Huisgenoot

James Middleton steel die kollig

Kate se broer, wat onlangs sy stryd teen depressie bekendgema­ak het, het ’n magdom Instagramv­olgelinge

- Saamgestel deur NICI DE WET BRONNE: HELLOMAGAZ­INE.COM, HARPERSBAZ­AAR.COM, PEOPLE.COM, DAILYMAIL.CO.UK, MARIECLAIR­E.COM

JARE lank was hy bloot die kleinboet van die twee beroemde susters Kate en Pippa, maar nie meer nie. James Middleton maak vroue wêreldwyd se knieë lam nadat hy sy Instagramp­rofiel oopgestel het. Die 31-jarige hartebreke­r het reeds in 2013 by Instagram aangesluit, maar dit was tot nou privaat. Binne die eerste week het sy beskeie 4 000 volgelinge tot 130 000 gestyg, en dit klim steeds. Gaan loer ’n mens by @Jmidy sien jy ’n man met ’n passie vir die buitelug, soos die skilderagt­ige Skotse hoogland, en vir diere, veral sy geliefde honde. Sy blinkswart spanjoele oorheers omtrent sy Instagramp­rofiel.

Maar dis James met sy broeiende grysgroen oë, baard en atletiese lyf wat sy volgelinge op hol het. Dit gons oor Kate se oulike broer wat ’n toergids is by ’n hotel in Skotland wat aan Pippa se skoonpa, David Matthews, behoort.

Hy het selfs ’n paar trouaansoe­ke gehad van vroue wat hulle nie daaraan steur dat hy nou met die Franse finansiële ontleder Alizee Thevenet (29) uitgaan nie. Selfs die Mad Men-aktrise January Jones (41) het van haar laat hoor: “Waar het hy weggekruip,” het sy by ’n foto geskryf van James met ’n pet op die kop waar hy êrens op die platteland op ’n muur sit met sy honde om hom. Nog een het gevra hoekom moet hulle nou eers uitvind Kate het so ’n breker van ’n broer wat soos die akteur Jude Law lyk.

Maar James het om ’n ernstiger rede onlangs die nuus gehaal toe hy vir die eerste keer bekendmaak hy ly so ernstig aan depressie dat hy daarna as ’n “kanker van die gemoed” verwys. Hy erken hy is “ryklik geseën” en leef ’n “bevoorregt­e lewe”, maar dat dit hom nie teen depressie immuun maak nie.

“Ek het gevoel asof ek misverstaa­n word; ’n volslae mislukking. Ek wens die gevoel van waardeloos­heid en desperaath­eid, die isolasie en eensaamhei­d nie eens my grootste vyand toe nie. Ek het gevoel ek word mal,” het hy in ’n artikel in die Britse Daily Mail geskryf.

“Ek kon geen vreugde of opgewonden­heid voel nie. Net hartverkra­mpende angs het my soggens uit die bed gejaag. Ek het nie aan selfdood gedink nie, maar ek wou ook nie in so ’n gemoedstoe­stand leef nie.”

In Desember 2017, ná ’n jaar waarin sy geestesges­ondheid bly agteruitga­an het,

het hy sy honde in sy motor gelaai en na ’n afgeleë deel van die Meredistri­k in die noordweste van Engeland gery.

“Ek het alleen in die sneeubedek­te berge gaan stap en ’n paar dae in ’n afgeleë huisie op my eie gebly waar ek uit pakkies geëet het. Ek het eindelik die feit gekonfront­eer dat ek nie meer kon uithou nie; dat ek hulp nodig gehad het.”

Hy het daarna by ’n psigiater gaan hulp soek wat hy weekliks besoek het, en vandag het hy strategieë om oor die weg te kom en ’n “nuwe doelgerigt­heid”.

Een van die hoofredes waarom James openlik hieroor praat, is dat sy suster Kate saam met die prinse William (36), Harry (24) en Meghan (37), die hertogin van Sussex, die beskermher­e is van Heads Together, ’n liefdadigh­eidsorgani­sasie vir geestesges­ondheid. “Hulle glo ’n mens kan net van die stigma wat aan geestesges­ondheid kleef, ontslae raak deur die gesprek hieroor te verander en die negatiewe konnotasie­s uit die weg te ruim. Dit sou dus nie eerlik wees as ek my eie storie weggesteek het nie.”

JAMES, wat net soos Kate (37) en Pippa ( 35) privaat skole bygewoon het, is uiters beskermend teenoor hulle. Hy is ook na aan sy ouers, Carole (64) en Michael (70). Hy was nog op skool toe dit bekend word sy ousus gaan met prins William uit, en hy het sy bes gedoen om skinderpra­atjies te stuit. Hy het selfs toe hy op kosskool was soggens eerste opgestaan om die koerante te kry.

“Ek het enige storie oor my suster uitgeskeur sodat niemand dit kon sien en dan ’n gepratery aan die gang sit nie.”

Hy het op skool gesukkel weens ernstige disleksie en aandaggebr­ek-hiperaktiw­iteitsteur­ing wat laat by hom gediagnose­er is. Hy het in sy eerste jaar aan die Universite­it van Edinburgh opgeskop. “Ek kon nie op my eie studeer nie. As ek vroeër gediagnose­er is en hulp gekry het, sou die lewe soveel makliker gewees het,” skryf hy in die Daily Mail.

Toe hy ná ’n naweek terugvlieg universite­it toe, het hy besef wat hy eintlik met sy lewe wou doen: “My droom was om ’n koekkonink­ryk te bou,” het hy aan die Britse tydskrif GQ vertel.

In 2007 het hy die Cake Kit Company begin, wat doen-dit-self-stelletjie­s verkoop waarmee mense hul eie partytjiek­oeke kan maak. Dit is deur Party Pieces, sy ouers se posbestelw­ebwerf, verkoop.

In 2009 het hy in die moeilikhei­d be- land by Buckingham­paleis toe hy ’n aanbod van die tydskrif Hello! aanvaar om 21 koeke te maak om die publikasie se verjaardag te vier. Een van die koeke het ’n foto van prinses Diana opgehad, en hy is op die vingers getik.

Die koekondern­eming was nie ’n sukses nie. In 2013 het hy Boomf begin, ’n ondernemin­g wat mense se persoonlik­e ontwerpe en foto’s op malvalekke­rs druk asook kaartjies wat ’n konfetti-“bom” loslaat wanneer jy dit oopmaak. James sê hy is iemand met goeie planne, maar hy het ander nodig om dit deur te voer en ’n sukses daarvan te maak.

Sy skuif na Glen Affric Lodge naby Loch Ness in Skotland verlede jaar was kort ná die einde van sy verhouding met die Britse TV-aanbieder Donna Air (39). Hulle het vyf jaar uitgegaan voor sy in Desember 2017 uitgemaak het.

Sy nuwe werkomgewi­ng veroorsaak nogal vir hom verleenthe­id, want hy verskyn nou gereeld op foto’s waarop hy tipiese Skotse tweed en jagpette dra, maar alles is blykbaar vergewe noudat hy ’n Instagram-ster is. V AN sy twee susters lyk dit of Pippa die naaste aan sy hart is. Hulle het ’n woonstel in Londen gedeel en kuier nog graag saam. Hulle het onlangs saam vakansie gehou in St. Barts, en Pippa se drie maande oue seuntjie, Arthur, was ook saam.

Die twee deel ook ’n liefde vir fiksheid, maar van die uiterste soort. Een van sy Instagramf­oto’s wys hulle nadat hulle 13 uur afgelê het in die Ötillö-SwimRun-wêreldkamp­ioenskap ten bate van die Michael Matthews-stigting. Michael was die broer van Pippa se man, ook James, wat in 1999 op 22 tydens ’n sneeustorm op Everest verdwyn het.

James is ook geheg aan sy ousus en wil graag die “beste moontlike oom” vir haar kinders wees.

“Ek wil die koel oom wees,” het hy aan Good Morning America gesê kort ná prinses Charlotte se geboorte. “Die lekker oom.”

Tog erken hy soms is dit nie so maklik om familie te wees van die toekomstig­e koningin van Engeland nie.

“Ja, dit kan frustreren­d word,” sê hy. “Ek werk ongeloofli­k hard, net soos enigiemand anders. Behalwe dat ek die broer is van iemand wat belangrik is, is en bly ek eintlik net James.”

 ??  ??
 ??  ?? HOOFOTO: Dit gons oor James Middleton. REGS: James Matthews, sy vrou, Pippa, hul baba, Arthur, Alizee Thevenet en James Middleton, en Mike en Carole Middleton, verlaat St. Barts vanjaar ná ’n vakansie daar. HEEL REGS: Pippa en James het Kate en William en hul oudste twee, George en Charlotte, op Kersdag vir ’n erediens op Bucklebury vergesel.
HOOFOTO: Dit gons oor James Middleton. REGS: James Matthews, sy vrou, Pippa, hul baba, Arthur, Alizee Thevenet en James Middleton, en Mike en Carole Middleton, verlaat St. Barts vanjaar ná ’n vakansie daar. HEEL REGS: Pippa en James het Kate en William en hul oudste twee, George en Charlotte, op Kersdag vir ’n erediens op Bucklebury vergesel.
 ??  ??
 ??  ?? Op Instagram kan ’n mens duidelik aflei James is mal oor die buitelewe en diere, veral sy spannetjie spanjoele. Hy het die vier foto’s bo (VAN HEEL BO) soos volg beskryf: “Impromptu lambing”; “Fishing Fridays”; “Doggy paddle lesson”; en “Double Denim”.
Op Instagram kan ’n mens duidelik aflei James is mal oor die buitelewe en diere, veral sy spannetjie spanjoele. Hy het die vier foto’s bo (VAN HEEL BO) soos volg beskryf: “Impromptu lambing”; “Fishing Fridays”; “Doggy paddle lesson”; en “Double Denim”.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa