Nuut op die rakke
Drie skrywers kyk terug op ’n lewe
THERE GOES ENGLISH TEACHER Deur KARIN CRONJE (Modjaji Books, R259*)
Dit is Karin Cronje se relaas van haar drie jaar as Engels- onderwyseres op ’ n Koreaanse dorpie en later aan ’n universiteit.
Hoekom het jy die boek nie in Afrikaans ook geskryf nie?
My Afrikaanse en Engelse “stemme” verskil, en ek moes op een fokus. Die ongekende wêrelde van Engels was stimulerend.
Ek sal dit wel nou graag in Afrikaans wil skryf – nie ’n direkte vertaling nie, maar ’n herskryf. Ek voel onvas op my Afrikaanse skrywersvoete ná jare se skryf in Engels – ’n goeie ding, want die herontdekking sal moeilik wees, en ek sal nie in geykte dele van myself kan verval nie. Ek sal wil sien hoe die twee stories van mekaar verskil.
Jy skryf die kultuurskok in Korea het nooit opgehou nie. Maar ook jou tuisland se kultuur skok jou. Wat bly oor vir ’n mens?
Wat oorbly, is ’n wese wat jy nie ken nie, ’n ander jy. Dit is ’n ongemaklike situasie, maar dit bring die moontlikheid van vernuwing: om ongekende eienskappe in jouself te ontdek. Stagnasie is ’n lelike ding, en kultuurskok raak ontslae van alle sufgetrapte paaie in jou. Jy is soos ’n slang wat vervel. Wel net met meer afgryse. Maar ek het weer aangepas, of liewer, ’n ander “ek” het aangepas. Dis dalk weer tyd vir ’n skok!
Wat was die pynlikste van jou ervarings waaroor jy in hierdie boek skryf?
Die lang proses wat gelei het tot die besef dat daar nie een vaste en durende “ek” is nie.
Ek moes eers alle sekerheid verloor en daarmee saam die vasklou aan ’n identiteit, voor ek kon besef dat die wese hier nie iets konkreets is nie; dat ek maar net uit indrukke bestaan wat deurgaans verander. Eers het ek so geglo en gedink en nou so. Watter een van die weergawes van myself was die werklike een?
Ons is soos wolke. Vlieg daardeur en jy besef jy het deur niks gegaan. Dit is vryheid. B
Jy sê jy sal aanhou skryf sodat jy kan aanhou bestaan. Waaraan skryf jy dus nou?
André P. Brink het eenmaal gesê hy weet nie wat die moeilikste is nie – die skryf van die boek of die uitgee daarvan. Teen die tyd dat jy publiseer, is jy so verlig dat die isolasie van die skryfproses op ’n einde is, dat jy nie op die uitkyk is na die volgende sarsie aanvalle nie. Publikasie bring allerhande onwelkome emosies mee. Darem ook hoogtepunte en blydskap. Dit is ’n intense proses wat jou in sy greep kry en geen ruimte vir iets anders laat nie. Gister nog het ek gesweer ek gaan nooit weer skryf nie.
Maar ek was lanklaas so wakker soos ek nou is met die skryf van hierdie antwoorde. Die wêreld maak weer sin.
Karin gesels op 4 Maart by die Woordfees op Stellenbosch.