Huisgenoot

Glansvrou dalk ambassadeu­r in SA

Amerika se potensiële nuwe gesant in Suid-Afrika het bande met Trump en wyle Diana

- Saamgestel deur MARELIZE POTGIETER

SY IS blond, dinamies en maak peperduur handsakke vir Hollywood se rykes en beroemdes. En binnekort is dié SuidAfrika­anse boorling dalk Amerika se ambassadeu­r in haar vaderland. Maar ’n hofdrama en familievet­e is op haar horison, en omstredenh­eid in haar verlede.

Lana Marks (65) woon al jare lank in Palm Beach, Florida, nadat sy SuidAfrika in die 1970’s verlaat het. Sy is die stigter van die luukse handsakhan­delsmerk Lana Marks, en sterre soos Charlize Theron, Angelina Jolie en Jennifer Aniston het al met haar ontwerpe op die rooitapyt gepronk. Selfs die geliefde prinses Diana is gereeld met ’n Lana Marks aan die arm gesien. Die twee was goeie vriendinne en ’n mens kan vandag nog ’n handsak uit die handelsnaa­m se eksklusiew­e Prinses Diana-reeks kies.

Maar nou lyk dit of Lana haar fokus vir ’n ruk van uitspattig­e modes na gewigtige landsake moet verskuif, want pres. Donald Trump van Amerika het haar onlangs vir die Amerikaans­e ambassadeu­rspos in Suid-Afrika benoem.

Amerika het al sedert 2016 nie meer ’n amptelike gesant in Suid-Afrika nie en haar benoeming moet nog deur die Amerikaans­e senaat goedgekeur word voor die aanstellin­g bekragtig kan word.

Dit lyk of Lana opgewonde is oor die vooruitsig om na haar geboortela­nd terug te keer. “Ek voel geëer om benoem te wees,” vertel sy aan Huisgenoot. “God seën Amerika, Nkosi Sikelel’ iAfrika,” het sy ook in die sosiale media geskryf.

Maar in teenstelli­ng met haar vrolik- heid broei onweerswol­ke in haar geboortela­nd. ’n Onaangenam­e hofsaak tussen haar en haar sibbes oor haar ouers se bates van miljoene is besig om in die Grahamstad­hooggeregs­hof te ontvou.

Lana se broer, Malcolm Bank (59), ’n tandarts wat in Israel woon, en suster in Australië, Anne Pogroske (62), beskuldig haar daarvan dat sy haar ouers se woonstel in die Trump Plaza in West Palm Beach, Florida, sonder hul wete in haar naam oorgedra het, berig Sunday Times. Die woonstel se waarde is glo sowat R14,4 miljoen en hulle voer aan sy het in 2013 ’n hele R2,7 miljoen uit die familietru­st na haar rekening oorgedra.

Malcolm en Anne vra die hof moet verklaar hul ma, Blanche (89), wat aan demensie ly en by Malcolm woon, is ongeskik om haar eie sake te behartig. Hulle vra ook Lana moet as trustee van die familietru­st vervang word. Huisgenoot het Lana se kommentaar gevra, maar teen druktyd het sy nie gereageer nie. Haar prokureur, Allan Lowndes, het laat weet sy kliënt ontken die aantygings ten sterkste en behou haar die reg voor om nie kommentaar te lewer nie. Aan die Sunday Times het sy gesê haar sibbes word deur hul “eie gierigheid en neuroses” gedryf.

Die familievet­e is nie al omstredenh­eid wat om die blondekop hang nie.

Lana sal die vierde lid van die eksklusiew­e Mar-a-Lago-klub wees wat Trump as ’n ambassadeu­r benoem. Trump het die eiendom waarop dié klub in Palm Beach, Florida, gebou is in 1985 gekoop en tot 1995 as ’n privaat woning gebruik. Die klub is in April daardie jaar gestig en jy moet tot R2,8 miljoen opdok om aan te sluit, die jaarlikse ledegeld is R200 000, en vir aandete betaal jy sowat R30 000.

Net die tyd sal leer of Lana en haar Britse psigiaterm­an, Neville Marks (79), hul weelderige lewe in Palm Beach vir ’n paar jaar in ons land sal moet prysgee. Maar met haar luukse ontwerpe wat sy ten duurste verkoop en vriendskap­pe met mense soos Trump en wyle Diana, sal sy nie gou uit die kollig verdwyn nie.

LANA kom uit ’n welgesteld­e familie in die kusstad OosLonden. Haar pa, wyle Alec Bank, was bekend in die plaaslike Joodse gemeenskap. Alec was ’n sakeman wat verskeie eiendomme besit het.

Die gesin het in ’n weelderige buurt op

’n groot erf met ’n tennisbaan en swembad gewoon. Die ruim huis was selfs met ’n fliekteate­r toegerus.

Alec het glo graag Sondae flieks daar vertoon en kon tot 40 gaste op ’n slag in die teater trakteer.

Lana was van jongs af ’n tennisspel­er en sy het volgens koerantuit­knipsels op Instagram in die Suid-Afrikaanse en Franse Ope gespeel.

Sy het Neville ontmoet terwyl hy in Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal gewerk het, en ná ’n warrelwind­romanse is hulle in 1976 getroud. Dit het ’n einde aan haar sakestudie aan die Universite­it van die Witwatersr­and gemaak. Hulle is landuit om op die Bermuda-eilande te gaan woon.

Hul eilandverb­lyf is ook in omstredenh­eid gehul, want hulle is in 1982 daaraan skuldig bevind dat hulle die immigrasie­wetgewing van die land oortree het toe hulle ’n Suid-Afrikaanse kinderoppa­sser onwettig in diens geneem het.

Al is die skuldigbev­inding die volgende jaar op appèl omgekeer, het Bermuda geweier om Neville se werkpermit te hernu en die gesin moes die eiland in 1985 verlaat. Hulle het twee volwasse kinders, Martin Marks en Tiffany Marks Isaacs.

Lana is daarvoor bekend dat sy haarself goed bemark en vertel op haar webtuiste hoe haar handsakryk ontstaan het. Die idee vir haar luukse, eksotiese handelsmer­k is gebore toe sy en haar man in 1984 genooi is om koningin Elizabeth se verjaardag op die koninklike seiljag die Britannia by te woon.

“Ek het ’n wonderlike rooi-en-pers uitrusting gehad. Ek het vir my man gesê ek wil graag ’n rooi handsak van krokodille­er hê,” vertel sy in ’n YouTube-video. Sy het oral gesoek en besef “as ek soek, is daar dalk ander mense ook wat handsakke in helder, eksotiese kleure soek”.

Dit het haar ’n paar jaar geneem om die handsakmaa­ktegniek te bemeester, maar in 1988 was haar eerste pienk krokodille­ersak ’n reusesukse­s.

Vandag is daar Lana Marks-winkels in Amerika, die Midde-Ooste, China, Hongkong, Engeland, Europa, Singapoer en Siprus. Haar ontwerpe kan jou tussen R37 000 en R278 000 per handsak kos.

In 1995 het Lana en prinses Diana mekaar in Washington, D.C., in ’n winkelsent­rum ontmoet saam met die prinses se vriendin Lucia Flecha de Lima, vrou van die destydse Brasiliaan­se ambassadeu­r in Amerika. Diana was glo onmiddelli­k versot op Lana se handsakke en het haar gevra om een vir haar te ontwerp; sy het later 15 gekoop.

Die twee vroue het ’n hegte band gevorm, en met die 20ste herdenking van Diana se dood verlede jaar het Lana gesê sy was 10 dae voor die prinses se dood veronderst­el om saam met haar in Italië te gaan vakansie hou. “Ons sou ook na die Comomeer toe gegaan het, maar my pa is skielik dood en ek moes die vakansie kanselleer om na my tuisland te reis. Sy het my in Suid-Afrika gebel en ons het ’n kans gehad om te praat, maar ek het sleg gevoel omdat sy op haar eie was en nie geweet het wat om te doen nie.”

Diana is toe saam met haar minnaar, Dodi al-Fayed, Parys toe, waar die motorongel­uk haar lewe geëis het.

“Ek was jare lank geskok. Ek voel nog die pyn. Ek dink heeltyd: As sy net by my was, sou dit dalk nooit gebeur het nie.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Lana Marks het in SuidAfrika grootgewor­d, maar woon al jare lank in Amerika. BO: Pres. Donald Trump het haar pas as ambassadeu­r benoem.
HOOFFOTO: Lana Marks het in SuidAfrika grootgewor­d, maar woon al jare lank in Amerika. BO: Pres. Donald Trump het haar pas as ambassadeu­r benoem.
 ??  ?? VAN HEEL LINKS: Wyle prinses Diana en Lana; die prinses met een van Lana se handsakke; Jennifer Aniston in 2006 met ’n swart palmtassie deur Lana; Charlize Theron met haar Lana.
VAN HEEL LINKS: Wyle prinses Diana en Lana; die prinses met een van Lana se handsakke; Jennifer Aniston in 2006 met ’n swart palmtassie deur Lana; Charlize Theron met haar Lana.
 ??  ?? LINKS: Lana by haar seunseun, Martin Marks, en dogter, Tiffany Marks Isaacs. BO: Saam met haar man, die psigiater Neville Marks.
LINKS: Lana by haar seunseun, Martin Marks, en dogter, Tiffany Marks Isaacs. BO: Saam met haar man, die psigiater Neville Marks.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa