Huisgenoot

Inwoner maak plan met Harrismith

Die ou ‘juweel van die Vrystaat’ was op pad na ondergang – toe gryp hierdie planmaker self in

-

SOOS ’n koning op sy troon sit hy agteroor op sy groot, opgestopte rooi leerstoel. Net sy baritonste­m versteur die stilte tussen die stinkhoutp­anele van sy kantoor. En Ben Deysel is inderdaad ’n koning – die koning van die kruispad. Hy regeer oor Highway Junction, die tweede grootste en winsgewend­ste vragmotorh­alte in die ganse Afrika. Sy ondernemin­g, wat langs die strategies­e kruising van die N3- en N5hoofweg by Harrismith hurk, is ’n miernes van bedrywighe­id. Of jy nou van noord na suid tussen Gauteng en Durban se hawe ry, of van oos na wes tussen Lesotho en die Noord-Kaap – Ben se plek is waar jy stop vir brandstof, kos, ’n warm stort en ’n veilige oornagplek.

Dis g’n verrassing om te hoor Ben (63) is die afgelope 12 jaar ook voorsitter van Harrismith se sakeforum nie. Maar dinge is al ’n geruime tyd nie lekker in die Oos-Vrystaatse koninkryk nie.

“Harrismith was eens die juweel van die Vrystaat, lank voor Clarens die titel verower het,” vertel Ben.

“Maar nou is die dorp in ’n toestand. Die strate is vol rioolvuil. Slaggate in die strate verwoes motors se wiele. Rioolvuil vloei in die riviere in en die water uit die krane lyk soos modder. As mense nou van Harrismith praat, praat hulle net van die Wimpy langs die pad,” sê Ben.

Boonop het Eskom gedreig om die dorp se krag af te sny omdat die plaaslike Maluti-a-Phofung-munisipali­teit se kragrekeni­ng met sowat R4 miljard agterstall­ig was. Dít terwyl die dorpenaars en die ondernemin­gs volgens Ben getrou betaal het. “Die geld wat aan die munisipali­teit betaal word, verdwyn net. Dit kom nooit by Eskom uit nie,” beweer hy.

Toe besluit die koning van die kruispad en sy ridders van die sakeforum om sommer self orde in die koninkryk te herstel. En ná ’n uitmergele­nde regstryd van twee jaar kon hulle verlede jaar triomfante­lik ’n hofbevel omhoog hou – een wat die dorp se 100 grootste kragverbru­ikers toelaat om hul krag regstreeks van Eskom te koop.

“Daarmee skakel ons die munisipali­teit as middelman uit,” sê Ben.

Die wind, altyd rusteloos hier aan die voet van die besige Van Reenenspas oor die Platberg, pluk-pluk aan die ruite. Maar vir Ben is dit die soete winde van veranderin­g.

DIT is nie die eerste keer dat Ben en die sakeforum die wapen opneem vir hul dorp nie. In 2015 wou die SuidAfrika­anse Nasionale Padagentsk­ap (Sanral) die roete van die N3 tussen Johannesbu­rg en Durban verander – weg van die dorp af. “Dit sou Harrismith in ’n spookdorp verander het,” sê Ben. “Niemand sou meer op Harrismith gestop het nie. Ons lewensaar sou afgesny gewees het.” Hy reken die dorp sou 1 600 werkgeleen­thede verloor het.

Die sakeforum se prokureurs het met Sanral en die minister van vervoer vergader. Ná talle meningspei­lings, openbare vergaderin­gs en navorsing deur ekonome is die planne vir ’n nuwe N3roete oor die Drakensber­ge, asook ’n peperduur tolhek, laat vaar. “Die minister het besluit om die N3 so te hou en dit eerder op te gradeer,” verduideli­k Ben.

Maar hulle kon nie op hul louere rus

nie. Die probleme met die munisipali­teit se betalings aan Eskom het ál erger geraak. Die Maluti-a-Phofung-munisipali­teit, wat maandeliks sowat R180 miljoen se krag verbruik, se uitstaande elektrisit­eitsrekeni­ng is die grootste in die land, vertel Ben.

“Ons (die 100 grootste kragverbru­ikers) het getrou ons munisipale rekenings betaal. Maar die geld gaan nie na Eskom toe nie, en hulle het verlede jaar verskeie kere gedreig om die kragtoevoe­r na die dorp heeltemal af te sny.

“Daar is 164 000 voorafbeta­alde elektrisit­eitsmeters op die dorp, maar Eskom ontvang maandeliks slegs 32 000 van dié meters se geld,” beweer Ben.

Ingevolge die hofooreenk­oms sal die dorp se nyweraars steeds hul krag deur die munisipale netwerk ontvang – maar die rekening dan regstreeks aan Eskom betaal. Die betrokke kragverbru­ikers sal nuwe, afsonderli­ke kragmeters en verwysings­nommers van Eskom kry.

Onder die 10 sake-instansies wat reeds hul nuwe meters het, is Ben se Highwaygro­ep, en die res van die sakegemeen­skap sal na verwagting teen einde November ook by die nuwe stelsel ingeprop wees.

Maar dis nog nie die einde van die saak nie. Volgens Ben doen die sakeforum nou aansoek dat die munisipali­teit se kraglisens­ie deur die Nasionale Energiereg­uleerder onttrek word. Die doel is dat die hele dorp – gewone huiseienaa­rs ingesluit – eindelik regstreeks krag van Eskom sal kan koop.

“Ons wil ook hê die munisipali­teit moet ontbind. Die sakeforum en departemen­t van plaaslike regering moet ’n gesamentli­ke herstelpla­n vir die dorp opstel en ’n nuwe munisipali­teit moet in plek gekry word,” sê Ben. “Daar is so baie kundige mense op die dorp wat wil hê die gemeenskap moet vooruitgaa­n en selfstandi­g wees.”

Hy noem as voorbeeld die sogenaamde “Water Heroes”, ’n groep vrywillige­rs uit die kontrei. “Dit is boere en inwoners wat waterpompe en pyplyne op die dorp uit hul eie sak herstel of vervang, want die munisipali­teit doen dit nie.”

Ben het ook al sommer self elektrisië­ns uitgestuur om verkeersli­gte en straatligt­e op die dorp te herstel, en hy reël ook skoonmaakp­rojekte op die dorp.

“Ons het al ’n paar keer ’n bloutjie geloop met die munisipali­teit, wat sommer die polisie bel en sê ons saboteer of beskadig hul eiendom. Maar eintlik wil ons net help om ons dorp tot sy vorige glorie te herstel.”

BEN is al 25 jaar lank ’n krag op Harrismith. Voor dit was hy in Johannesbu­rg, waar hy ’n logistieke ondernemin­g bedryf het. Maar hy het dit nie altyd breed gehad nie. “Ek het arm grootgewor­d,” vertel hy. “My pa was ’n predikant, en ons moes maar plan maak om kos op die tafel te kry.”

Maar as jy hard werk en als vir jou gemeenskap gee, sal jy die vrugte daarvan pluk, glo hy. Dit is vir hom belangrik dat sy onmiddelli­ke omgewing vir hom en sy familie veilig en volhoubaar moet bly. ’n Mens pak nie net op wanneer dit nie goed gaan nie, glo hy; jy maak ’n plan om dit beter te maak daar waar jy reeds is.

En vir hom is dit hier, langs die kruispad van die besige vervoerare tussen noord en suid, oos en wes; hier waar die vragmotors met brullende dieselenji­ns en sissende lugremme stilhou en wegtrek.

Hier op Harrismith, en ook hier in Suid-Afrika. Ben het immers ook drie kinders en agt kleinkinde­rs. “Ek wil nie hê my kinders moet iewers oorsee gaan weens die uitdagings in ons land nie. Ek wil hulle naby hou. Hulle is my alles, en as ons nie nou iets doen nie, gaan ons nageslag daaronder ly,” sê hy.

“Ek wil hê my kleinkinde­rs en agterklein­kinders moet eendag kan sê hul oupa het nie net gepraat nie – hy het gedóén.” ■

Teen druktyd het die plaaslike munisipali­teit en Eskom nog nie kommentaar gelewer nie.

’n Mens pak nie net op wanneer dit nie goed gaan nie, glo hy; jy maak ’n plan om dit beter te maak

 ?? Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: FANI MAHUNTSI ??
Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: FANI MAHUNTSI
 ??  ?? HOOFFOTO en REGS BO: Ben Deysel en die Harrismith-sakeforum het ’n oplossing gekry vir die munisipali­teit se reusekragr­ekening. REGS: Sy vragmotorh­alte is die tweede grootste in Afrika.
HOOFFOTO en REGS BO: Ben Deysel en die Harrismith-sakeforum het ’n oplossing gekry vir die munisipali­teit se reusekragr­ekening. REGS: Sy vragmotorh­alte is die tweede grootste in Afrika.
 ??  ?? Ben saam met sy elektrisië­n, Corrie Lottering. Hy stuur gereeld kundiges soos Corrie uit om probleme soos verkeersli­gte wat nie werk nie op die dorp te herstel.
Ben saam met sy elektrisië­n, Corrie Lottering. Hy stuur gereeld kundiges soos Corrie uit om probleme soos verkeersli­gte wat nie werk nie op die dorp te herstel.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa