DIE week voor sakdag slaap ek sleg. Snags word ek met ’n kloppende hart wakker. Dan begin my gedagtes in duisend rigtings draai. “Midnight madness” noem my pa daardie angs wat ’n mens soms in die middernagtelike ure pak. Ek bekommer my oor alles – dan dít, dan dát.
“Anxiety is a bird that will find a branch to perch on,” onthou ek die woorde van die kunstenaar William Kentridge in ’n destydse onderhoud.
My man, ondersteunend en geduldig maar later effens radeloos, stuur vir my ’n skakel na ’n meditasiepodcast om na te luister. Half uit desperaatheid sit ek dit een nag aan.
Die vrou in die podcast se stem is rustig, en sy praat oor die gevoel van angs. Sy preek nie, sy paai nie, maar die reëlmaat van haar stem reguleer jou asemhaling.
Sy sê: “Sê vir jouself dit is wat dit nou is.” En weer: “Dit is wat dit nou is.” “This is what it is right now.”
Dan sê sy: Dink aan ’n berg. Die weer verander; die storms kom. Dinge groei daarop. Diere leef en sterf daarop. Soms reën dit; soms sneeu dit. Dinge gebeur. Dink aan daardie berg.
En toe dink ek aan ’n berg.
En die weerligstrale klap en die winde ruk en die berg bly staan – onveranderd, stil en ewig, altyd daar.