Boer Hentie beskryf sy droomvrou
Hentie van Boer soek ’n vrou sê hy soek ’n maat sonder fieterjasies wie se kykers die praatwerk doen
ROOIBOS groei links en regs van die sandpad wat die bande van boer Hentie se Hilux-bakkie vreet. Jy moet mooi kyk om die klein bossies met hul naaldvormige blare raak te sien, want tussendeur rank wilde waatlemoene op die grond. Dié is so bitter, nie eens die bobbejane wil dit vreet nie.
Dis moeilik om te glo die omgewing se dorre witsandlande tussen die sandsteenkoppe kan ook iets so heilsaam soos rooibos oplewer. Maar hier word ’n uitvoergehalteproduk gekweek.
Ons is op pad na die Uilkombuis, ’n privaat uitspanplek op die plaas hier naby Clanwilliam in die Wes-Kaap waar boer Hentie (51), ’n deelnemer aan die 12de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, as bestuurder boer.
Sy eerste onderhoud voor die TVkameras is juis by dié skilderagtige kuierplek teenaan ’n sandsteenkoppie gevoer, en hy wil dit vir ons wys. Die koppie herinner jou aan ’n uil, vandaar die naam.
Met ’n klein bietjie verbeelding lyk een rotsuitstulping nes dié roofvoël se snawel. Die piekniektafels staan onder die klipuil se wakende “oë” – natuurlike holtes in die groot rots. Ons het pas hier aangekom, toe vlieg ’n regte uil uit ’n klipskeur.
Hentie is hoeka besig om uilhokke te laat bou op die plaas om meer van die voëls te lok. Hulle help met die bekamping van die nagmuisplaag wat die veevoer op die plaas opvreet, sê hy.
“Ons wou hier kom braai of ontbyt eet,” vertel Hentie oor die verfilming van die episodes waarin die vrouedeelnemers Des, Hantie en Hester vir hom op die plaas kom kuier. “Daar was ongelukkig net nie tyd nie.”
Dan waarsku hy skielik: “As jy die boomstompstoele optel om te skuif, kyk net mooi vir skerpioene of slange.”
Is hy ernstig of skeer hy die gek? Nes op die kassie is dit moeilik om hom te peil. Agter sy rustige voorkoms is ’n platjie, nes oorlede Tolla van der Merwe, die bekende Maak ’n las-grapmaker, wat ook uit dié wêreld gekom het.
Hentie is vanjaar een van die gunstelingboere onder kykers, maar hy besef dit nie aldag nie.
“Regtig?” vra hy verbaas, want hy is nie ’n man wat op die internet boer en kommentaar op Facebook of elders in die sosiale media lees nie. Sy werk as produksiebestuurder op die rooibosteeplaas hou hom te besig. Die tee word op die plaas geplant, geoes, verwerk en in teesakkies en boksies verpak vir uitvoer, veral na China. “Hier was onlangs ook ’n groep Japannese wat daarin belangstel,” sê hy.
Skielik hoor jy ’n visarend melancholies roep. Dis heel onverwags; so Afrika as wat jy kan kry. Die krete kom uit die rigting van die dam langs die plaashuis waar hy woon. “Daar is ’n broeipaar,” vertel hy opgewonde. “Wanneer ek hulle sien, sit hulle óf op ’n klip óf op die dooie bloekomboom.”
Hulle het geelvis in die dam gesit en so die visarendpaar oorreed om daar nes te skop. Nou soek hy ook soos ’n visarend ’n maat sodat hy so gelukkig
soos die twee geveerdes kan wees.
“Dis nie dat daar nie geleenthede op Clanwilliam is nie; ek het maar net nie geholpe geraak nie,” vertel hy. Die dorp is 15 km van die plaas af, en Hentie het ook al die afspraak-app Tinder ingespan, maar dit het net iets opgelewer wanneer hy in Kaapstad gaan kuier.
“My range hier in die omgewing was maar nie groot nie. En die vroue met wie ek in die stad afsprake gehad het, was nie een reg vir die lange duur nie.”
