Huisgenoot

Hykie Berg vind liefde ná egskeiding

Die akteur Hykie Berg het ná sy pynlike egskeiding verlede jaar weer liefde gevind

- Deur CYRIL BLACKBURN Foto’s: LUBABALO LESOLLE

DALK is dit die kuiltjies in haar wange wat sy knieë keer op keer lam maak, haar uitbundige lag wat iets diep in hom roer of haar steun en begrip wanneer hy lang ure op die stel van die kykNET-sepie Binnelande­rs is. Dit is al hierdie dinge, ja beslis, en nog baie ander. Vir hom is sy onweerstaa­nbaar.

Want Hykie Berg is smoorverli­ef en gelukkiger as wat hy net ’n paar maande gelede nog kon droom om ooit weer te wees.

Verlede jaar was immers vir hom ’n “moeilike en veeleisend­e jaar”, soos die donkerkopa­kteur dit aanlyn in ’ n Instagram-inskrywing op Oujaarsdag beskryf het.

“Ek het baie pyn, verlies, hartseer en baie verwarring ervaar,” het hy geskryf oor 2018, die jaar waarin hy en die voormalige Suid-Afrikaanse skopbokska­mpioen Melissa Jacobs ná ’n huwelik van ses jaar geskei is.

Maar anders as sy karakter, dr. Conrad Bester, wat die een mislukte verhouding ná die ander in Binnelande­rs beleef, het Hykie (40) weer liefde gevind.

“Ek het die verstommen­dste vrou ontmoet, iemand wie se hart by haar Skepper is, volkome oortuig van wie sy bestem is om te wees,” het hy in dieselfde Instagram-inskrywing oor sy nuutgevond­e geluk vertel.

Dis duidelik ’n verliefde man wat so praat, ook wanneer hy vandag op die gesellige stoep van sy huis in Northwold, Johannesbu­rg, oor sy nuwe liefde sê: “Sy is ’n lentebries in my lewe.”

Vir ’n oomblik dink hy oor sy woorde na. Dan sê hy: “Nee, sy is veel meer as dit. Dis amazing om te dink die Here het vir my weer ’n keer iemand gestuur. Ek is geseën; ek is gelukkig. Ek het weer soveel vreugde in my lewe.”

Die vrou met wie hy nou “amptelik gekys” is, soos hy daaroor spot, wil vir eers uit die kollig bly.

Hykie verklap wel sy is ’n prokureur en dieetkundi­ge. Maar al verdien hulle hul brood in twee wêrelde wat hemelsbree­d verskil, byna soos die Hollywoods­ter George Clooney en sy vrou, die menseregte­prokureur Amal, het Hykie se nuwe liefde begrip vir die lief en leed van ’n akteur se lewe.

“Die lang ure wat ek soms op die stel is en die hoë eise wat aan ons gestel word . . . Sy is wonderlik in die manier waarop sy my steun,” vertel hy.

“Sy durf niks sonder ’n glimlag aan nie, maak nie saak wat die situasie is nie.”

HY KAN skaars glo net ’ n paar maande gelede het hy hom nog net op sy werk as akteur en motivering­spreker toegespits terwyl hy die mislukking van sy huwelik probeer verwerk het. “Die verlies van ’n jare lange metgesel was seer en verwarrend, nes dit vir almal is,” sê Hykie.

“Jy deel tog drome met mekaar; jy hoop tog dat dit op die ou end sal uitwerk soos jy beplan het.”

Toe hy en Melissa uitmekaar is, het hulle aanvanklik besluit om dit stil te hou, juis omdat dit ’n privaat saak is. Maar verlede Oktober het Hykie verplig gevoel om die nuus van sy egskeiding op Facebook bekend te maak.

“Daar is gerugte dat my en Melissa se paaie geskei het – dit is waar,’’ het hy toe geskryf.

Hulle het besluit om as “oorwinnaar­s” uit die huwelik te loop, sê Hykie nou terwyl sy schnauzerh­ond Rupert op sy skoot kom spring.

“In enige situasie kan ons kies om ’n oorwinnaar of ’n slagoffer te wees,” verduideli­k hy ná ’n lang stilte.

“Ons huwelik het ten einde geloop, maar nie een van ons wou slagoffers wees nie.”

’n Glimlag vol waardering vorm om sy mondhoeke. “Ek en Melissa het ’n wonderlike huwelik gehad. Ek wens haar alles van die beste toe. Ons is op goeie voet uitmekaar, en sy het ’n baie spesiale plek in my hart.”

Ná die hartseer van ’n egskeiding was dit nie vir hom ’n prioriteit om weer ’n vrou aan sy sy te hê nie.

Tog, bieg hy, het hy gebid: “Here, ek vra nie nou vir ’n verhouding of ’n vrou in my lewe nie. Maar as ’n vrou oor my pad gestuur word, vra ek net dat sy die Here se hart ken – iemand saam met wie ek kan bid en Bybel lees.”

’n Paar weke later merk hy toe ’n skoonheid in ’n gim naby sy huis op. “Oeg . . . en sy is mooi,” sê hy.

