Mahoudagboekvancovid-19-stryd
Die gevreesde virus het ’n jong sangeres onder erge simptome laat deurloop. Sy vertel van haar lyding in kwarantyn
SY WAS die enigste een wat die huis verlaat het, en dit was net om kruideniersware te koop. Sy het getrou haar masker opgesit, haar hande gereeld gewas, haar klere dadelik in die wasmasjien gegooi wanneer sy terugkom en haar huis van voor tot agter skoongemaak. Sy en haar gesin het die coronaviruspandemie baie ernstig opgeneem. Niemand het ’n voet by die deur uit gesit nie, en selfs hul familie wat om die draai woon, het hulle maande laas gesien.
Nogtans het die jong musikant van Kaapstad positief getoets vir die coronavirus. Die nuus het haar soos ’n vuishou in die maag getref en die virus het haar longe, bors en asemhaling erg aangetas. Terwyl Leigh-Ann Hellaby (33) met ons oor die foon praat, onderbreek sy af en toe die gesprek met ’n gehoes.
“Ek moes ’n ekstra week neem om te rus, maar ek het steeds nie herstel nie. Gister het ek glad nie gehoes nie en vandag hoes ek heeltyd. Dis op en af,” sê sy.
Tog is sy uit haar vel van opgewondenheid oor sy weer haar man, Blake (30), en
hul seuntjie, Daniel (5), in haar arms kan vashou sonder die vrees om hulle aan te steek. Wanneer sy egter weer op ’n verhoog kan staan en sing, weet sy nie.
“Ek weet nie wat die virus aan my lyf gedoen het nie. Wanneer ek passievol oor iets praat, dan verloor ek my asem.”
Sy doen nou gereeld asemhalingsoefeninge en vat dit een dag op ’n slag.
Leigh-Ann het dagboek gehou van haar uitmergelende reis met die virus en vertel vir Huisgenoot van die fisieke en emosionele uitputting wat sy verduur het terwyl sy die virus meer as twee weke lank in haar huis in die suidelike voorstede van Kaapstad moes beveg.
Dít – wys haar dagboek – is hoe dit voel om siek te word met covid-19.
DINSDAG 2 JUNIE
Ek begin siek voel. Ek het koors en diarree. Genadiglik hou laasgenoemde teen die aand op.
WOENSDAG 3 JUNIE
My bors begin benoud voel. Ek sê vir Blake, my man, iets is nie reg nie. Dit voel of daar ’n gewig op my bors is, en dit druk op my, verwurg my. Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie.
Hy herinner my ons verkeer die afgelope ruk onder baie stres. Ons voel veral angstig oor geldsake en werk. Dalk kry ek griep tesame met allergieë van die veranderende seisoen en dit vererger nou my matige asma. Tog bel ek die dokter. Ons besluit om my simptome te monitor.
DONDERDAG 4 JUNIE
Ek huil en sê vir Blake dit wat ek voel, is beslis nie gewone griep of benoudheid in my bors weens asma nie. Ek dokter myself met Corenza C, my asmapompie en suurlemoenwater. Blake maak sopies van borrie, knoffel en gemmer om my immuunstelsel ’n hupstoot te gee. Ek bel weer my dokter.
VRYDAG 5 JUNIE
Vandag voel ek erger. Ek kan nie asemhaal nie. Ek bel weer die dokter. Dié keer maak ek ’n afspraak. Ek kan myself nie langer oortuig dit is nié covid-19 en dit vermy om dokter toe te gaan nie.
Tydens my afspraak word ek deeglik ondersoek. Op grond van my simptome – die benoudheid in my bors, moeite om asem te haal en verlies aan smaak – is die dokter seker ek het die virus. Hy stel voor ek ondergaan ’n toets. Maar aangesien ons nou elke sent moet tel, sal ek eerder nie die R850 by Pathcare bestee waarvoor ek nie begroot het nie.
Pleks daarvan sê ek vir die dokter ek sal by die huis in selfisolasie gaan en optree asof ek wel positief getoets het. Daar is ’n slaap- en badkamer waar ek my kan afsonder, en ek sal nie in die ander vertrekke in die huis kom nie. My man sal my kos bring, maar ons sal nie met mekaar in aanraking kom nie.
My dokter aanvaar dit en vra my om asseblief in kontak te bly en hom te laat weet as my simptome vererger.
SATERDAG 6 JUNIE
My simptome is vandag veel erger. In die middel van die nag het ek badkamer toe gegaan om myself te stoom en nog Vicks aan te vryf om my bors te probeer oop kry, want dit trek ál meer toe. Ek gebruik meer as die helfte van die houer Vicks, want ek dink dit werk nie. Toe besef ek ek kan niks ruik nie! Ek maak die bottels Savlon en bleikmiddel oop om seker te maak. Dit is so. Ek kan niks ruik nie. Ek kontak my dokter weer en hy beveel aan ek laat my dadelik toets.
Ek gaan dadelik. Ek ry self. Ek snak na asem. Dit is so erg, ek hou amper stil en bel Blake, want ek voel duiselig en kortasem. Maar aangesien ek reeds halfpad daar is, bid ek die Here moet my veilig daar kry en hoop my dokter sal my iets gee om te help wanneer ek daar kom.
By die dokter gekom, moet ek natuurlik ’n masker dra, wat my nog moeiliker laat asemhaal. Die dokter kyk na my hartklop, koors en asemhaling. Hy voer ook die covid-19-toets uit met ’n Pathcare-toetsstel met ’n keeldepper. Ek vra hom aanhoudend of dit sal seermaak en hoe lank dit sal neem. My skitterende dokter kalmeer my en verseker my dit sal net ’n bietjie ongemaklik wees en ek sal dalk braakbewegings maak, maar dit sal gou verby wees.
’n Paar sekondes later is dit verby. Die dokter sê: “Sjoe, dit is ’n goeie monster!” Die slym is dik genoeg vir ’n goeie toets. Hy sê ek sal die uitslag oor twee dae kry, maar hy sal elke dag hoor hoe dit met my gaan, wat hy toe ook doen.
SONDAG 7 JUNIE
Ek voel swak en slaap die hele dag. Ek word net wakker om Corenza C, vitamiene en my borriedrankie te drink. Ek eet ook heel knoffelhuisies. Dit is geen probleem nie, want ek kan niks proe nie.
Vandag is vir my verreweg die ergste dag. Ek sukkel om asem te haal en hoes baie. Ek drink water met suurlemoen in die hoop dit sal die slym opklaar. Maar niks help nie.
My dokter sê ek moet my suurstofvlakke laat nagaan, en ek gaan terug. Hy doen die ondersoek en gee vir my prednisoon vir my benoude bors.
MAANDAG 8 JUNIE
Net soos gister. Ek staan op om te bad, stoom, medisyne te neem en rus net nog.
Ek probeer by die agterdeur uitgaan vir ’n bietjie son, maar ek word te swak en eindig net weer in die bed.
DINSDAG 9 JUNIE
Ek raak net nie beter nie. Ek lê in die bed en hoor hoe my vyfjarige seun elders in die huis speletjies speel. Ek probeer slaap, maar kan nie, want ek hoes te veel.
Toe my foon lui, weet ek dit is die dokter wat bel om te sê ek het vir covid-19 positief getoets.
Al het ek diep in my binneste geweet ek het dit waarskynlik en het ek myself dienooreenkomstig behandel, is die bevestiging steeds ’n slag.
Ek word oorweldig deur ’n golf van vrees en spanning oor my simptome en besorgdheid dat ek in die hospitaal kan beland, weg van my gesin af.
WOENSDAG 10 JUNIE
Ek probeer dagboek hou van die siekte, maar ek voel vandag so aaklig, ek het baie min krag om iets te skryf.
DONDERDAG 11 JUNIE
Ek is te swak om eens na my foon te kyk om enigiets aan te teken.
VRYDAG 12 JUNIE
Ek voel met die wakkerwordslag baie beter. Ek raak opgewonde en sê vir Blake: “Ek dink ek word beter!” Ek wil iets anders doen as net in die bed lê, en ek probeer netjies maak. Ek haal die stofsuier uit en begin die kamer stofsuig en beplan om die beddegoed te ruil.
Maar binne ’n paar minute voel dit of ’n bus my getref het. Ek moet gaan sit en rus. Ek besef hoe misleidend die virus is. Jy kan die een oomblik beter voel en die volgende is jy terug in die bed. Terug by die begin.
SATERDAG 13 JUNIE
Ek beweeg skaars. Slaap baie. Ek hoes steeds aanhoudend en haal swaar asem. Ek gaan terug dokter toe; ry weer self.
Hy skryf ACC200 en ’n hoesstroop voor en vra ek moet hom op die hoogte hou.
SONDAG 14 JUNIE
Ek voel eers goed, maar later voel dit weer of ’n bus my getref het en ek kan nie veel skryf nie.
MAANDAG 15 JUNIE
Vandag is die eerste dag wat ek beter voel – béter beter. Ek haal makliker asem, kan loop sonder om na asem te snak en ek voel nie swak nie.
Gister het ek ook beter gevoel, maar die euforie was van korte duur, want kort daarna was ek terug in die bed en het ek verskriklik pap gevoel. My bors was seer, ek het gesukkel om asem te haal en kon nie my lyf beweeg nie. Ek het ook die ergste kopseer ooit gehad.
Leigh-Ann saam met Daniel en haar man, Blake, by ’n vertoning.
Ek kom agter die virus is slinks: Jy dink jy herstel, maar die volgende oomblik is jy weer platgetrek. Daarom is dit belangrik om te rus selfs wanneer jy dink jy voel beter. Net rus.
Ek onthou ek het gister gebid en vir die Here gesê: As vandag my laaste dag is, sê op ’n manier vir my, want ek wil nie op my laaste dag van my gesin afgesonder wees nie. Ek wil dan graag saam met hulle tyd deurbring. Laat weet my, asseblief.
Ja, ek het sulke fatalistiese gedagtes en gebede gehad. Maar vandag is sake weer anders . . .
Vreugde kom beslis in die oggend.
DINSDAG 16 JUNIE
Ek haal makliker asem toe ek wakker word. En die lug wat ek inasem, voel soos ’n ander soort lug.
Ek weet net ek raak beter. Die drukking op my bors voel ligter. Ek kan langer aaneen praat sonder om gedurig op te hou om na asem te snak. Ek voel hoopvol en opgewonde.
Binnekort is my 14 dae van isolasie verby en kan ek my man en my seun in my arms hou sonder om vreesbevange te voel ek steek hulle aan. Ek sal na my kombuis kan gaan en my yskas oopmaak. Ek mis dit om goed te sien. Ek mis dit om keuses te hê.
Ek mis so baie dinge wat die afgelope twee weke van my weggevat is, onder meer my reuk- en smaaksin, wat steeds nie teruggekeer het nie.
Selfs dít is iets wat ons as vanselfspre
kend aanvaar. Ons eet net, kou en sluk sonder om elke goeie reuk en smaak te waardeer. En my liewe man, Blake, kook al my gunstelingmaaltye vir my – wat jy natuurlik doen vir iemand wat siek is – en ek kan niks daarvan proe nie! Alles smaak soos water. Ek kan net tussen warm en koud onderskei.
Ek het nooit gedink ek sou dit mis om dinge te ruik nie – goed en sleg. Kan jy dit glo? Om nie te kan ruik of jy moet gaan stort nie; om nie die varsheid te kan ruik nadat jy gestort het nie.
WOENSDAG 17 JUNIE
Môre is my laaste ondersoek. Ek sal hoor of ek uit isolasie kan gaan.
DONDERDAG 18 JUNIE
Die dokter gee my toestemming om uit selfisolasie te kom! Nou moet ek nog ’n week vat om te rus, herstel en die aanhoudende hoes af te skud.
Ek mag in dié week steeds nie met mense buiten my man en seun in aanraking kom nie, maar ek kan hulle twee eindelik vashou sonder om my te bekommer ek sal hulle siek maak. Ek dink dis die enigste vrees wat ek werklik die hele tyd gehad het: dat ek dit sou gee aan iemand wat ek liefhet en wat dit dalk nie sou kon oorleef nie.
Maar nou gaan dit goed met my en my siel. En my lyf raak ook beter.
Dit is nog nie heeltemal verby nie. Ek het nog ’n week om te gaan voor ek met ander mense mag kontak maak. My bors is nog baie benoud, en ek moet dit dophou.
Ek is opgewonde om weer te begin sing, maar daarvoor moet my longe eers heeltemal gesond wees.
Dus sal ek rus en presies doen wat die dokter aanbeveel.
VRYDAG 19 JUNIE – DONDERDAG 25 JUNIE
Ek herstel steeds en vat dit dus rustig deur selfrehabilitasie en asemhalingsoefeninge te doen. Ek spring ook tou en boks.
Dit is wonderlik om verlore tyd met Blake en ons seun in te haal. Ek doen dit deur teenwoordig te wees, hulle te omhels en hulle in te asem soos nog nooit tevore nie.
Op Vadersdag bak ek en maak gebraaide kos. My smaak- en reuksin het steeds nie teruggekeer nie; dus kan ek nie die risiko loop om heilsame maaltye te kook soos ek normaalweg sou nie.
DONDERDAG 25 JUNIE – LAASTE DAG VAN HERSTEL!
Ek voel baie, baie beter. Ek hoes steeds en snak ’n bietjie na asem wanneer ek asemhaal, maar hoofsaaklik net wanneer ek te vinnig of te veel praat – wat ek graag doen.
Ek voel in die geheel goed. Ek is slaggereed om weer daaraan te begin werk om my album op te neem, maar ek weet ek kan nog nie. Dit is frustrerend en stresvol, want ek moet so gou moontlik weer ’n inkomste begin verdien.
Al kan ek nog nie begin opneem nie, is ek vasbeslote om aan nuwe musiek te bly werk. Ten minste kan ek steeds liedjies skryf, komponeer en vooruit beplan. Niks sal my keer nie – nie covid-19 nie en nie die finansiële terugslag wat ons weens my siekte gely het nie.
Ons het dalk baie weens die pandemie verloor, maar ek reken ek het ook iets bygekry: ’n nuwe uitkyk op die lewe self en dít wat werklik belangrik is.
Dankie, covid-19, maar jy het verloor en ek het oorwin! ■
So moeilik as wat my ervaring met die virus was, moet ek sê dit het my baie dinge geleer, soos dat tyd waardevol en kosbaar is.
Ek het besef hoe belangrik dit is om teenwoordig te wees wanneer jy by jou geliefdes is, want in ’n kwessie van ’n dag kan jy skielik nuus kry wat jou van hulle afsonder. Koester elke oomblik saam met jou geliefdes en wees daar in die oomblik.
En ons moet besef ons gesondheid is inderdaad ons rykdom. Jy moet jou eie liggaam ken en weet of jy so ’n slag teen jou fisieke gesondheid kan hanteer.
Rus is belangrik, en jou liggaam het baie daarvan nodig. Pas jouself op.
Ek oordryf nie wanneer ek sê baie van die mense wat besmet word, toon geen simptome nie en weet nie eens hulle het die virus nie. Ander, soos ek, word kwaai aangetas. Daar was oomblikke wat ek regtig gedink het my tyd is verby.
Ek weet steeds nie hoe ek die virus opgedoen het nie. Ek was versigtig. Ek was veilig. Ek het seker gemaak ek hou my afstand, nie net vir myself nie, maar ook om my gesin se onthalwe – vir my ma wat ouer as 60 is; vir my seun wat vyf operasies gehad het in die vyf jaar dat hy lewe en wat dalk nie sterk genoeg sou wees om teen so ’n virus te stry nie.
Ironies genoeg het ek nie gevrees om self covid-19 te kry nie; ek het gevrees ek verloor ’n geliefde daaraan.
So afgesaag as wat dit klink, waardeer ek nou elke asemteug wat ek neem. Die virus het my dit op die harde manier geleer. Dit was eers toe ek gesukkel het om asem te haal dat ek die waarde daarvan besef het.
As iemand in hierdie moeilike tyd van selfafsondering alleen is of alleen voel, kontak my, asseblief. Ek sal tyd maak om jou daardeur te lei.
Maar weet ook: God het jou nooit verlaat nie. Trek Hom nader in jou tyd van nood. Wees innig lief en moet nooit hoop verloor nie. God beskerm jou!
‘Ek kom agter die virus is slinks: Jy dink jy herstel, maar die volgende oomblik is jy weer platgetrek’