Steratleet Gerda deel suksesresep
Eers het sy glimlaggend ’n Comradesrekord gehardloop; nou het Gerda Steyn ook vir die Spele gekwalifiseer. Sy deel haar suksesresep
MIN mense wat vroeër vanjaar gesien het hoe die blondekopvrou die Comradesmarathon in ’n rekordtyd kafdraf en vir groot dele van dié moordende ultrawedloop boonop met ’n glimlag hardloop, sou dit sommer glo dat sy eintlik ’n nuweling in padwedlope is.
Maar Gerda Steyn (29) het eers vyf jaar gelede met toewyding begin hardloop en net twee jaar gelede besluit om voltyds ’n atleet te wees.
Sedertdien het Gerda behoorlik haar stempel op die hardloopwêreld afgedruk met onder meer daardie Comradesrekordtyd. Dit het haar die eerste vrou gemaak wat die 89 km-roete tussen Durban en Pietermaritzburg in minder as ses uur kon aflê. Sy het ook vroeër vanjaar die Twee Oseane-ultramarathon van 56 km in Kaapstad gewen.
En vroeg vandeesmaand het die boorling van Bothaville in die Vrystaat haar weer teen die wêreld se bestes gemeet – dié keer in die New York-marathon, waar sy die 11de plek behaal het met haar persoonlike beste marathontyd van 2:27:48 vir die 42,2 km-afstand.
Daarmee het sy nie net die vierde vinnigste Suid-Afrikaanse vrou oor dié afstand geword nie; sy het boonop vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio, Japan, gekwalifiseer. Nie sleg vir iemand wat nooit gedink het hardloop sal haar beroep word nie.
“Ek was ’n bourekenaar en eintlik vrek gelukkig in my werk,” vertel Gerda oor die telefoon uit Doebai, haar tweede tuiste.
Toe sy in 2014 in dié woestynstad aankom om daar te werk, het sy niemand geken nie, en ’n kollega het voorgestel sy sluit aan by sy hardloopklub.
“Ek het nog altyd van draf gehou en het toe so gemaak. Ek het my eerste keer in die stadige groep begin,” vertel die vrou wat nou die dag in New York teen ’n gemiddelde pas van 3 min. 35 sek. per kilometer gehardloop en dit boonop maklik laat lyk het.
Die drafgogga het haar met mening gebyt toe sy by die klub aansluit, en ’n paar maande later het sy vir die Comradesmarathon van 2015 ingeskryf.
“Hardloop maak my gelukkig, want dit laat my voel of ek die wêreld kan oorheers,” vertel sy. “Dis ’n harde sport, maar ook ’n heerlike een. Jy kry uit wat jy insit.”
Om die kroon te span het sy by die Doebaise hardloopklub die ander liefde van haar lewe ontmoet – ’n Britse vlieënier, Duncan Ross (44). Gerda en Duncan het verlede jaar verloof geraak en rits nou rond tussen Suid-Afrika, Doebai en Nice in Frankryk, waar hy ’n huis in die Alpe het. Maar sy bly eintlik ’n Vrystaatse plaasmeisie wat van pap en vleis hou, sê Gerda. “Hardloop maak my net régtig gelukkig.”
TOE haar ouers, Trudie en Pieter Steyn, wat buite Bothaville met skape en beeste boer, in 2015 hoor Gerda het vir haar eerste Comrades ingeskryf, was hulle uit die veld geslaan. “Ek dink hulle het gedink ek is mal. Hul jongste dogter trek oorsee en besluit dan sommer sy doen die Comrades ’n paar maande later!” lag sy.
Nie dat sy hulle kwalik neem nie – sy hou vol dat sy maar nog altyd “gemiddeld” in sport en atletiek was. “Regtig! Selfs in die klein skooltjie op Bothaville waarin ek was, het ek nie uitgestaan nie. Ek het aan sport deelgeneem en was nog altyd aktief, maar dis dit.
“As iemand vier jaar gelede sou sê dat ek die Comrades en Twee Oseane sal wen, sou ek vir hulle gelag het.”
As ’n student in bourekenkunde aan die Universiteit van die Vrystaat het sy ’n bietjie gedraf, maar net sosiaal en om aktief te bly. “Ek het so af en toe aan ’n
5 km-wedloop deelgeneem. Net ’n hand vol kere ’n 10 km, want dit was ver – dis dit!”
Maar toe lê sy haar eerste Comrades in 8 uur 19 minute af en ontmoet die aand daarna die oudComrades-wenner en afrigter
Nick Bester op ’n geleentheid. “Hy sê toe as ek ’n marathon in onder drie uur hardloop, moet ek hom laat weet – en daarna was ek vasbeslote.”
Sy het in Doebai bly oefen, en haar tyd het ál vinniger geraak.
Enkele maande later kon sy daardie oproep aan Nick maak, en hy is vandag nog haar afrigter.
Die spoed waarteen sy verbeter het, is verbysterend. In haar eerste Comrades was sy 56ste, toe 14de in 2016, vierde in 2017, tweede in 2018; en toe vanjaar se droomwedloop waarin sy die Rus Elena Nurgalieva se 13 jaar oue rekord met meer as 10 minute verbeter en boonop 17de algeheel geëindig het – met net 16 mans wat vinniger as sy kon hardloop.
En dit als met daardie stralende glimlag op haar gesig. “Ek dink dis my secret weapon,” sê sy daaroor. “Ek kan wegsteek hoe erg dit soms vir my is, en dis ’n goeie ding. Of ek nou sukkel of lekker hardloop, ek lyk dieselfde.”
Haar sukses is “miskien 50% genetika en 50% harde werk”, sê die plat-op-dieaarde atleet.
“My longkapasiteit is goed en ek herstel baie vinniger as ander atlete, maar niemand in my familie is juis sportief nie. Ek het wel een oom wat die Comrades al vier keer gedoen het. Tel dit?” vra sy laggend.
Ná haar vinnige vordering het Gerda in 2017 besluit om haar werk te bedank en voltyds op haar hardlooploopbaan te fokus. Toe ’n stresfraktuur in haar skeenbeen haar kort daarna plattrek, het sy gewonder of dit ’n fout was. “Dit was vir my baie erg. Daai tyd het ek nog nie ’n inkomste deur hardloop verdien nie.”
Maar danksy Duncan se finansiële steun kon sy vasbyt, en haar resultate wys dat dit die regte besluit was.
“Hardloop leer jou om geduldig en bewus van jou liggaam te wees. Dit leer jou om dinge te waardeer. Jy het nie ’n enjin om jou te dryf nie – net jou eie lyf en ’n paar draftekkies.”
Sy bestuur haar hardloopdagboek baie streng en maak seker sy hardloop nie te veel langafstandwedlope nie.
Juis daarom steur sy haar nie aan mense wat sê sy het te vroeg haar toppunt bereik nie. Baie langafstandatlete hardloop hul beste tye eers diep in hul 30’s, sê sy.
“Ek dink dis outyds om so daaraan te dink. Ek hardloop nie heeltyd sulke ver afstande soos die atlete van ouds nie. Ek is nog heeljaar beseringvry en sien uit na wat voorlê.”
GERDA het eintlik drie wonings: in Johannesburg by haar ousus, Estie, in Doebai by Duncan en sy Frankrykhuis, waarheen hulle dikwels wegglip om te ontspan. “Maar Suid-Afrika sal altyd my kern bly, en ek sal altyd daar oefen en deelneem.”
Vanweë sy werk en haar bedrywige hardloopdagboek sien sy en Duncan mekaar soms min. “As ek iewers deelneem of oefen, probeer hy sy dinge so reël dat ons mekaar sien, en ek doen dieselfde.”
Die paartjie beplan ’n “klein, intieme troue”, maar meer daaroor wil sy nie verklap nie. En hulle moet nog besluit waar hulle gaan nesskop.
“Ek sien my toekoms in Suid-Afrika, maar droom ook daarvan om in Frankryk te woon.”
Sy oefen gewoonlik twee keer per dag, vyf keer per week. En wanneer die Doebaise somerdae te warm word, oefen sy in die swembad of gimnasium.
“Ag, maar ek haat dit om op ’n treadmill te hardloop. Ek’s nie daarvoor gemaak nie,” sê sy met ’n sug.
Sy is vir eers minder bedrywig ná die New York-marathon en rus sodat haar lyf kan herstel. Oor 2020 en vir watter wedlope sy dan gaan aantree, sal sy en Nick nog besluit.
Maar nou is daar eers kans vir tyd saam met vriende deurbring en ontspan. Dis vir haar belangrik om ’n “normale lewe” te lei; daarom volg sy nie ’n spesifieke dieet nie en sal sy nie nee sê vir ’n glas wyn of blokkie sjokolade nie. “As ’n glasie wyn my nou gelukkig gaan maak, sal ek een drink; dis die moeite werd.”
Gebeur dit ooit dat sy soggens opstaan en glad nie lus is om te oefen nie?
“In alle eerlikheid, nee. My lyf voel dalk soms seer, maar dan dink ek net: ‘Jy kan altyd weer na jou kantoor-job toe teruggaan.’ En dan trek ek my tekkies aan.” ■
‘Of ek nou sukkel of lekker hardloop, ek lyk dieselfde’