Huisgenoot

Moeilike tye vir klein Amy’Leigh

Amy’Leigh se lewe het soos handomkeer verander nadat sy ontvoer is; selfs haar drome het nagmerries geword

- Deur JACQUES MYBURGH

IN DIESELFDE huis waar baie trane drie maande gelede gestort is, waar ’n ouerpaar gevrees het hulle sal nooit weer hul klein haasbekkie sien nie, pryk ’n Kersboom nou in die hoek van die televisiek­amer. Daar is nog nie geskenke onder die boom nie, maar Amy’Leigh de Jager (6) en haar boetie, Jayden (4), het reeds briefies aan Kersvader geskryf en in hul Kerskouse gebêre.

Soos ’n sorgelose feetjie huppel die meisie met die lang ligbruin hare nou na haar Kerskous. Sy haal haar brief aan Kersvader uit.

“Ek wil baie graag dié pop hê,” sê sy en wys met haar vinger na ’n uitknipsel van ’n speelpop. Boaan die bladsy, in skewe letters, het sy haar naam en van geskryf. Met prentjies van ’n kombuisste­l vir ’n pophuis en Nutella-sjokolades­meer vir haar suikertand sorg sy dat Kersvader presies weet wat sy wil hê.

“Die kinders het eendag van die skool af gekom en verveeld hier rondgedwaa­l. Toe besluit ons maar om die Kersboom op te slaan,” vertel hul ma, Angeline (26), van die dag in November toe hulle die Kersvreugd­e vroeg binnegenoo­i het.

Maar al heers daar nou ’n feestelike stemming hier in haar en haar man, Wynand (27), se huis in Vanderbijl­park, lê die emosionele letsels nog vlak van die nagmerrie-ondervindi­ng toe hul eersteling in September ontvoer en ure lank aangehou is.

“Dit gaan nie baie goed met Amy’Leigh nie,” sê Angeline later nadat sy en Jayden in haar kamer gaan speel het.

“Sy kry steeds nagmerries. Sy huil in haar slaap en sê sy droom soms van haar ontvoerder­s.

“Sy het altyd van unicorns en vlinders gedroom; unicorns is haar gunsteling. Sy droom nie meer van hulle nie.”

DIE nuus dat ’n sesjarige meisie op 2 September vroegoggen­d voor die Laerskool Kollegepar­k in Vanderbijl­park ontvoer is, het die land aangegryp. Amy’Leigh is uit haar ma se hand gegryp en by ’n wit Toyota Fortuner ingeboende­r.

Ná ’n reusesoekt­og het twee weldoeners haar 19 lang en uitmergele­nde ure later gevind waar sy in die vroeë oggendure in ’n verlate straat in Vanderbijl­park rondgedwaa­l het en haar aan haar ouers terugbesor­g.

Die losprys van R2 miljoen wat die ontvoerder­s glo geëis het, is nooit betaal nie.

Vir die ouerpaar het nog ’n skok gewag toe Tharina Human (27), Jayden se gr. RR-onderwyser­es, kort ná die voorval in hegtenis geneem is saam met Laetitia Nel (40), Pieter van Zyl (50) en Bofokong Molemohi (24). Boonop was Tharina, ook die ma van ’n jong dogter, eens ’n vriendin van Angeline.

“Ek is nie meer kwaad vir hulle nie; ek is meer teleurgest­eld,” sê die donkerkopm­a oor die vermeende ontvoerder­s.

“Tharina het my kind se hart geken. Sy het geweet hoe sag sy is en tog die aand van haar ontvoering by háár kind geslaap en vir arme Amy’Leigh en vir my deur soveel trauma gesit.”

Wynand, ’n onderwyser aan die Hoër Tegniese Skool Carel de Wet, voel anders oor die saak.

“Ek sal hulle nooit vergewe nie. Hulle kan soveel in die hof huil as wat hulle wil. Ek sit met ’n kind wat elke dag huil.”

Amy’Leigh is bang dat haar ontvoerder­s uit die tronk gaan kom. “Sy verwys na hulle as skelms,” vertel Angeline.

Wynand het ’n manier om sy dogter gerus te stel. “Ek sal vir haar sê die skelms is die hele dag besig om pik te slaan en groente by die tronk te plant. Hulle is teen die einde van die dag hopeloos te moeg om te probeer ontsnap.”

‘Sy huil in haar slaap en droom soms van haar ontvoerder­s’

Hul dogter herleef nog gereeld die dag toe sy so skielik uit haar ma se arms en haar bekende omgewing weggeruk is.

“Ons het nou die dag aartappels vir my pa se restaurant gaan koop,” vertel Wynand, wie se pa, Christo, ’n eetplek in Vanderbijl­park het. “Amy’Leigh was agterin die motor en ek het vir die werkers gesê hulle moet sommer die groot streepsakk­e op die agtersitpl­ek laai.”

Iets aan dié doodgewone takie moes ’n pynlike herinnerin­g aan die ontvoering in haar wakker gemaak het.

“Amy’Leigh het histeries begin raak en oorgeklout­er na die voorste sitplek en onbeheers begin huil en ruk,” vertel Wynand.

Sy raak ook hewig ontsteld wanneer haar pa rook. “Hulle het voor haar gerook en sy raak histeries wanneer sy haar pa sien rook,” vertel Angeline oor haar ontvoerder­s.

Voor die ontvoering was Amy’Leigh en haar kleinboet baie geheg aan mekaar, maar deesdae baklei hulle baie.

“Jayden sal vir haar sê om stil te bly of te shutup. En Amy’Leigh sal vir hom sê dit is wat die lelike oom vir haar gesê het, en dan vlieg hulle mekaar in.”

Sy ousus is voor sy oë ontvoer en in sy kindergemo­ed worstel hy duidelik nog met die gebeure. “As die skelms weer kom . . .” sal hy vir sy ouers sê met verskillen­de variasies van wat hy dan sal doen. Soms wil hy weghol; ander kere met hulle baklei.

Hulle voel soms hulpeloos, erken Angeline.

“Die maatjies by die skool sal ook vir Amy’Leigh sê: ‘Jy is mos die meisie wat ontvoer is?’

“Sy wil nie skool toe gaan nie en die juffrou sê sy kan agterkom daar is woede in haar skoolwerk. Sy het altyd fyn gewerk, en wanneer sy ingekleur het, het sy dit met fyn potloodhal­e gedoen.

“Deesdae kleur sy hard in.”

Maar Angeline en Wynand het hoop. “Ek weet ons kind gaan sterker hieruit kom. Sy sien op die oomblik die staat se maatskapli­ke werker. Ons is aangeraai om haar nie nou na ’n onafhankli­ke berader toe te vat nie,” sê Angeline.

“Ons wil graag hê sy moet weer ’n normale lewe lei, en as daar iets is wat haar ontstel, probeer ons uitvind wat presies dit is sodat ons die situasie die volgende keer anders kan hanteer.”

Soms kry hulle nog ’n glimp van die vrolike, liefdevoll­e kleinding wat sy voor die ontvoering was.

Soos toe Amy’Leigh skielik buitentoe hardloop, al kom donker wolke in die verte aangerol. Toe sy weer verskyn, is daar ’n pienk roos in haar hand.

“Hierdie is vir mamma,” sê sy. Angeline druk haar vas en soen haar op die voorkop.

Dan bokspring sy na die Kersboom toe en hang die roos tussen die ander Kersversie­rings op.

Wanneer die dag eindelik aanbreek dat haar en Jayden se Kerskouse vol presente hang, sal Tharina, na bewering die baasbrein agter die ontvoering, saam met twee van haar vermeende medepligti­ges Kersfees agter tralies deurbring.

Slegs Laetitia is intussen op borgtog uit.

Die saak is tot 9 Januarie 2020 uitgestel, waarna die verhoordat­um vasgestel sal word.

Amy’Leigh bring ’n storieboek met ’n wollerige katjie daarop. Die oom van Huisgenoot moet nou eers vir haar Jasmyn Verdwyn lees.

Sy maak haarself tuis op die bank en luister aandagtig met wakker ogies na die verhaal van ’n meisietjie wie se kat verdwyn het.

Klein Jayden kom sit neffens haar. Nog voor ons by die einde van die storie kom, roep Amy’Leigh opgewonde uit: “Ek weet Jasmyn gaan gekry word! Liewe Jesus weet waar sy is.” ■

 ??  ??
 ?? Foto’s: ER LOMBARD ??
Foto’s: ER LOMBARD
 ??  ?? BO: Wynand, Amy’Leigh, Angeline en Jayden by hul Kersboom. LINKS: Die briefie wat Amy’Leigh vir Kersvader geskryf het.
BO: Wynand, Amy’Leigh, Angeline en Jayden by hul Kersboom. LINKS: Die briefie wat Amy’Leigh vir Kersvader geskryf het.
 ??  ?? BO: Amy’Leigh speel met haar pophuis. REGS: Sy wys ons een van haar Barbies. Sy het ’n lang wenslys vir Kersvader gestuur.
BO: Amy’Leigh speel met haar pophuis. REGS: Sy wys ons een van haar Barbies. Sy het ’n lang wenslys vir Kersvader gestuur.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa