Snotkop se eilandparadys
Snotkop gesels oor sy nuwe sprokiesmooi strandhuis, sy 20 jaar as sanger en sy dokkie waarmee hy mense wil inspireer
JY KAN maar sê dit was liefde met die eerste oogopslag toe Snotkop oor die drumpel van die luukse dubbelverdiepinghuis in Southbroom in KwaZulu-Natal stap. “Ek het ingestap en eers die uitsig oor die see bewonder, en in my geestesoog het ek net gesien: vriende, familie, parties en Kersfees,” vertel die sanger waar hy nou op die houtdek van dié huis op die see sit en uitkyk.
Hy móés dit eenvoudig hê – en nou ís hy ook die eienaar van hierdie indrukwekkende strandhuis.
“Ek is mal oor Bali en Thailand, en ek wil hier voel of ek op ’n eiland is,” vertel hy oor die kleurryke dekor.
Met die intrapslag lyk dit inderdaad soos ’n tropiese paradys. Palmtakke vorm ’n motief deur die huis – jy sien dit op ’n mat, teen die muur geskilder langs die etenstafel in die oopplanleefvertrek, en ook op verskeie skilderye in die huis. Dié is geteken deur F. Henning, oftewel Francois Henning – Snotkop se doopnaam. Want hy’s ’n veelsydige kunstenaar, en dis als sy handewerk.
Op van sy ander skilderye is tropiese natuurtonele vasgevang, soos van ’n papegaai in ’n bamboesbos en seetonele. Een is van ’n man op die strand – so byna of dit ’n selfportret is van Snotkop hier by die kus waar hy nou ’n tuiste gevind het.
Met sy kenmerkende keps, vandag ’n grys Vans-hoed, is hy die ene Snotkop, maar wanneer hy oor sy musiekloopbaan van byna 20 jaar, sy nuwe dokumentêre fliek of sy splinternuwe strandhuis gesels, is hy sommer net Francois.
“Al die palmbome in die tuin het ek self geplant,” vertel hy trots en beduie na die Alexander-, jakkalsstert- en lalapalms onder in die tuin wat die eilandgevoel versterk. Oor die lowergroen boomtoppe kan jy die Indiese Oseaan uitgestrek in die sonlig sien skitter.
“Ek is in my element,” lag hy. “Ek is gereeld by die kwekery besig om nog palmbome te koop!”
TOE Francois sewe maande gelede ’n draai aan die Suidkus kom maak, was dit glad nie met die plan om hier eiendom te koop nie. Hy besit immers ook ’n huis op Simonstad in die Wes-Kaap en ’n kleinhoewe op Bethulie in die Vrystaat.
Hy het bloot op Margate kom optree, maar toe oorrompel die lekkerte van die lewe aan die Suidkus hom opnuut. Dit het herinnerings opgediep uit sy kinderdae van die seevakansies wat hy hier saam met sy oorlede pa, Jan, sy ma, Esther, en broer, Sharl, deurgebring het, vertel Francois, wat in Randburg, Johannesburg, grootgeword het.
Toe die lus hom beetpak om hier te kom nesskop, het hy ’n bietjie in die omgewing rondgery en na huise gekyk, maar dié huis in Southbroom het sy asem weggeslaan. Dit het lekker baie ruimte vir vriende en familie om oor te bly, met gastekamers op die grondverdieping en nog slaapkamers op die boonste verdieping – en elkeen bied ’n seeuitsig. Altesaam spog die huis met sewe slaapkamers en ses badkamers. Die houtdek agter met ’n lang etenstafel, swembad en braaiplek is die ideale onthaalplek. En met ’n drankie in die hand op ’n opblaasmatras in die swembad voel Francois inderdaad of hy hom by ’n vakansieoord op Bali bevind.
Ná byna twee dekades in die musiekbedryf is Francois steeds hard aan die werk, maar deesdae is hy meer daarvan bewus dat hy ook rus nodig het en tyd saam met sy vriende en familie wil deurbring. “Dis ook vir my gesondheid. Ek dink nie enige persoon kan 20 jaar so aanhou nie,” sê hy.
Volgende jaar vier hy sy 20ste jaar in die musiekbedryf – jare waarin hy amper elke naweek sy tas gepak, op ’n vliegtuig geklim en duisende mense oor die land met sy pittige saamsing-en-dansliedjies soos “Dikkelicious” en “Hiekies op Hartenbos” vermaak het.
“Ek raak soms heavy moeg,” erken hy, “maar ek doen amazing goeters, dinge wat die siel voed.” Soos sy werk aan sy dokumentêr, Skrik vir niks, wat vroeg aanstaande jaar uitgereik word.
Sy oë blink van opwinding toe hy van dié passieprojek van die afgelope twee jaar vertel. Daarvoor hou hy sy lyf fliekmaker én werklikheidster. “Ons is nou besig om die laaste tonele te skiet en dan begin ons redigeer. Ek finansier als self; dit is my baby,” sê Francois trots.
Al maak sy eie lewensverhaal net ’n deel van die dokkie uit, het ’n kameraspan hom omtrent ’n jaar lank oral gevolg. “Dit was 24/7, in my huis, wanneer ek in die kar of op ’n vliegtuig klim op pad na ’n vertoning toe,” vertel hy. “Ek het soos die Kardashians gevoel.”
Tog sê hy die tonele waarin hy verskyn, is bloot om te wys drome kan waar word. Die dokumentêr bestaan hoofsaaklik uit onderhoude met mense wat Francois deur die jare leer ken het.
“Ons het in sowat 10 mense se lewe ingeklim en by hulle gaan kuier in die omgewing waar hulle nou is. Ons gesels oor al die amazing dinge wat hulle bereik het, maar draai ook die horlosie terug om te gaan kyk waar hulle vandaan kom,” sê hy.
Die idee vir die dokumentêr het ontstaan nadat mense hom genader het om ’n “rowwe” Snotkop-fliek te skiet. Later het hy besef hy wil liewer iets maak wat moontlik iemand se lewe kan verander.
“Ek wil mense inspireer en vir hulle vreugde bring. Maak nie saak wie jy is of waar jy bly nie, jy is cool,” is sy boodskap.
“Jy is waar jy moet wees en jy is 100% perfek geskape; jy moet net jou doelwitte nastreef, jou fokus regkry en jy is on your way,” som hy die dokumentêr op.
Hy wil die fliek na soveel klein dorpies moontlik oor die land neem. “Hierdie projek is so na aan my hart, ek wil dit persoonlik met die kykers deel en verduidelik wat die bedoeling daarmee is.”
Hy begin droom oor ’n kort vertoning wat hy sal hou, en daarna sal hy die fliek saam met mense geniet en met hulle daaroor gesels. Hy wil ’n plaasstoor in ’n fliekteater omskep, ’n grootskerm op ’n rugbyveld oprig of die dokkie in die buitelug bo-op ’n gebou in Kaapstad wys.
DIE Snotkop wat vandag op die see uitkyk terwyl hy oor sy loopbaan gesels, is veel meer volwasse as die Snotkop wat destyds in die bedryf begin naam maak het.
Hy kry skielik heimwee toe hy aan sy beginjare terugdink – eers het hy bekend geword as ’n wit rapper wat in Sotho musiek maak, ’n taal wat hy by hul huiswerker se dogter geleer het. Later was hy die jong Snotkop wat “wilde musiek” in sy moedertaal maak.
“Ek is trots op wat die naam Snotkop geword het. Mense weet dat my pa my so genoem het; dit was sy troetelnaam vir my,” vertel hy oor Jan, ’n elektriese ingenieur wat in 2011 aan kanker dood is. “Ek het toe besluit dit is wie ek is, en dit is special vir my.
“Ek wil hê mense moet hoor wat ek sê. Hulle moet vergeet van al die negatiwiteit in die wêreld en goed voel oor hulself en die oomblik waarin hulle is. Ek wil dinge ’n bietjie ligter maak vir mense, want die lewe is nie maklik nie.”
Vyf jaar gelede het hy al vir homself gesê nóú moet hy dinge rustiger begin vat, maar pleks daarvan het dit net “intenser” geraak. “Wanneer ek soggens opstaan, wil ek net begin, want daar is nou ’n doel met alles wat ek doen,” voeg hy by. “Ek is nog ver van klaar; I’ve only started.”
Afhangend van waar sy volgende optrede is, pendel hy tussen sy verskillende tuistes rond. Francois gebruik steeds sy tweeslaapkamerkothuis op Simonstad – ook met ’n seeuitsig – as sy basis, want “my ma is my buurvrou en my broer woon in Kaapstad”.
Wanneer hy in die Moederstad is, rits hy tussen koffiekroeë en kunsgalerye rond, maar op Bethulie is hy pure plaasjapie, kompleet met hanslammers, boerbokke en ’n groentetuin op sy kleinhoewe. Hy en sy bestuurder, Louis du Plessis, is ook mede-eienaars van ’n gastehuis en restaurant op dié Vrystaatse dorp.
Wanneer Francois elke Desember ’n kort blaaskans tussen sy verjaardag op die 22ste en Kersdag neem, bring hy dit gewoonlik saam met familie en vriende op Bethulie deur.
Sy nuwe huis in Southbroom beskou hy as sy vakansiehuis. Dit het ’n spesiale plek in sy hart omdat die Suidkus hom soveel aan Suidoos-Asië herinner wat hy al as toeris verken het. Hier kry hy dieselfde humiditeit, kos en gemaklike leefstyl wat lande soos Thailand, Viëtnam en Maleisië vir hom so aanloklik maak, sê hy.
“Ek is baie min by die huis; wanneer ek dus ná vertonings tuiskom, wil ek net in die see swem en my vriende sien. Hier is konstant mense, al is ek nie hier nie; die huis is altyd oop vir vriende.”
Hier in Southbroom hanteer Francois elke dag soos ’n Vrydag, want nes sy alter ego in sy treffer “Raak vir my rustig” sing: ’n Vrydag laat die goeie tye rol . . . ■