Prinses Margaret “praat” met aktrise
Helena Bonham Carter, wat Margaret in The Crown speel, beweer die oorlede prinses het deur ’n medium met haar oor haar rol gepraat
HAAR voorbereiding vir haar nuwe rol as prinses Margaret het nie net een nie, maar sommer twee “ontmoetings” met die koninklike ingesluit – al is die prinses lankal dood. Die eerste, regte ontmoeting was toe die Britse aktrise Helena Bonham Carter (53) in haar vroeë 30’s was – lank voor sy geweet het sy sou eendag die rol van Margaret in die Netflix-reeks The Crown vertolk.
Die derde seisoen van dié reeks is pas uitgereik, met Helena wat die rol oorneem by die aktrise Vanessa Kirby (31), wat die jonger koninklike in die eerste twee seisoene gespeel het.
Helena is destyds by ’n partytjie van haar oom aan die prinses voorgestel. Hy was die oorlogsheld lt. Mark Bonham Carter, wat in ’n stadium by Margaret vlerkgesleep het.
“Ek onthou ek het gedink: Ek moenie my rug op haar keer nie; ek moenie my rug op haar keer nie,” sê die aktrise.
“Een van haar eienaardighede was dat sy iemand tegelyk kon komplimenteer en beledig. Sy het vir my gesê: ‘O, jy word soveel beter met toneelspel.’ Ek het gedink dis regtig snaaks.”
Haar tweede “ontmoeting” met koningin Elizabeth se jonger suster was eers onlangs, toe sy voorberei het op haar rol in The Crown, het Helena aan die geselsprogramaanbieder Graham Norton gesê. En dit was lank ná Margaret se dood in 2002.
“Ek het ’n vriendin wat ’n medium is, en ek het haar oor iets anders gaan sien, toe sê sy: ‘O, Margaret is hier. Beteken dit enigiets?’ en ek het gesê: ‘Ja, dit beteken iets.’ Ek het gevra of sy omgee dat ek haar speel, en sy het gesê: ‘Ek dink jy is ’n beter idee as die ander aktrise (wat vir die rol oorweeg is).’ Dit was ’n baie tipiese Margaret-ding.”
Margaret, wat straf gerook het, het in haar “verskyning” glo boonop ’n stukkie toneelspelraad vir Helena gehad. “Kry die rokery reg. Die sigarethouer is net soveel ’n wapen om jou mee uit te druk as enigiets anders.”
In seisoen drie van die reeks val die kollig op die einde van Margaret se huwelik met die fotograaf Antony Armstrong-Jones, ook be
kend as lord Snowdon, en haar skandalige verhouding met Roddy Llewellyn, ’n tuinier wat later ’n mislukte popster geword het en 17 jaar jonger as sy was.
Om so ’n rol te vertolk is iets wat ’n jong Helena haar nie sou kon indink nie. “Toe ek grootgeword het, was jy (’n aktrise) in ’n mate uitgesterf op 40 – en die rolle was nie baie interessant nie.
“Dit was altyd iemand se meisie of vrou, en jy is beskryf op grond van hoe jy gelyk het. Nou maak dit nie saak nie.”
Om Margaret te speel was ’n interessante uitdaging. “Mense het gedink sy is kwaad, ongeskik en taai, maar eintlik was sy glad nie taai nie; sy was hoogs weerloos, en om aan te val is dikwels die beste vorm van verdediging.
“Ek dink sy het aan depressie gely. Ek dink nie sy het ooit regtig herstel van haar pa se dood nie,” sê sy oor die prinses.
Die skepper van The Crown, Peter Morgan, sê Margaret was so ’n ingewikkelde mens dat net ’n aktrise van Helena se kaliber die rol sou kon regkry. Hy sê: “Helena het die skaarse kombinasie van geesdrif, intelligensie, weerloosheid en die helder, elektriese talent wat die rol vereis.”