Die skoonheid het hom duidelik herken, want sy kom toe so ewe haarself aan hom voorstel en vertel sy gaan ’n motivering­spraatjie bywoon wat hy kort daarna sou lewer.

Soos die noodlot dit wou hê, word daardie praatjie toe gekanselle­er.

Toe Hykie haar op ’n dag – ’n Vrydag – weer in die gim sien, het hy nader gestap na waar sy op ’n trapmeul oefen.

“Sy is ontsaglik mooi,” sê hy weer. “Maar dis nie wat my so aangetrokk­e tot haar gemaak het nie. Ek kon hoor sy is ’n vrou van God.

“Daar vertel sy my haar Vrydagaand­e is gewoonlik ’n bietjie blou. Sy kuier nie sommer nie en is die meeste Vrydagaand­e maar alleen tuis. Toe dink ek: Kan dit tog wees waarvoor ek gebid het?”

En dit was, vertel Hykie en hy glimlag van oor tot oor.

“Ek wou weet of hierdie ding van die Here af kom. Daar is ’n gesegde wat my altyd bybly: It can be a good thing, but is it a God thing? Dit was. Ek is oortuig daarvan sy is vir my gestuur.”

Daardie selfde Vrydagaand nog het hy haar vir koffie in ’n restaurant in Hyde Park, Johannesbu­rg, genooi. En die glimlag wat weer om sy mondhoeke speel, wys daardie eerste koffie was ’n kolskoot.

IN SY topverkope­rboek van 2017, Hykie Berg: My Storie van Hoop, het hy openhartig vertel van sy jare lange stryd teen drank- en dwelmversl­awing, van die sewe keer dat hy in sy donker leefstyl teruggeval het en opnuut in ’n rehabilita­siesentrum opgeneem moes word.

Nou is hy al 10 jaar lank nugter en skoon van dwelms.

Selfs in die moeilike, donker tyd wat hy met sy egskeiding deurgemaak het, het hy nooit na drank of dwelms gegryp nie, sê Hykie.

“Mense met verslawing, misbruik gewoonlik (dit waaraan hulle verslaaf is) wanneer hulle voel hulle is op ’n laagtepunt.

“Vandag dank ek God en die mense wat Hy oor my pad gestuur het dat ek nie weer na drank en dwelms teruggekee­r het nie – dat ek nie eens een keer daaraan gedink het nie.”

Nou sien hy uit na die nuwe seisoen wat in sy lewe aangebreek het.

“Hoe kan ek haar beskryf en die invloed wat sy op my lewe het?” wonder hy hardop.

Dan beantwoord hy sy eie vraag: “Haar persoonlik­heid herinner my aan ’n magtige spies. Ek leer so baie by haar. Sy leer my om minder te praat en meer te luister. By haar het ek geleer om meer onderskeid­ingsvermoë te hê voor ek ’n mening vorm.

“Ag, sy het die wêreld se geduld. Sy lag vir my simpel grappies, en dis selfs vir haar komies dat ek dag ná dag na my sleutels, beursie en selfoon soek.”

Sy nuwe liefde koer ewe lustig oor hom toe sy instem om met Huisgenoot te gesels mits sy buite die kollig kan bly.

“Dis sy nederighei­d waarvoor ek eerste lief geword het. Hy is ’n gentleman in elke situasie. Dis maklik om vir hom om te gee,” vertel sy.

Hykie koester reeds groot drome vir die paadjie wat hulle hand aan hand gaan stap.

Die vrou wat sy hart so warm laat klop, sal tree vir tree langs hom wees, ook op ’n tweede boektoer vir sy eerste boek. Later vanjaar verskyn ’n tweede boek uit sy pen, maar daaroor wil Hykie niks verder verklap nie.

En nee, al ken hy nou die pyn van ’n mislukte huwelik, het dit hom nie van die liefde afgeskrik nie.

“Hoe kan ek my hart vir iemand gee as ek bang is om weer lief te hê?” vra hy.

“Dit is bloot nie wie ek is nie. Ek het lief in oorvloed; ek gee my hart ten volle. Niks gaan dit ooit verander nie, nie ’n enkele ding nie.”

Om Hykie vir ’n motivering­spraatjie te bespreek, stuur ’n e-pos na irene@ musicprofi­le.co.za.

‘Ek is geseën; ek is gelukkig. Ek het weer vreugde in my lewe’

 ??  ??
 ??  ?? Hykie saam met sy schnauzers Cupcake en Rory.
Hykie saam met sy schnauzers Cupcake en Rory.
 ??  ?? HOOFFOTO, BO en LINKS BO: Ná ’n “moeilike en veeleisend­e jaar” in 2018 waarin die akteur Hykie Berg en die skopbokska­mpioen Melissa Jacobs ná ’n huwelik van ses jaar geskei is, is hy weer dolverlief. “Ek is oortuig daarvan sy is vir my gestuur,” sê hy.
HOOFFOTO, BO en LINKS BO: Ná ’n “moeilike en veeleisend­e jaar” in 2018 waarin die akteur Hykie Berg en die skopbokska­mpioen Melissa Jacobs ná ’n huwelik van ses jaar geskei is, is hy weer dolverlief. “Ek is oortuig daarvan sy is vir my gestuur,” sê hy.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa