WAT SÊ DIE WET?
Meestal word iemand wat van seksuele misdrywe beskuldig word eers geïdentifiseer nadat hy aangekla en in ‘n hof skuldig of onskuldig gepleit het. Daarom beskou die strafregkenner Llewelyn Curlewis dit as “‘n uitsonderlike geval’’ dat Willem Breytenbach reeds as ’n beskuldigde in ’n seksuele oortredingsaak geïdentifiseer is.
“Dis ’n regstegniese aspek wat daaroor gaan dat ’n slagoffer in baie gevalle moontlik geïndentifiseer kan word wanneer die beskuldigde se identiteit bekendgemaak word,” verduidelik hy.
Nog ’n knelpunt as ’n beskuldige geïdentifiseer word nog voor hy in die hof gepleit het, is dat die kans bestaan dat die persoon moontlik nie vervolg sal word nie.
Beskuldig jy iemand in die openbaar van ’n ernstige oortreding soos verkragting, loop jy die gevaar om jou aan laster skuldig te maak. Laster word gekoppel aan die skade wat iemand se reputasie ly weens die woord van ’n ander party, verduidelik Marius du Toit, ’n prokureur van Centurion.
“Die toets van laster is om te bewys of ’n stelling vals of waar is. Die probleem is hoe jy ’n stelling as reg of verkeerd bewys as die misdryf jare gelede gebeur het?” skets hy die dilemma.
“Twee aspekte word altyd as verweer gebruik in ’n lastersaak: waarheid en openbare belang,” sê Llewelyn. “Hoe meer getuienis daar is, hoe duideliker word dit dat dit moontlik die waarheid kan wees en dus ook in die openbare belang.”
Hoe lank ná ’n verkragting kan ’n slagoffer nog ‘n klag lê?
Verkagting en onsedelike aanranding val in dieselfde kategorie as moord, sê Marius.
“Die sake verjaar nie – dus kan ’n beskuldigde 20 jaar ná die voorval steeds aangekla word,” verduidelik hy.
Maar hoe meer tyd verloop, hoe moeiliker word dit om so ’n oortreder se skuld te bewys.
Maar as meer slagoffers vorendag sou kom, versterk dit die saak.
“As daar skielik agt klaers na vore kom en sê ’n betrokke persoon het hulle verkrag of onsedelik aangerand, sal dit moeilik vir hom wees om dit te weerlê,” sê Marius.
By verkragtingsake is toestemming ’n verweer wanneer die beskuldigde kan aanvoer dat die klaer toestemming gegee het tot seks. Maar as die slagoffer jonger as 16 was, word dit as statutêre verkragting beskou.
“Die reg bepaal dat ’n kind onder 16 jaar oud nie mag instem tot seks nie. En selfs al sou so ’n slagoffer erken dat hulle daartoe ingestem het, erken die reg nie ’n kind onder 16 se toestemming tot seks nie,” sê Llewelyn.
Die wetgewing oor verkragting het sedert 2008 drasties verander. Voorheen is verkragting bloot omskryf as die penetrasie van ’n vroulike geslagsorgaan deur ’n manlike geslagsorgaan. As ’n seksuele oortreding nie aan hierdie omskrywing voldoen het nie, is dit as onsedelike aanranding beskou.
Maar onder die huidige wetgewing word dit as verkragting beskou wanneer enige liggaamsdeel van ’n persoon ’n slagoffer penetreer. “Enige penetrasie van enige aard, insluitend orale seks, wat sonder die toestemming van die slagoffer plaasgevind het, is verkragting,” verduidelik Llewelyn.