TEN spyte van haar bevoorregte agtergrond – haar pa se adellike ma was ene dame Violet Bonham Carter en haar ma se pa ’n voormalige Spaanse ambassadeur – was Helena se kinderjare nie maklik nie. Haar ma het ’n senu-ineenstorting gehad toe Helena vyf jaar oud was, en toe sy 13 was, is ’n breingewas by haar pa, ’n bankier, gediagnoseer. Nadat dit verwyder is, was hy verlam en aan ’n rolstoel gekluister. “Dit was vir my ’n dubbele trauma,” sê sy. Hy is in 2004 oorlede.
Intussen het haar ma ’n psigoterapeut geword. “My ma is formidabel. Die geskenk van haar ineenstorting was dat sy nie ineengestort het toe my pa so siek was nie, en sy kon so maklik.
“So ek was nie beskerm teen die pyn nie, maar wat ek gekry het – wat die grootste geskenk was – is om te sien hoe my ouers dit oorleef het,” sê sy.
Sy het self al geestesprobleme beleef, wat gelei het tot “hope terapie”. “Ek is nou oukei, maar ek het al vreeslike depressie gehad. Ek dink dit was ’n opeenhoping, want ’n groot deel van my lewe het baie vinnig gebeur. Heelwat daarvan was emosionele uitputting. Nou besef ek ek moet vir dinge nee sê.”
Dis moeilik om te glo as ’n mens na haar loopbaan kyk dat Helena nooit formele akteursopleiding gehad het nie. Sy spog immers met twee Oscar-benoemings en ’n Bafta-prys. Sy het in 1974 ’n nasionale skryfkompetisie gewen en dié prysgeld gebruik om te betaal om haar naam op ’n lys van akteurs te laat sit. Haar professionele toneelspeldebuut was in ’n TV-advertensie toe sy 16 was.
Haar deurbraakrol was in die 1985rolprent A Room with a View, waarna sy in ’n rits geskiedkundige dramas gespeel het. Tog het sy nie omgegee dat sy in die boksies van “korsetkoningin” en “Engelse roos” geplaas is nie.
“Ek was mal oor daardie kostuumdramas. Ek het nie gedink: ‘Oe, ek moet keer dat ek altyd dieselfde soort rolle speel’ nie. ’n Mens kan jou nooit laat voorskryf deur wat ander dink nie. Ek doen goed net omdat ek van die rolle en die regisseurs hou.”
Sy het haar toekomstige man, die Hollywood-regisseur Tim Burton (61), in 2000 tydens die verfilming van Planet of the Apes ontmoet.
Ná hul troue in 2001 was sy ’n dekade lank sy muse – en bekend vir haar eksentrieke rolle in rolprente soos Sweeney Todd, Charlie and the Chocolate Factory en Alice in Wonderland.
Hulle is in 2014 geskei en bly op goeie voet ter wille van hul kroos, Billy (16) en Nell (11).
“Die teken van ’n suksesvolle verhouding behoort nie te wees of ’n mens vir ewig en altyd daar is nie. Soms is julle nie bedoel om vir altyd saam te wees nie. Soms moet jy vrede maak daarmee dat dit dit was. Maar dit was ’n geskenk, ’n groot geskenk. Ons het mekaar kinders – en heelwat meer – gegee,” sê Helena.
NES Margaret het die aktrise sedertdien liefde in die arms van ’n veel jonger man gevind – die 32-jarige Engelse skrywer Rye Dag Holmboe, met wie sy in Oktober verlede jaar begin uitgaan het. En ten spyte van die ouderdomsverskil van 24 jaar verpes sy die woord “toyboy”.
“Toyboy is ’n baie seksistiese aanmerking. Dit impliseer dat hy niks anders as sy lyf het om te bied nie – en sy lyf is ook fantasties. Maar saam met die lyf het hy ’n wonderlike brein en humorsin, en dís waarmee ek in ’n verhouding is.”
Sy sê Rye is nie soos ander mans wat soms bang is vir ouer vroue nie. “Vroue kan magtig wees as hulle ouer is. Hoekom kan ons nie seksueel en romanties aantreklik wees net omdat ons eiers verval het nie? Dis eintlik soveel meer pret, want ons is vrygemaak van die vrees; daar is geen gevolge meer nie; dis alles net vir die pret.” ■