Welkom-egpaar vind eindelik geluk
Ná ’n affair, liefdesbaba en motorongeluk het die Lean-egpaar van Welkom eindelik hul gelukkige einde
OP ’N dag ontmoet jy jou ridder op ’n wit perd of jou droomprinses. Dis liefde met die eerste oogopslag, julle trou en leef vir altyd gelukkig saam. Reg? Wel, nee. Nie altyd nie. Soms moet selfs die mense wat vir mekaar bestem is eers onvoorsiene ompaaie volg en allerhande uitdagings oorkom. Maar hoewel die lewe nie ’n sprokiesverhaal is nie, is daar tog soms tweede kanse en gelukkige eindes.
Vra maar die Lean-egpaar Nadine (32), ’n tuisteskepper, en Shaun ( 39), ’ n handelaar in tweedehandse motors van Welkom in die Vrystaat. Albei was in ongelukkige huwelike toe hulle ’n buiteegtelike verhouding aanknoop en ’ n liefdesbaba verwek, maar daarna is hul paaie skynbaar vir altyd uitmekaar.
Afsonderlik moes dié twee die dood van ’n kind en ’n verwoestende motor- ongeluk verwerk voor hullemekaarweer hulle mekaar weer gevind en getrou het – teen daardie tyd was albei geskei.
“Dis so ’n geluk- by- die- ongelukstorie,” sê Nadine met ’n glimlag waar sy in haar rolstoel in die ruim Welkomse woonhuis sit.
Die rolverdeling van dié buitengewone verhaal pryk op die gesinsfoto’s teen die mure om ons. Benewens Nadine en Shaun is daar hul liefdeskind, Adele* (nou 10). Shaun het haar een of twee keer gesien toe sy nog ’n baba was, maar sy was al drie jaar oud toe hy haar weer sien en uitvind sy is sy kind. Sy word nou deur albei haar biologiese ouers grootgemaak.
Dan is daar die driejarige Ben* – Shaun en Nadine se spesiale tweede kind. Nadine was reeds verlam toe sy aan hom die lewe geskenk het. Want soms het die werklike lewe tog iets met sprokiesverhale gemeen – ’n gelukkige einde ongeag al die slaggate.
DIS ’n sonnige dag en Ben smeek sy ma om saam met hom te swem. “Liefietjie, nee. Mamma sal nou-nou kom. Oupa gaan jou buitentoe vat met jou putter. Ek praat net eers met die tannie,” antwoord Nadine. Sy is modieus geklee, smaakvol gegrimeer en hanteer die woelige huishouding om haar met selfvertroue terwyl ons gesels. Dis maklik om te vergeet sy is in ’n rolstoel.
Haar en Shaun se besondere verhaal van tweede kanse het in 2007 begin. Hulle en hul eertydse gades het in Welkom gewoon en mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Die twee egpare het huisvriende geword – en gou was Shaun en Nadine meer as dit.
“Ons het twee jaar lank ’n buite-egtelike verhouding gehad. Egbreuk is nie iets waarop ’n mens trots is nie; dit is nou maar wat dit is,” vertel sy.
Toe raak Nadine swanger met Adele. En al het sy en Shaun vermoed dis sy
kind, he het hulle die verhouding beëindig. Adele is as haar eksman se kind in die lewe gebring.
Nadine was twee maande swanger met Adele toe die twee pare saam met vakansie gaan. Maar die wegbreek het in ’n tragedie ontaard – Shaun se babaseuntjie het onverwags weens ’n hartdefek gesterf.
“Ons was almal saam in die motor toe sy hartjie net ophou klop,” vertel Nadine.
Vir ’n oomblik vertrek haar gesig van die pyn. Hy was immers Adele se halfbroer.
Ná die dood van sy seun het Shaun se huwelik ál meer verbrokkel. Maar kort voor hy in 2010 geskei is, het Nadine en haar eggenoot na Rustenburg getrek waar hy met ’n nuwe werk begin het.
Dit het gelyk of Nadine en Shaun se paaie vir altyd geskei het, en sy het haar hande vol gehad met klein Adele. “Die lewe het aangegaan,” sê Nadine.
En toe kom nog ’n wrede wending. In Julie 2011 is Nadine, haar man en vriende saam op ’n naweekuitstappie na Welkom.