Hy was voorheen getroud en het ná sy egskeiding vyf jaar gelede van Worcester, waar hy in die bandebedryf gewerk het, na Clanwilliam getrek. Sy een broer, Riaan (55), woon ook hier. Sy ander broers, Ockie (56) en Johan (43), is in die Strand.
Hentie vertel hy het vir die maatsoekprogram ingeskryf omdat hy eensaam geraak het hier op die plaas.
“Dis lekker as daar iemand by die huis is as jy daar kom. Maar ek het nie gesoek vir iemand om die tafel te dek en die kos klaar te hê nie. Of iemand om die huis skoon te maak nie. Ek wil dit alles saam met haar doen, want dis vir my lekker.”
NOG iets wat lekker is, is dat sy jong buurman, Willem (29), saam met hom een van die topvyfboere in die reeks is. “Dit was nou vir jou ’n vreemde verrassing. Hy was op ’n Vrydag in Maart by my om te hoor of ek, ‘oom Hentie’, in is. Die Saterdag hoor hy hy is in. Toe dink ek ek moet maar vrede daarmee maak dat ek nie gekies is nie.
“Twee weke later, in April, hoor ek toe wraggies ek het dit ook gemaak. Hulle het my maar seker jammer gekry,” lag hy.
Wat hý in ’n maat soek, is iemand wat hom aanvul en wat hy kan aanvul. “Op ons ouderdom is ons nie meer lus vir fieterjasies nie. Ek kan nie vir jou ’n pakkie opmaak en sê dís wat ek in ’n vrou wil hê nie. Ek sal weet as ek dit gekry het,” vertel hy en haal sy bril af. Die lense is die soort wat in die son donkerder raak, en noudat jy sy blou kykers kan sien, lyk hy veel jonger. “Sy moet soos ek lus vir die lewe wees.”
Hoekom het hy daardie spesifieke drie vroue gekies om plaas toe te kom? “Oogkontak is vir my baie belangrik; wat ’n mens sien. Die oë moet blink en spark.” Dis hoe hy hulle geëien het.
Tydens hul kuier op die plaas was daar ’n bietjie spanning onder die vroue oor Hantie wat glo te veel aandag op haar wou vestig met haar pratery.
“Ek was glad nie daarvan bewus nie,” vertel Hentie nou. “Ek dink dit was maar die druk van die situasie. Ek het baie emosionele druk beleef met al die kameras.”
Hy het sy deelname vooraf met sy twee dogters bespreek, en hulle het gesê: “Go for it.”
Hentie het in die Karoo en die NoordKaap
grootgeword; onder meer op Kenhardt, Upington en Beaufort-Wes. Sy pa was in die bankwese, en as kind het hul gesin baie rondgetrek; hy was in vyf verskillende skole. Hy het aan Boishaai, die Hoër Jongenskool Paarl, gematrikuleer.
Hy was nog altyd een vir die buitelug. “My lewe lank kampeer ek vakansies op Lambertsbaai,” vertel hy. Dié Weskusdorp is so 40 km van die plaas af waar hy nou woon; net naby genoeg vir wegbreeknaweke.
HIER op Groenkol Boerdery, waar hy een van vyf plaasbestuurders is, staan Hentie soggens om halfses op om sy werkdag om halfsewe te begin. Dan drink hy ’n vinnige koppie koffie voor hy na sy kantoor by die Elandsberg-teeverwerkingsaanleg gaan. Dis die plaas se fabriek waar geoeste rooibos gekerf, gesteriliseer en verpak word.
Op Groenkol, wat werk aan sowat 60 mense verskaf, word ook ’n bietjie met skaap en bees geboer. Hier is selfs rotstekeninge wat toeriste soms besoek.
“Ek dink dit sal lekker wees vir die vrou aan my sy om deel hieraan te hê,” meen Hentie terwyl hy oor die plaas se bedrywighede uitwei.
En het hy al so ’n vrou in die oog? Hy haal weer sy bril af, kyk oor die rooiteelande en antwoord geheimsinnig, met ’n vonkel in sy mooi blou kykers: “Daar is ietwat van ’n twist . . .” ■