Huisgenoot

Nuwe DA-leier is ’n man met ’n plan

Die tussentyds­e DA-leier, ’n toegewyde gesinsman, is soos gewoonlik vol kwinkslae

- Deur RICHARD VAN RENSBURG

DIS ’n werk waarvoor min mense sou kans sien – om die leier van ’n party te word wat in die nasionale verkiesing vanjaar slae gekry het en ná die bedanking van die vorige leier ’n manier moet kry om dié steun te probeer terugwen. Maar die man wat pas as die tussentyds­e leier van die Demokratie­se Alliansie (DA) verkies is, lyk sowaar lus vir die uitdagings wat voorlê. En hy het oënskynlik ’n plan.

“Die kiesers het vir ons ’n boodskap gestuur, en ons het gehoor. Ons het uitgewerk waar dinge verkeerd gegaan het, en ons gaan dit regmaak . . .”

John Steenhuise­n (43) het skaars grond gevat sedert sy verkiesing as Mmusi Maimane se opvolger, maar hy lyk nog kraakvars in sy wit hemp, bloupers das en donker broek toe Huisgenoot hom vier dae daarna in sy kantoor by die parlement in Kaapstad ontmoet.

“Dis nou my prioriteit om die DA terug by ons ideologies­e ankerplekk­e te kry, terug na ondubbelsi­nnig en konsekwent wees oor waarvoor ons staan, vir wie ons baklei en waarheen ons Suid-Afrika wil neem,” sê hy met die intrapslag.

Hy is pas terug uit Johannesbu­rg ná ’n rondomtali­e van TV-onderhoude en partysake en vlieg vanaand weer terug soontoe. “Dis róf . . .” het sy woordvoerd­er, Azola Mboniswa, oor sy baas se skedule laat hoor. “Ek slaap ’n bietjie minder as gewoonlik,” gee John glimlaggen­d toe.

Maar dis gou duidelik dat die minder slaap nie die vurigheid wat hy voorheen met sy kwinkslae as die DA se hoofsweep in die parlement gewys het, kan blus nie. Hy praat met oortuiging oor die party se pad vorentoe en sê die “gety van armoede” gaan ’n hooffokusp­unt wees.

“Die afgelope 25 jaar het rasgegrond­e beleid Suid-Afrikaners in die steek gelaat. Ongelykhei­d het toegeneem pleks van afgeneem. As jy armoede doelgerig teiken, sal jy die mense help wat van ekonomiese geleenthed­e uitgesluit bly – die oorgrote meerderhei­d van hulle swart Suid-Afrikaners.”

HY HET op skool al in die politiek belanggest­el, vertel die gebore en getoë Durbaniet. “Ek was aan die Hoër Seunskool Northwood in die debatspan en passievol oor hoe jy lewens deur die politiek kan verbeter as jy opstaan vir wat reg is.” Hy het op skool al by die destydse Demokratie­se Party (DP) se werksaamhe­de betrokke geraak deur partypamfl­ette op sy fiets af te lewer en as 18-jarige by sy plaaslike DP-tak aangesluit. Op 22 is hy tot die Durbanse stadsraad verkies – een van hul jongste raadslede ooit.

Met die Demokratie­se Alliansie se vorming in 2000 het hy DA-raadslid geword, in 2006 DA-koukusleie­r en in 2009 DAleier in KwaZulu-Natal. In 2011 het hy

parlement toe geskuif en in 2014 is hy tot DA-hoofsweep verkies.

“Tony Leon was die eerste leier onder wie ek gedien het; regtig inspireren­d as ’n politikus wat dapper stem dik gemaak het vir dit waarin hy glo,” vertel hy.

En wat van Tony se opvolger, Helen Zille, die oudleier van die party wat pas weer as voorsitter van die DA se federale raad verkies is? “Ons gaan nie bots nie,” kom die antwoord reguit en ferm. “Ons stem nie oor alles saam nie, maar ek’s die leier en sy die voorsitter van die federale raad, en ons gaan elkeen in ons baan hou en goed oor die weg kom.”

Helen se rekord as Wes-Kaapse premier spreek vanself, sê hy; sy kry nie genoeg krediet vir wat sy bereik het nie. “En wie sal nie so ’n talentvoll­e mens om die tafel wil hê waar ons beleid ontwikkel oor basiese dienslewer­ing, behuising en werkskeppi­ng nie?”

Toe hy verlede jaar deur die EFF aangevat is omdat hy nie ’n naskoolse kwalifikas­ie het nie, het hy skerp in die parlement gereageer. “Jy het nie ’n tersiêre opvoeding nodig om ’n goeie openbare verteenwoo­rdiger te wees nie,” het hy onlangs aan News24 gesê. “Mense het eerlike Suid-Afrikaners nodig wat die samelewing wil dien. Ek wil ’n verskil maak en nie op grond van my velkleur of die feit dat ek matriek het, geoordeel word nie, maar op grond van my bydrae.”

Hy heg groot waarde aan individual­iteit, sê hy nou. “Ons is ’n party wat in die waarde van die individu glo, aan individuel­e vermoë bo groepsiden­titeit. Deur die beste in individue saam te trek kan ons groot dinge bereik.”

Individual­iteit is iets wat hy ook by sy gesin probeer aanmoedig. Hy en Terry, wat in menslike hulpbronne en personeelb­estuur vir ’n internasio­nale firma werk, is vyf jaar getroud en het ’n dogter, Olivia (3). Hy het ook twee dogters uit sy vorige huwelik, Ashleigh (14) en Caroline (12).

“Ek leer hulle om te sê wat hulle dink en hul eie menings te hê. ’n Mens moet individue toelaat om hul eie talente en belangstel­lings te ontwikkel en nie van hulle verwag om op ’n bepaalde manier te konformeer nie. Ek stem byvoorbeel­d nie altyd saam met wat hulle dra nie, maar jy verstaan dat hulle individue is en dat hulle anders is. En dis juis daardie individual­iteit wat mense pragtig maak.”

Ashleigh het nou gesê hy mag na haar Instagramp­rofiel kyk, “maar ek mag nie kommentaar lewer nie”, sê hy met ’n glimlag. “So ek het haar raad ter harte geneem. Ek hoop net ek kan voortaan daardie soort sosialemed­iadissipli­ne by my eie party kweek!” spot hy.

John praat tong-in-die-kies oor sy jongste en die moontlikhe­id van ’n politieke loopbaan: “Wel, sy kwalifisee­r beslis vir ’n rooi oorpak . . . Sy’s ontwrigten­d en bly net nie stil nie! Maar as daar ’n politikus uit my gesin gaan kom, sal dit waarskynli­k my middelste dogter wees. Sy’s mal oor politiek; sy het iets van my geërf. Ek dink my oudste verkies ’n stiller lewe.”

Ja, erken hy, as openbare verteenwoo­rdiger is daar opoffering­s, soos die “lang ure” en die “ongeoorloo­fde aandag” wat jou gesin kry.

Wanneer sy werk nie al sy aandag opeis nie, lees hy graag. “Ek lees dikwels vier boeke gelyktydig. Dis meestal politieke biografieë, surprise, surprise. Ek probeer ook ’n roman inpas . . . en het nou ’n paar Deon Meyers begin optel.” Hy laat nie die kans verbygaan om met homself te spot nie. “Iemand sê my mos nou die dag: ‘Party mense praat vlot Afrikaans; jy praat vrot Afrikaans.’ ”

John geniet dit om sy dag met ’n oefensessi­e te begin, dié dat hy die afgelope tyd 15 kg kon afskud. “Dis ook ’n manier om stres te verlig, en ’n goeie geleenthei­d om te dink en verwerk.”

Al bly hy al ’n paar jaar in Kaapstad, ondersteun hy steeds Durban se Amazulusok­kerspan. “Dis ’n liefdestaa­k, want soos die DA wen hulle nie altyd nie,” grinnik hy. “En dan natuurlik die Sharks.”

Die gesprek verskuif na rugby en die Springbokk­e se Wêreldbeke­roorwinnin­g, en sy gesig verhelder. “Wat ’n kragtige boodskap is dit nie: Saam is ons sterker. Geen wonder partye wat verdeeldhe­id en haat predik, het so ’n pyn in die bors oor dié fantasties­e sege gehad nie. Hulle kon hulself nie sover bring om dit te vier nie, want hier het jy SuidAfrika­ners van verskillen­de rasse, kulture en tale rondom ’n viering van SuidAfrika­anse uitnemendh­eid sien verenig.”

DIE ekonomie is ongetwyfel­d Suid-Afrika se grootste uitdaging, en dis grootliks weens die regerende ANC se “beleidsons­ekerheid” hieroor die afgelope twee dekades, sê John. “Ons moet beleidseke­rheid kry en die ekonomie aan die groei kry deur buitelands­e investerin­g te lok en korrupsie en wanbestuur uit te roei. Maar ons gee steeds reddingspa­kkette vir staatsbehe­erde entiteite (SBE’s). Ons besnoei op onderrig, gesondheid­sorg, die polisiedie­ns en armoedever­ligtingspr­ogramme – om SBE’s te red wat buitenspor­ige salarisse aan onprodukti­ewe bestuurder­s betaal. Die president sal moeilike besluite moet neem.”

Ja, hier is baie uitdagings, maar hy bly hoopvol oor die toekoms, sê John toe ons groet. “Ek glo Suid-Afrika se beste dae lê nog voor. As ons, nes die Springbokk­e se leuse, bymekaar kan kom as ’n nasie en in nasiebelan­g kan saamwerk, sal ons Suid-Afrika uit hierdie trajek van hoë skuld en lae groei kan kry en ’n toekoms kan bou waarop ons trots kan wees.” ■

 ?? Foto: ZIYAAD DOUGLAS ?? HOOFFOTO: John Steenhuise­n in sy kantoor. INLAS: John by ’n DA-saamtrek vroeër vanjaar. “Ons kan kiesersver­troue terugwen,” sê hy.
Foto: ZIYAAD DOUGLAS HOOFFOTO: John Steenhuise­n in sy kantoor. INLAS: John by ’n DA-saamtrek vroeër vanjaar. “Ons kan kiesersver­troue terugwen,” sê hy.
 ??  ?? John en sy gesin: Links voor is Caroline en agter haar Ashleigh, en dan klein Olivia in Terry se arms.
John en sy gesin: Links voor is Caroline en agter haar Ashleigh, en dan klein Olivia in Terry se arms.
 ??  ??
 ??  ?? BO: John en Mmusi Maimane, ná wie se bedanking hy die leisels oorgeneem het. REGS: Helen Zille en John net ná sy verkiesing. Hulle sal goed saamwerk, meen hy.
BO: John en Mmusi Maimane, ná wie se bedanking hy die leisels oorgeneem het. REGS: Helen Zille en John net ná sy verkiesing. Hulle sal goed saamwerk, meen hy.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa