ONNIE MAAK MY KIND SE LEWE HEL
Ek lees die brief aan onderwysers (Oppas, onnies, 24 Januarie), en my hart breek vir my kind.
Sy het besluit haar gr. 11- jaar gaan die beste jaar ooit wees. Sy het sommer van haar buitemuurse aktiwiteite gelos om net op haar skoolwerk te konsentreer.
Een middag stap sy huilend kar toe. Ek smeek twee uur lank voor sy my vertel hoekom sy huil.
Sy het haar een werkboek in die toesluitkassie by die skool vergeet. Haar onderwyseres wou haar nie toelaat om dit te gaan haal nie. Dié besluit toe sommer om my kind te verneder en beveel haar om die hele periode agter in die klas te staan met haar rug na die kinders gedraai. Die hele klas het uitgebars van die lag.
My kind het tot middernag gehuil. Ek moes net moed inpraat.
Ek wil die onderwyseres gaan spreek, maar ek weet ek gaan dit net moeiliker vir my kind maak omdat sy nog die res van die jaar by dié juffrou gaan klasloop.
Ek weet daar is wel puik onderwysers wat werklik ’n verskil in kinders se lewe maak. Dit voel asof my hande afgekap is. OR