Op pad terug na Rustenburg het Nadine se man en hul vriende op motorfietse vooruit gery. Nadine, agter die stuur van hul vriende se bakkie, het hulle gevolg. Skielik het een van die bakkie se bande gebars en die voertuig gerol. Nadine is uit die bakkie geslinger.
“Ek het in die veld geval en probeer opstaan, maar kon nie beweeg nie,” sê sy.
Dit was eers die volgende dag, in die hospitaal in Welkom, dat sy die nuus kry.
“Die dokter het by my hospitaalkamer ingestap en gesê, ‘Meisiekind, jy het groot probleme, hoor. Jy’s verlam. Jy sal nie weer kan loop nie.’ ”
Die dokters het aan haar ouers gesê sy sal die res van haar lewe doeke vir volwassenes dra en voltyds in ’n bed moet lê.
Vier dae ná die ongeluk is sy na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas vir spinale chirurgie. Ná die operasie was haar prognose ietwat beter, maar loop sou sy nie weer nie.
Sy het nog lewe en gevoel in haar regterbeen, maar haar knieë kan haar glad nie meer stut nie. Sy verduur ook kwaai en chroniese pyn.
“My bene pyn van die oggend tot die aand. Met tye brand dit so erg dat ek wens ons kon dit eerder laat afsit. Maar ek weet ek moet dankbaar wees,” sê sy.
En Shaun? Hy het wel destyds van die ongeluk gehoor, maar het haar aanvanklik nie gekontak nie, vertel Nadine.
Nadine het drie maande in die hospitaal deurgebring, en in daardie tyd is ook sy geskei.
Dit was eers ses maande nadat Nadine uit die hospitaal ontslaan is dat Shaun haar gekontak het om te hoor hoe dit met haar gaan. En in Junie 2012, byna ’n jaar ná haar ongeluk, het Shaun gevra of hy vir haar kan kom kuier.
Hy het – en toe eers vir Adele as kleuterdogtertjie weer gesien. Shaun het dadelik raakgesien waaroor sommige van hul gemeenskaplike vriende al ’n wyle gefluister het – dat die dogtertjie alte veel na hom lyk.
“Dit was iets waaroor hy altyd gewonder het, maar hy wou nie verder inbreuk maak op ons lewe nie,” vertel Nadine. “En nadat hy haar gesien het, is vaderskapstoetse eindelik gedoen.”
Sy vertel Shaun was dadelik lief vir Adele. Hy het haar en hul dogtertjie ál meer besoek.
In April 2015 is hulle getroud en het die drie hulle as ’n gesin in Welkom gevestig. Hul liefdesbaba se biologiese pa was nou ook haar wettige pa.
NADINE wonder soms of Shaun heimlik hoop sy sal eendag weer kan loop. “Maar hy het eenkeer vir my gesê, ‘My vrou, ek sal jou vir niks in die wêreld verruil nie.’ ” “Waaroor hy die hartseerste is, is dat hy die eerste jare van sy dogter se lewe misgeloop het.”
Sy lag wrang toe sy terugdink aan die dokters se aanvanklike prognose dat sy bedlêend sou wees. “Vandag bestuur ek my eie aangepaste motor,” sê sy.
“Daar was ’n tyd dat ek vir die lewe kwaad was, maar ek het besef niemand gaan dan meer by my wil wees nie, en ek sal ’n depressiewe mens word. Dus het ek besluit om soveel moontlik dinge vir myself te doen.”
Sy en Shaun het besluit om hul “tweede kans” met nog ’n kind te vier – en in 2016 is Ben met ’n keisersnee in die lewe gebring. Die dokters het gedink sy sal nie die epiduraal voel toe dit toegedien is nie. Maar sy hét.
“Ek weet nie of my rug selfs ná die ongeluk so seer was nie. Ek het Shaun agterna gevra of ek gehuil het. Hy sê toe, ‘My vrou, ek het jou nog nooit so seer sien kry nie.’ ”
Sy was verheug om Shaun ’n seun te kon gee nadat hy sy geliefde seuntjie aan die dood afgestaan het.
“Ons het ons obstacles gehad. Maar die Here was goed vir ons,” sê sy.
Die lewe het maar sy uitdagings, sê Nadine toe ons groet. Maar op die kronkelpad na geluk kan alles eindelik oorkom word. * Skuilname.
‘Soms brand my bene so erg dat ek wens ons kon dit laat afsit’ ‘Daar was ’n tyd dat ek vir die lewe kwaad was’