Bokser droom van ’n titel vir sy pa
Ná vele terugslae mik die oudwêreldkampioen Chris van Heerden na nog ’n sege – dié keer in Amerika
DIS die verhaal van “The Heat” en sy “Dad”. Van pa en seun; van opstaan van die krytvloer en terugveg ondanks die uitklophoue van die lewe. Maar dis ook die verhaal van die “American Dream” en ’n laaitie van Meyerton.
Die konsep van die Amerikaanse droom is dat enigiemand deur harde werk en opoffering in dié land suksesvol kan wees. Selfs al kom jy van elders; selfs al is jy as een van 13 sibbes gebore.
Want vandag, sê die bokser Chris van Heerden (32), lééf hy die Amerikaanse droom in Los Angeles, Amerika. As persoonlike afrigter werk hy deesdae met Hollywoodsterre soos die aktrise Jennifer Garner en die akteurs Bradley Cooper, Sylvester Stallone en Sam Rockwell. Onder sy vriende is nog twee Suid-Afrikaners wat die Amerikaanse droom uitleef: die komediant Trevor Noah en die Oscarwenner Charlize Theron.
Ondanks sy sukses bly Chris beskeie. “Ek bly in ’n ongelooflike mooi woonstel in Santa Monica; ek ry met ’n Mercedes, want dis my pa se droomkar. Ek het ongelooflik goeie vriende. Ek bly egter dieselfde mens,” sê hy.
Soos ’n wafferse Rocky Bilboa, die boksheld van die ikoniese Rocky-flieks, moes Chris, wat in sy amateurdae as bokser The Heat gedoop is, van die krytvloer opstaan om sukses te behaal.
Dit het bloed, sweet en trane geverg, erken dié bokser wat op Meyerton, Gauteng, grootgeword het voor hy na Amerika getrek het. Die voormalige weltergewig-wêreldkampioen kon skielik nie meer aan boksgevegte deelneem toe hy in 2013 met ’n tas vol drome in Amerika aankom nie.
Hy het nie die nodige werkpermit gehad nie, en daarom wou geen bokspromotor saam met hom werk nie. Teen 2014 was daar ’n ander wêreldkampioen omdat hy nie kon deelneem nie. Hy het baie nagte honger gaan slaap op sy kampbedjie in ’n piepklein gehuurde kamertjie in die glinsterstad.
Die ergste van dié moeilike tyd, vertel hy, was die gevoel dat hy die belangrikste mens in sy lewe in die steek laat: sy pa, die voormalige bokser Daniël Christoffel van Heerden.
“Pa het een aand gebel om te hoor of dit goed gaan. Al het ek twee dae laas iets geëet, het ek gejok en gesê: ‘Pa, dit gaan goed . . .’ Ek wou hom nie teleurstel nie.”
Maande van swaarkry en soms trane van moedeloosheid het gevolg voor hy eindelik sy dokumentasie en daarna ’n promotor gekry het. Die voormalige wêreldkampioen kon weer terugveg.
En toe kom die volgende slag. In 2015 sterf sy promotor onverwags – en Chris verloor die eerste geveg van sy loopbaan, teen die Amerikaner Errol Spence jr. “Dit het gevoel asof my wêreld onder my uitgeruk word. Niemand wil met ’n loser deal nie. Boks is hárd. Jy is net so goed soos jou laaste geveg.”
Maar soos Rocky het hy die houe gevat, hard gewerk en weer op die wenpad gekom. Hy kon oor ’n tweede wêreldtitelgeveg begin droom.
En toe, in November 2018, gee die lewe Chris nóg ’n uitklophou: Sy bestuurder bel hom vroegoggend in Amerika met die nuus dat iets slegs gebeur het. Hy moes
kort daarna uitvind sy pa en rolmodel, Danie (toe 61), is op op De Deur, naby Vereeniging, vermoor. “Ek het op my knieë neergesak. Ek kon dit nie aanvaar nie,” onthou Chris.
Maar die verlies het hom net meer vasbeslote gemaak om weer die wêreldtitel te wen. Vir sy pa.
Hy het na Suid-Afrika gevlieg vir die begrafnis, maar met sy terugkeer na Los Angeles dadelik weer begin boks. En nou word daar onderhandel oor ’n wêreldtitelgeveg in Amerika in 2020 . . . Hy wíl dit vir sy pa wen.
“Alles wat ek al ooit gedoen het, en steeds doen, was om een man se goedkeuring te kry – my pa s’n,” vertel Chris. “Ek weet hy sal trots wees op my.”
Hy was in November vlugtig vir ’n besoek in Suid-Afrika en kon die begin van die verhoor van sy pa se vermeende moordenaar bywoon. Hy kon die man wat na bewering sy pa geskiet het in die beskuldigdebank sien voor die saak tot Januarie 2020 uitgestel is.
Maar met ’n rustigheid in sy stem sê hy: “Ek het die man reeds vergewe.”
CHRIS het met ses sussies en ses boeties grootgeword. Sy ma was pa Danie se tweede vrou, maar Chris is deur sy pa en dié se derde vrou, Wilma, grootgemaak. Hy was net ses jaar oud toe sy pa hom van Meyerton na Johannesburg begin aanry het vir bokslesse.
“As ek vir jou sê ek het boks nie gelike nie, het ek dit nie ge-like nie. Ek was daai outjie wat weggekruip en gejok het – ‘ek is siek’ – as ek moes gaan fight,” vertel hy in ’n Skypeonderhoud uit Los Angeles. Die groot man vryf oor sy hare en glimlag nostalgies. “Maar my pa het regdeur my leuens gesien . . . en eindelik het ek op boks verlief geraak.” Danie het duidelik die talent in sy seun raakgesien en namens hom begin droom. Ook Chris se afrigter, wyle Nick Durandt, het opgemerk hy maak dinge warm vir sy teenstanders en hom die bynaam The Heat gegee. Chris het sommer gou goed gevaar. “Ek het 97 amateur-fights gehad, waarvan ek 94 gewen het,” onthou hy.
In 2011 het Chris die hitte behoorlik aangedraai en sy landgenoot Kaizer Mabuza by Emperors Palace in Kempton Park verslaan om as die Internasionale Boksorganisasie se weltergewig-wêreldkampioen gekroon te word. Die boksers wat soos Chris aan dié afdeling deelneem, weeg gemiddeld 66,7 kg. Hulle weeg minder as swaargewigboksers.
Op 24 het hy destyds as wêreldkampioen die boonste sport van die leer bereik. Hy het in ’n duur woonstel in Northcliff, Johannesburg, gewoon, ’n sportmotor gekoop en by die beste restaurante geëet. Sy titel het hy in die daaropvolgende twee jaar suksesvol verdedig. Maar tog was hy nie gelukkig nie. Einde 2013 het hy laatnag wakker geskrik. “Ek het op my balkon uitgestap en gewonder waaroor ek so stres . . .”
Hy het besef hy wou homself op ’n groter verhoog bewys. “Ek was altyd daai outjie wat risks gevat het. Ek was in SuidAfrika ’n wêreldkampioen, maar mense het nie ge-worry nie.”
Hy het toe vir sy pa gesê: ‘Dad, ek wil Amerika toe gaan.” En sy Dad het geantwoord: “Wanneer jy reg is, bel my, dan laai ek jou by die lughawe af.” En op 26 Desember 2013 land The Heat toe in Kalifornië.
“Maar ek het my misgis,” erken hy nou. Hy het gedink die wêreld se voorste bokspromosiemaatskappy, Top Rank, sou hom opraap, maar toe hy sonder ’n Amerikaanse werkpermit land, het selfs sy titel niks beteken nie en kon hulle nie met hom werk nie. “Skielik kon ek nie eens meer boks nie.”
Toe kom daardie oproep van sy pa waarin hy vir sy pa jok en sê dit gaan goed . . . “Daardie aand het ek op my knieë neergesak en gebid en gehuil. Ek kon nie meer pretend nie.” Dieselfde aand bel ’n vriend: “Chris, ek stick jou vir ete.”
Met nuwe energie het hy begin woeker en eindelik sy Amerikaanse dokumentasie gekry – en oplaas ook ’n promotor. Toe dié in 2015 sterf, moes Chris hom opnuut bewys om ’n nuwe promotor te kry.
In November 2018 lui die foon weer. Dis die bokspromotors Top Rank. Hulle wil Chris hê. The Heat was weer witwarm.
DIS 27 Desember 2018, byna ’n jaar gelede. Nog ’n vroegoggendoproep. Dis van sy bestuurder, Peter Khan. “Het jy die nuus gehoor?” Peter stel voor hy kyk wat in sy foon se boodskappe en in die sosiale media aangaan. Dit is toe sy oudste suster, Marie, wat die tyding bring.
Die nuus is verpletterend. Sy pa, wat ’n privaat sekuriteitsfirma besit het, is dood – na bewering in die straat op Meyerton geskiet deur Sabelo Dlamini, ’n lid van die Rooimiere – toe hy wou ondersoek instel na waarmee dié man langs die pad besig is. Danie is net daar, in die arms van sy jongste seun, Donjuan (18), oorlede. Aangedaan vertel Chris: “Net die vorige aand het pa my vertel hy is trots op my. So asof hy geweet het . . .”
Met sy besoek vir die verhoor vroeër vandeesmaand het hy ook vir sy nuwe meisie, die Kanadese aktrise Brit MacRae, sy tuisland kom wys.
In die nuwe jaar sal hy weer hier ’n draai kom maak wanneer hy talentvolle jong boksers in Suid-Afrika kom opspoor vir ’n nuwe Amerikaanse werklikheidsprogram, Fight2Fame.
Hy sal altyd ’n noue verbintenis met Suid-Afrika hê, maar dis in Amerika waar hy nou van wêreldglorie droom.
“Partykeer dink ek nog steeds, wow, ’n mannetjie van Meyerton . . .” ■
‘Al het ek twee dae laas iets geëet, het ek gejok en gesê dit gaan goed’