Huisgenoot

Nianell vind ’n engelman op haar pad

Op 48 is die sangeres Nianell weer smoorverli­ef en het sy die engel gevind vir wie sy in ’n donker tyd van haar lewe gebid het

- Deur JOANIE BERGH Foto’s: CORRIE HANSEN

MAANDE ná haar egskeiding, in haar eensaamste, donkerste nagte, het sy gebid dat ’n engel haar pad kruis. Haar besluit om ná ’n huwelik van 14 jaar te skei was vir die sangeres Nianell die moeilikste van haar lewe. Boonop het sy onder fel kritiek van teleurgest­elde aanhangers deurgeloop toe haar egskeiding van Andrew Thompson in 2014 die nuusopskri­fte haal.

Maar toe, agt maande later, vroeg in 2015, ontmoet sy hom – die engel vir wie sy gewag het.

“Die liefde van my lewe,” noem sy die donkerkopm­an. “Eintlik is hy meer as dit,” sê Nianell, en haar rooi lippe glimlag breed. “Hy’s die liefde van my éwige lewe.”

Nadat die sangskoonh­eid haar nuwe verhouding lank stil gehou het, vertel sy nou vir die heel eerste keer van die nuwe man in haar lewe, en haar gesig helder op. In haar 48 jaar het sy nog nooit so oor iemand gevoel nie, sê sy. Sy naam wil sy nie bekendmaak nie omdat sy hul verhouding koester en privaat wil hou. Maar ja, ná al die seer het sy weer liefde gevind.

“Ek het by ’n konsert in die Kaap opgetree en dit was donker. Hy het agter my gestaan toe ek hom hoor vra: ‘Can I help you with your bag?’ Toe ek die vibrasie van sy stem hoor, toe wéét ek – hierdie man ken ek. I felt at home.”

Sy het omgedraai, maar kon hom nie mooi in die donker sien nie. Hulle het saam na haar motor gestap, wat tussen bome op ’n wynplaas geparkeer was.

“Toe die motors se ligte op hom skyn, het ek dadelik sy oë gesien. Hy het die mooiste blou oë gehad wat ek al in my lewe gesien het. Hy het donker hare en hierdie bosbaard gehad,” beduie sy terwyl sy lag.

Dié Engelsman het by die optrede as ’n elektrisië­n gewerk en nie eens geweet wie die sangeres is wat hy met haar tas help of dat sy in 2002 Suid-Afrikaners se harte gesteel het met haar liedjie “Who Painted the Moon?” nie.

“Hy is my sielsgenoo­t. Hy is gentle en kind, en ek word elke dag net liewer vir hom,” sê sy.

Toe sy foto’s op haar selfoon wys van

hulle twee wat mekaar omhels, soen en snaakse gesigte trek, is dit duidelik dat hulle ná vier en ’n half jaar saam steeds smoorverli­ef is.

“Om liefde in jou 40’s te vind is ongeloofli­k lekker,” mymer Nianell terwyl haar vinger van foto na foto oor haar selfoonske­rm vee.

Tog was dit nie vir haar maklik om weer haar hart vir die liefde oop te stel nie. “Jy kan nie iemand leer liefhê met ou bagasie nie. Jy kan nie ’n nuwe huis bou met ou stene nie,” sê sy ernstig.

“Ek moes my verlede heeltemal agter my stel. En toe ek dit regkry, het my lewe verander.”

HIER op die stoep van haar huis op Yzerfontei­n aan die Kaapse Weskus hang die reuk van fynbos in die lug en hoor jy die branders breek. Sonia Nel – beter bekend as Nianell – is kaalvoet en lyk ontspanne in ’n lang, swart rok. Haar dik bos rooi hare hang los oor haar skouers. Haar kitaar staan eenkant en die oop klavier verklap sy het al vanoggend musiek gemaak. Sy breek gereeld weg om hier by die see tyd alleen deur te bring – weg van die Goudstad se gejaag.

“Ek is op die beste plek waar ek al ooit was,” sê sy en gaan op ’n kombuissto­el sit en kruis haar bene.

Tog het sy deur diep waters gegaan. Haar geliefde ma se onverwagte dood in 2012 was vir

Nianell soos ’n skok wat haar hart oopgeruk het. Heletjie het op 66 in haar slaap gesterf, ’n dag ná ’n rugoperasi­e wat volgens dokters ’n sukses was.

“As klein dogtertjie het ek die idee gekry dat ek my ma moet red, dat ek haar ’n beter lewe moet gee. Die enigste manier hoe ek dit kon doen, was om famous te word en te sing. Ek het nog altyd net vir haar gesing,” sê sy, en trane wel in haar blou-groen oë op. “Toe sy so skielik dood is, was my behoefte om te sing weg. Want vir wie moet ek nou sing? Vir twee jaar ná haar dood het ek gesukkel en aangestoom.”

In dié tyd het sy “ThetaHeali­ng” ontdek. Dit word beskryf as ’n “genesingst­egniek wat op ’n mens se natuurlike intuïsie staatmaak” en deur diep meditasie op die onvoorwaar­delike liefde van God fokus. God is die Een wat mense kan genees, benadruk Nianell, sodat jy jouself kan aanvaar en liefhê.

Nadat sy jare lank haar eie gevoelens onderdruk het, moes sy weer leer om te voel. “Ek het skielik besef ek is nie gelukkig nie. Ek en Andrew het mekaar ontmoet ses maande nadat my eksverloof­de my verneuk het. Ek was stukkend en bang om alleen te wees. Hy was ook stukkend en seer – toe trek ons mekaar aan.” Vandag beskou sy die moeilike keuse om te skei as die beste besluit wat sy nog in haar lewe geneem het. “Ons het glad nie al die jare gemors nie,” sê sy oor hul huwelik. “Ons was saam by ’n leerskool en ons het graad gevang. Ons het drie pragtige, ongeloofli­ke dogtertjie­s gekry,” sê sy oor Tayden, Kaeley en Jade (nou 12). “Eindelik het ons besef ons pas net nie by mekaar nie. Toe skei ons uit liefde vir mekaar.” Dié stap het hewige kritiek ontlok. “Mense het vir my boodskappe gestuur, gesê God verwerp my en dat hulle my CD’s in die asblik gegooi het. Natuurlik het dit my gepla, maar ek moes leer dat ek my eie geluk kies.”

Ook vir Andrew gun sy geluk. ’n Maand nadat hy uit hul huis in Johannesbu­rg getrek het, het hy ’n Amerikaans­e rekenmeest­er ontmoet wat “ongeloofli­k goed is vir hom”, vertel Nianell.

“Hulle pas so mooi by mekaar. Sy self het twee dogtertjie­s, en ons drieling is mal oor hulle. Nou het hy vyf dogters,” lag sy.

Nadat sy danksy die Theta-tegniek haarself leer liefhê en aanvaar het, het sy besluit om dit ook in te span om ander te help. Kliënte nader haar oor alles van finansiële en gewigs- tot verhouding­sprobleme. Musiek maak deel uit van so ’n sessie wanneer Nianell saam met hulle mediteer en dan ook ’n melodie sing wat haar te binne skiet. Dit alles help om hulle bewus te maak van opvattings wat hulle koester, byvoorbeel­d “ek is nie mooi nie”, en hulle dan tot nuwe insigte te bring, sê sy. “Dit wat jy glo, sal jou werklikhei­d word,” vertel sy.

Sy het pas ’n nuwe selfhelpbo­ek, Life Simplified, uitgereik wat sy in haar sonkamer by haar huis in Johannesbu­rg geskryf het.

“Ek moes self leer om eenvoudig te lewe, en ek het besluit om hierdie boek te skryf om ander te help om dit reg te kry. Die boek wil mense wys die lewe gebeur nie net met jou; jy skep dit saam met God,” sê sy terwyl sy daardeur blaai.

Sy moes baie verloor – haar huwelik en haar ma – voor sy kon ontdek wie sy werklik is.

“Ek het die hoogste piek van die berg bereik; rykdom, sukses en roem. Ek het alles gehad, maar ek was alleen en afgesonder­d. Ek moes besef – dit gaan nie daaroor om die piek te bereik nie; dit gaan oor die reis.”

Voor ons groet, skuif Nianell voor haar klavier in en sing met haar nagtegaals­tem ’n nuwe liedjie, “Love Wins”, wat sy vir haar Engelse ridder geskryf het: “So I let you breathe me in, you let me take you in, within . . . and love wins.”S

 ??  ?? Ná haar egskeiding het die sangeres Nianell ’n nuwe liefde gevind wat haar dolgelukki­g maak. En sy spog boonop met ’n nuwe boek om ander te help.
Ná haar egskeiding het die sangeres Nianell ’n nuwe liefde gevind wat haar dolgelukki­g maak. En sy spog boonop met ’n nuwe boek om ander te help.
 ??  ?? Nianell by haar pragtige drieling saam met haar eksman, Andrew Thompson: Van links is Kaeley, Jade en Tayden. Hulle kom baie goed oor die weg met hul ma se ridder en hul pa se nuwe vrou.
Nianell by haar pragtige drieling saam met haar eksman, Andrew Thompson: Van links is Kaeley, Jade en Tayden. Hulle kom baie goed oor die weg met hul ma se ridder en hul pa se nuwe vrou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa