Huisgenoot

EKSMAN SOEK NIE HAAR VERGIFNIS

-

VEk is ’n enkelma van oor die 60 . Ek het op my eie vier kinders grootgemaa­k nadat ek my eksman gelos het omdat hy my met iemand anders verkul het en ons sonder onderhoud gelaat het. As volwassene­s kry hulle hom nou te sien. Dit pla my nie.

Toe ek hom onlangs by ’n geleenthei­d by een van my kinders sien, het ek vir hom gesê ek vergewe hom vir al die swaarkry en leed wat ons deurgemaak het. Hy het egter gesê hy het niks verkeerd gedoen nie; daarom is daar niks om te vergewe nie. Wat maak ’n mens met so iemand? E op A

A Vir baie van ons is afsluiting belangrik en iets waarop ons wag. Die vermoede bestaan dat as ons iemand vir ’n laaste keer kan sien en vir daardie persoon kan sê wat ons op die hart het, ons met ons lewe sal kan voortgaan. Maar wanneer so ’n oomblik dan eindelik aanbreek, is dit dikwels ’n antiklimak­s.

Jy het nie ná ’n skeiding jou eks se toestemmin­g of aanvaardin­g nodig om met jou lewe te kan voortgaan nie, soos jy nou alte goed weet. Jy het hierdie man en jul eertydse huwelik ontgroei, en jy kan trots wees op wat jy en jou kinders as ’n enkelouerg­esin bereik het.

Vergifnis hoef nie aanvaar te word om geldig te wees nie. Jy kan daarom wegstap met die wete dat jy hom lank reeds op jou lewenspad agtergelaa­t het. Daar is geen berou by hom nie en geen groei nie. Jy hoef nooit weer emosioneel op sy teenwoordi­gheid óf sy op- of aanmerking­s te reageer nie.

Daar is duidelik geen salf aan hom te smeer nie. Jy het destyds die regte keuse gemaak om hom te verlaat – daarvan kan jy seker wees.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa