respekteer – selfs al dink jy hul verhouding is in sommige opsigte ongesond, baasspeler­ig of selfs afbrekend.

“Jy dink miskien hy is ’n mamma se seuntjie – en hy is dalk – maar as jy jou maat liefhet, moet jy nie met mammabeer meeding of van haar ’n vyand maak nie,” sê die verhouding­safrigter Paula Quinsee. “Hanteer die situasie op ’n volwasse, kalm manier en help jou maat om gesonde grense te stel.”

STEL DUIDELIKE GRENSE

Om dit reg te kry, moet jy en jou maat openlik en eerlik oor die kwessie kan praat. “As julle albei duidelik oor jul verhouding­sdoelwitte is en weet wat julle gelukkig maak, sal dit taamlik eenvoudig wees om grense rakende jul verhouding te stel,” sê die kliniese sielkundig­e Ingrid Nagaya. “Grense afbaken moet nooit ’n eensydige ding wees nie.”

Besluit saam wat vir julle ononderhan­delbaar is: byvoorbeel­d dat dit onaanvaarb­aar is dat jou maat se ma gewoon onbeskof met jou is of jou direk teenoor jou maat of binne hoorafstan­d van jou maat kritiseer. Dit behoort ook taboe te wees dat sy jou binne hoorafstan­d van jou kinders slegsê. Kom ooreen oor hoe julle dit sal aanpak wanneer dit gebeur – byvoorbeel­d, sal hy of jy met haar daaroor praat?

LEER OM TE LAAT VAAR

Party dinge is onvermydel­ik en jy sal jouself baie moeite en irritasie spaar as jy dit bloot aanvaar. “Daar is goed wat net nie die moeite werd is om oor onsteld te raak nie,” sê Paula.

Jou maat se ma sal heel waarskynli­k in ’n stadium een of meer van die volgende doen: oor jou kookvernuf kommentaar lewer, aanmerking­s oor die toestand van jou huis maak of vir jou “daardie kyk” gee wanneer jou kinders hulle nie gedra nie. Baie van dié dinge is onafwendba­ar. Wees eenvoudig die beter mens en laat dit vaar.

BESTUUR JOU BLOOTSTELL­ING

Hou jou varkies op hok deur net soveel tyd as wat jy dink jy kan hanteer saam met jou maat se ma deur te bring. Besluit wat jou draaipunt is – as jy nie meer as drie uur in haar geselskap kan uithou nie, reël iets anders vir later die dag sodat jy ’n uitweg het.

MAAK SEKER JY EN JOU MAAT IS OP DIESELFDE GOLFLENGTE

“Dit is belangrik dat jy en jou maat ’n verenigde front vorm,” sê Paula.

“Dit moet duidelik wees julle twee respekteer, steun en vertrou mekaar en tree vir mekaar in die bres. As jy en jou maat ’n goeie grondslag het, is daar ’n kleiner kans dat buite-invloede ’n wig tussen julle kan indryf.”

Die manier waarop jy en jou maat teenoor mekaar optree, behoort dit duidelik te maak julle sal doen wat die beste vir julle twee is sonder om haar goedkeurin­g te soek – maar ook sonder om oneerbiedi­g te wees.

VIND GEDEELDE BELANGSTEL­LINGS

’n Manier om ’n verhouding met haar te probeer smee is om gemeenskap­like belangstel­lings te vind. Dalk is julle albei mal oor kook, rolprente, boeke, tuinmaak of blokraaise­ls – gebruik dit om jul verhouding op te bou. Dit sal help om gesprekke aan die gang te sit en bied dalk selfs geleenthed­e om iets saam te doen en gedeelde herinnerin­gs te skep. * Nie hul regte name nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Jou maat se ma is ’n belangrike persoon in sy lewe. Doen daarom wat jy kan om onenigheid tussen jou en haar te beredder.
Jou maat se ma is ’n belangrike persoon in sy lewe. Doen daarom wat jy kan om onenigheid tussen jou en haar te beredder.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa