Drie nuwe banke in SA om van te kies
Suid-Afrikaners kan nou uit meer banke kies – maar is dit die moeite werd om die skuif te maak?
STEL jou voor ’n groentjie durf die Groot Vyf aan. Dis presies wat nou in die bankwêreld gebeur. En die groentjie, of eintlik sommer drie groentjies, se beloftes laat dit klink asof hulle hul man teen die groot menere gaan staan. Want as die drie nuwelinge op die Suid-Afrikaanse banktoneel hul beloftes van min of geen maandelikse fooie en geen toustanery of papierwerk nie nakom, sal die groentjies dalk aanloklik vir kliënte wees.
Sal jy daarvan hou om binne minute ’n bankrekening by ’n bekende supermark oop te maak? Geen probleem nie, sê die nuweling TymeDigital Bank. Dan is daar Bank Zero, wat sy naam gestand wil doen deur sommige rekening- en transaksiekostes te skrap. En met sy nuwe bank-app wil die mediese versekeringsreus Discovery jou geldsake perdfris hou op dieselfde manier as jou liggaamlike gesondheid – deur fooistrukture wat jou finansiële gedrag beloon.
Maar wat presies beloof die nuwe banke? Sal jou geld veilig by hulle wees? Is die beloftes nie als net foefies nie? En sal dit regtig die moeite werd wees om jou rekening na ’n nuwe bank te skuif?
HOE VERSKIL DIE NUWELINGE VAN ANDER BANKE?
Anders as Suid-Afrika se “Groot Vyf ”banke – Standard Bank, FNB, Absa, Capitec en Nedbank – sal die nuwelinge eers net basiese rekenings en transaksionele dienste bied; dus aanvanklik geen lenings, huisverbande, voertuiglenings of oortrokke fasiliteite nie.
Hul groot lokaas is geen toustanery of papierwerk nie en die belofte van goeie aanlyn dienste. Deur weg te doen met banktakke en papierwerk, bespaar hulle op peperduur infrastruktuur en onderneem hulle om hierdie besparings deur te gee aan kliënte in die vorm van laer, en in party gevalle geen, bankkoste.
HOE VEILIG IS JOU GELD?
In 2014 het African Bank se kortstondige sprokiesverhaal tot ’n einde gekom weens te veel lenings aan kliënte wat eindelik nie hul bankskuld kon delg nie. Baie mense het toe hul spaargeld verloor.
Net verlede jaar is VBS Mutual onder kuratorskap geplaas weens ’n skandaal wat onder meer die koppe van sewe ANC-burgemeesters in Limpopo laat rol het. Gevalle van banke wie se aanlyn sekerheidsmaatreëls deur kuberskurke gebreek is, is ook nie onbekend nie.
In die lig daarvan is mense verstaanbaar senuagtig oor wie toegang tot hul spaargeld het, sê die verbruikersprokureur Trudie Broekmann.
“Die ergste ramp wat ’n kliënt kan tref, is die ineenstorting van ’n bank waar jy al jou spaargeld verloor, of as ’n misdadiger jou rekening leegmaak en jou bank nie bereid is om jou geld terug te betaal nie,” sê Trudie. “Kliënte moet seker wees ’n nuwe bank is in staat en bereid om hulle te beskerm, veral teen hierdie rampe.”
Michael Jordaan, Bank Zero se baas, verseker potensiële kliënte die bank moes ’n lang en strawwe proses deurmaak om die Suid-Afrikaanse Reserwebank tevrede te stel voor Zero ’n banklisensie toegestaan is.
IS DIT SO GOED SOOS WAT DIT KLINK?
Dit is hoog tyd vir ’n opskudding in die plaaslike bankbedryf, sê Petar Soldo,
uitvoerende hoof van Digital Republic Consulting en ’n kenner van banknavorsing in Suid-Afrika. Dit sal groot en gevestigde banke dwing om ook meer vernuwend te wees. “Die vorige groot opskudding was meer as ’n dekade gelede toe Capitec die mark betree het.”
Capitec was totaal onbekend toe hy sy deure in 2001 oopgemaak het. Maar danksy heelwat laer fooie vir basiese transaksiedienste is dit vandag SuidAfrika se grootste bank met nege miljoen kliënte. Die drie nuwe banke wil nou Capitec se prestasie oortref. Maar dinge is nie so eenvoudig nie, maan Petar.
Om ’n paar rand op fooie te spaar is aanloklik vir sommige, maar dit kan eindelik teen die nuwe banke tel. Petar glo verbruikers verkies een bank wat in al hul behoeftes voorsien.
Die belofte van “taklose” of papierlose bankdienste is volgens hom nouliks aardskuddend. “Verskeie verskaffers bied dit al baie jare lank.”
Dit klink aanloklik om als aanlyn te doen, maar die totale afwesigheid van fisieke banktakke kan ook problematies wees. Hoe gemaak wanneer jy dringend ’n banktransaksie moet doen en jy het beurtkrag? Of as jy om die een of ander rede nie jou slimfoon kan gebruik nie?
TymeDigital bied wel ondersteuningsdienste by supermarkte. “Maar dit beteken daar sal tog wel toustanery wees,” verduidelik Petar, “net op ’n ander plek.”
EN HOE LYK DIE TOEKOMS?
Petar waarsku die nuwelinge kan dalk met ’n knal wegspring deur groot besparings te bied, maar die vraag is of hulle koste op lang termyn laag kan hou. Die gevestigde Groot Vyf-banke het diep sakke en kan dus ’n prysoorlog wen.
“Hulle (gevestigde banke) sal sommige kostes kan sny, maar die nuwe toetreders begin reeds met die laer kostes. Met verloop van tyd sal hul (die nuwelinge se) kostes gevolglik toeneem namate die werklikheid inskop dat hulle as ondernemings geld moet maak.”
Maar Sandile Shabalala, uitvoerende hoof van TymeDigital, is optimisties. Daar is genoeg geleenthede om ’n suksesvolle onderneming te bestuur en ’n beter opsie aan kliënte te bied, sê hy. “Die transaksionele bankfooi-inkomste in die Suid-Afrikaanse bankbedryf beloop sowat R40 miljard per jaar. Ons glo daar is geleenthede binne daardie ruimte om te ontwrig en ’n wins te maak.”