Monstervure skroei Australië
Die ergste bosbrande in jare het verskriklike verwoesting gesaai in Australië en vele menseen dierelewens geëis
UIT ’n vlammehel oorkant die pad kruip ’n koalabeertjie. Die rook trek uit sy pootjies, wat erg verbrand is. Die vel aan sy snoet is geskroei en hy is oortrek met rou wonde waar die vlamme aan sy lyf gelek het.
Hy lyk verward terwyl hy oor die warm teerpad hinkepink. Maar aan dié kant van die Oxley-hoofweg in Nieu-SuidWallis in die ooste van Australië brand die vuur óók rooiwarm . . . Skielik verskyn ’n motor, en ’n vrou spring uit. Sy sit die koalatjie agterna, trek haar wit hemp uit en gooi dit oor hom terwyl hy sy kort armpies na haar uitstrek en luidkeels weeklaag van die pyn.
’n Video van dié roerende toneel is al miljoene kere gekyk nadat dit aanlyn gedeel en versprei is. In die video red die Australiër Toni Doherty, die ouma van sewe kleinkinders, die koala uit die brandende bos en dra hom dan in net haar broek en bra na veiligheid nadat sy haar hemp vir hom uitgetrek het.
Toni is nou ’n nasionale heldin, en die beertjie het ’n naam gekry waar hy in ’n dierehospitaal aansterk: Lewis.
Maar Lewis is een van die gelukkiges. Teen druktyd het verwoestende bosbrande aan die Australiese ooskus reeds twee weke lank gewoed en die lewe van honderde koalas en ander diere geëis. ’n Derde van die koalas aan die buitewyke van die kusdorp Port Macquarie is na raming uitgewis. Die brande teen die ooskus het ook hul tol op menselewens geëis – ses mense is in die vlammehel dood.
Die bosbrande – die ergste in baie jare – het reeds 1,7 miljoen hektaar in NieuSuid-Wallis en Queensland uitgewis en meer as 600 huise in puin gelaat.
In Australië se vernietigende Swart Saterdag-veldbrand van 2009 is 430 000 hektaar verwoes, en in die land se laaste dodelike veldbrand van 2013 is twee mense dood en het 250 huise afgebrand.
Nou is ’n noodtoestand in die state Nieu-Suid-Wallis en Queensland afgekondig terwyl meer as 60 brande teen druktyd steeds langs die kus gewoed het.
Personeel van die brandweer was teen druktyd bekommerd oor hoe hulle die mas sou opkom as dit so sou voortwoed, want die mannekrag is nie genoeg om gelyk oral te wees nie.
“Om (gelyk) brande in Queensland, Nieu-Suid-Wallis, Suid-Australië én Victoria te hê is ongehoord,” sê Neil Bibby, oudbrandweerhoof van Victoria.
En die veldbrandseisoen in Australië lê eintlik nog voor, waarsku die oudbrandweerkommissaris Greg Mullins. “Ek dink ons is nou in die aanloop tot die gevaarlikste veldbrandseisoen sedert 1994.”
Vier mense het in daardie jaar gesterf toe bosbrande vyf weke lank in NieuSuid-Wallis gewoed het. “Wat hier gebeur, is ongelooflik,” sê David Bowman, ’n Australiese brand-ekoloog en geograaf. “Dit sal moeilik wees om te sê die klimaatskrisis het nie ’n rol gespeel nie.”
TEEN druktyd het die grootste stad in die land, Sydney, sy bynaam “Big Smoke” gestand gedoen.
’n Dik rookkombers het dié stad met sy 5 miljoen inwoners bedek. Die lug was uiters warm en drukkend, en inwoners met asemhalingsprobleme is aangesê om liefs tuis te bly. Dié wat dit wel in die strate gewaag het, het met maskers rondgestap.
Die ikoniese Sydney-operahuis het soos iets uit ’n apokaliptiese swart-wit rillerfliek gelyk.
Maar dié prentjie is niks vergeleke met wat die inwoners en diere in die brandgeteisterde gebiede moet trotseer nie.
Huise is inderhaas ontruim, meer as 500 skole is tydelik gesluit, en mense moes die drukkende hitte van meer as 40 °C hanteer en deur die rook asemhaal.
Die rook kan nog dae oor die streek hang, het die Australiese TV-netwerk 9News berig. “’n Groot deel van die bevolking aan die ooskus – dalk ’n derde van die Australiese bevolking van 25 miljoen – is blootgestel aan gevaarlike rookvlakke,” sê David.
“Dit gaan duur wees vir die gesondheiden hospitaalstelsels en dit gaan menselewens eis. Rookbesoedeling veroorsaak op die oomblik baie meer sterftes as die vlamme, en dit is nog nie verby nie,” waarsku hy.
In die stad Mildura in Victoria het sterk winde ’n stofstorm veroorsaak toe die kwik boonop by 40 °C gaan draai het.
“Die lug is letterlik bruin; die stof in die lug is baie dik,” vertel ’n inwoner wat net
as Leonie bekend wil staan. “Die lug is nou dieporanje en die wind is kwaai.” Maar dan voeg sy by: “Ons het al so dikwels die stof gehad. Dit raak al vir ons die norm.”
Jaarlikse bosbrande in dié gebied is normaal, maar dit begin gewoonlik eers in Januarie en Februarie woed. Nou het dit nie net vroeër begin nie; dis ook meer wydverspreid. “’n Groot dryfveer is die temperatuur en ’n beduidende droogte wat droë winde voortbring; dit is die ideale situasie vir veldbrande,” verduidelik Mark Howden van die Klimaatveranderingsinstituut aan die Nasionale Universiteit van Australië aan ABC News.
“Alles is so droog hier, en dit droog al die afgelope twee jaar so uit,” sê Carol Sparks, burgemeester van Glen Innes in Nieu-Suid-Wallis, aan die BBC.
“Ons het ook die bloekombome hier, wat maklik aan die brand slaan, en dit het ontplof. Dis skrikwekkend.
“Ons was goed voorbereid met sowat 200 brandweermanne, maar die watertekort is ’n groot probleem en ons moet watertenke laat inkom.
“Maar niks wat ons doen maak ’n verskil aan dié brand nie,” sê sy. “Dis soos vuurbolle wat in die lug ontplof. Dis ongehoord. Ons is almal platgeslaan deur die ramp.” ■