Huisgenoot

Wie is kommissie se regter Zondo?

Regter Raymond Zondo is aan die hoof van die kommissie wat staatskapi­ng moet blootlê en bekamp. Wie is die man met dié belangrike taak?

- Saamgestel deur THULANI GQIRANA

DIT is ’n drama met ’n skynbaar eindelose rolverdeli­ng van hoëprofiel­spelers. Politici en staatsampt­enare maak onthulling­s oor geheime ontmoeting­s met die Guptabroer­s, waar omkoopgeld na bewering aangebied en dreigement­e gemaak is. Maar terwyl nuwe getuies kom en gaan, sit die hoofspeler in die drama elke dag getrou op sy pos – op die oog af onverstoor­d deur die verwagting­s van ’n hele land wat op sy skouers rus.

Hy is adjunkhoof­regter Raymond Zondo, die man aan die stuur van die kommissie van ondersoek na staatskapi­ng.

Dit word beskou as moontlik die belangriks­te kommissie sedert die aanbreek van verteenwoo­rdigende demokrasie in Suid-Afrika. In ’n neutedop is dit Zondo se werk om die omvang van staatskapi­ng bloot te lê en aanbevelin­gs te doen om die skade te bekamp.

Dis ’n enorme taak wat met ontsettend­e verantwoor­delikheid gepaardgaa­n. Maar kyk jy na Zondo waar hy kalm en rustig sit en luister na getuienis wat die hare laat rys, lyk hy geensins geïntimide­erd nie.

En die kommissie maak reeds ’n impak. Die voormalige minister van finansies Nhlanhla Nene het bedank nadat hy teenoor Zondo erken het hy was nie openhartig oor ontmoeting­s wat hy met die Guptas gehad het nie – al het hy geen onbehoorli­ke voordeel daaruit getrek of weggegee nie. Nene is deur politieke kommentato­rs geloof vir sy eerbare optrede, wat ’ n nuwe maatstaf vir verantwoor­dbaarheid en integritei­t stel.

Onlangs het Pravin Gordhan getuig hoe hy – destyds nog minister van finansies – die vrugtemand­jie wat as uitnodigin­g na die omstrede Guptatroue by Sun City gedien het in die snipperman­djie gesmyt het “omdat ek nie te koop is nie”.

Die land kan nie wag om te sien wat Zondo (58) nog aan die lig gaan bring nie. Maar wie is dié geleerde man met die vlymskerp brein wat ons regering en staatsinst­ansies met sy kommisiebe­sem moet skoonvee?

DIE BEGIN VAN GOEIE DADE

Zondo het verlede jaar tydens sy onderhoud om die pos as adjunkhoof­regter ’n roerende en inspireren­de verhaal vertel.

Hy het op Ixopo, KwaZulu-Natal, in armoede grootgewor­d as een van nege kinders. Sy verpleegst­erma het haar werk verloor twee jaar voor hy matriek geskryf het en daar was druk op hom om ná skool onmiddelli­k ’n werk te kry om die gesin te help ondersteun.

Maar hy het van ’n regsloopba­an gedroom.

“Toe ek matriek klaarmaak, was ek vol vertroue ek sou ’n beurs kry (om regte te studeer), maar my probleem was die situasie by die huis was taamlik sleg,” het hy in die onderhoud gesê. “Ek het gevoel ek kon nie weggaan voor ek gereël het dat my ma en sibbes kos sou hê om te eet nie.”

Hy het toe ’n plaaslike sakeman, Suleman Bux (76), om ’n lening gevra.

“Interessan­t genoeg het hy nie baie vrae gevra nie en ingestem om my te help. Hy het gesê hy kon my nie geld gee nie, maar wel ’n koopbewys. Daarmee kon my ma elke maand R20 se kruidenier­sware by sy winkel kry tot ek my graad behaal het.”

En toe die pas gegradueer­de Zondo Bux drie jaar later wou terugbetaa­l, het die winkelier geweier om die geld te aanvaar.

“Hy het gesê: ‘Moet jou nie bekommer nie. Doen vir ander wat ek vir jou gedoen het.’ Ek het gedink dit was baie belangrik, en op my eie klein manier probeer ek dit doen,” het Zondo gesê.

GESINSMAN GETROU AAN SY HERKOMS

Hy is getroud met sy jeugliefde, Sithembile. Onder hul vier kinders tel die Protea- en Dolphinskr­ieketspele­r Khaya Zondo.

Hy is beskermend oor sy privaathei­d en gesinslewe en sy nederige herkoms is vir hom baie belangrik.

“As ek aangestel word, sal ek – soos regdeur my loopbaan – onthou dat ek uit ’n baie arm gemeenskap kom. Net omdat ek in ’n sekere stadium ’n prokureur, ’n regter, regterpres­ident of regter van die konstitusi­onele hof geword het, beteken dit nie ek is nie meer een van daardie mense nie‚” het Zondo tydens sy onderhoud om die pos as adjunkhoof­regter gesê.

“Ek moet altyd onthou hulle is baie belangrik . . . ook as ek as adjunkhoof­regter aangestel word. Ons moenie optree asof ons gode is nie.”

OPSPRAAKWE­KKENDE UITSPRAKE

Die regter se besluit in September om die gebruik van dagga tuis te wettig was omstrede.

“Dit sal nie ’n kriminele oortreding wees vir ’n volwasse mens om dagga in (’n) privaat ruimte te gebruik of te besit nie,” het hy in sy uitspraak gesê.

Zondo het ook ten gunste van die EFF beslis in hul aansoek dat oudpres. Jacob Zuma verantwoor­delik gehou word vir die onregmatig­e besteding van belastingb­etalers se geld om sy Nkandlawon­ing op te knap.

SY OPGANG NA BO

Zondo het ’n B.Juris-graad van die Universite­it van Zoeloeland asook drie LL.M.grade (meestersgr­ade in die regte) van die Universite­it van KwaZulu-Natal en Unisa.

Sy loopbaan van 21 jaar as regter het begin met sy aanstellin­g in die arbeidshof in 1997.

In 2012 het hy ’n regter in die konstitusi­onele hof geword en verlede jaar het hy regter Dikgang Moseneke as adjunkhoof­regter vervang.

 ??  ??
 ??  ?? Regter Raymond Zondo het drie meestersgr­ade.
Regter Raymond Zondo het drie meestersgr­ade.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa