Plesierskip word tronk vir passasiers
DIE plesiervaart was die ervaring van ’n leeftyd – maar nie op die manier wat enige passasier verwag het nie. Talle aan boord van die Diamond Princess het plek op die vaart van 29 nagte van Singapoer na Japan via Viëtnam, Hongkong en Taiwan bespreek om troues, herdenkings en mylpaalverjaardae te vier.
Die skitterende wit agttienverdiepingplesierboot was volgens die brosjure die “juweel van die see”. Gaste sou in aanddrag by die kaptein se tafel kon aansit, in ’n Japannese “onsen”-bad kon week, in varswaterswembaddens swem en uit sjampanjefonteine drink.
“Dis so te sê ’n vyfsterhotel,” sê Alan Sandford, ’n afgetrede onderwyser van Nottingham, Engeland, wat saam met sy vrou, Vanessa, die skeepsvaart vir sy 65ste verjaardag onderneem het.
Die Diamond Princess het op 6 Januarie uit Singapoer vertrek met 1 041 bemanningslede en 2 589 passasiers, hoofsaaklik van Europa, Amerika en Asië. Onder hulle was 12 Suid-Afrikaners en 77 Britte, insluitend die Sandfords.
Op 20 Januarie in Jokohama het David en Sally Abel, ’n Britse egpaar van Northamptonshire, by hulle aangesluit vir ’n “Chinese Nuwejaarsvaart” van 14 nagte om hul 50ste huweliksherdenking te vier. Ook Gay Courter, ’n 75-jarige Amerikaanse skrywer, het daar opgeklim. Sy het met ’n vorige keer die navorsing vir haar boek The Girl in the Box – ’n mediese raaiselverhaal wat op ’n passasierskip afspeel – op die Diamond Princess gedoen.
Plesiervaarte is verslawend. Die Sand
HEEL ONDER: Die Diamond Princess-plesierboot het wêreldwyd die nuus gehaal nadat talle van die passasiers siek geword het. ONDER: Gaste aan boord van die Diamond Princess kyk toe hoe passasiers by wie covid-19 gediagnoseer is, ontruim word in Jokohama, Japan. LINKS: Amptenare in beskermende drag verwyder passasiers se bagasie van die skip.
fords was op hul 10de vaart, Elaine Spencer van Kent het saam met haar man hul 20ste huweliksherdenking gevier op hierdie, haar derde, vaart, terwyl Gay op haar 10de vaart met Princess Cruises was. Al wat Alan bekommer het, was die duur van die vaart. “Ons was nog nooit tevore so lank weg nie,” sê hy. “Min het ons geweet . . .”
Net meer as ’n maand later, op 20 Februarie, het die Wêreldgesondheidsorganisasie aangekondig daar is meer gevalle van covid-19 op die Diamond Princess as op enige ander plek buite China – altesaam 712 bevestigde gevalle en 14 sterftes.
Die “juweel van die see” het as die “coronaplaagskip” bekend geword. Dit was ’n vroeë waarskuwing oor hoe vinnig die nuwe virus kon versprei, veral in “geslote” gemeenskappe.
Weke voor die res van die wêreld ingeperk is, het ontledings van dié drywende petribakkie gewys hoe asimptomatiese draers oordrag kon verhoog, hoe die virus tot 72 uur op sommige oppervlakke kon oorleef en hoe persoonlike beskermende toerusting, toetsing en opsporing allerbelangrik sou wees om die siekte te takel. Sommige lande het hiervan kennis geneem. Ander nie.
NOG voor die skip sy eerste hawe, Ho Tsji Minhstad, aangedoen het, het die Sandfords hulle al in hul balkonsuite op dek 11 tuisgemaak. Hulle was skaars bewus van berigte oor ’n uiters aansteeklike griepagtige siekte wat verwoesting in die Chinese stad Wuhan saai.
Elaine (54) het tussen ontbytbuffets, swembaddens en handwerklesse rondgefladder. Sy het na die Born to Be Wildrockvertoning gaan kyk en by die Princess-popkoor aangesluit wat Britse en Japannese liedjies repeteer. Elaine se kajuit was op dek 12, diep in die skip, sonder enige vensters.
“Ek het wel bedenkinge gehad oor die lang vaart, maar het gedink ek sou aan die gang bly,” sê sy. Toe die skip Nha Trang aan die ooskus van Viëtnam aandoen, het Elaine ’n fietstaxi in die stad trotseer – “nogal skrikwekkend, maar groot pret” – voor sy die antieke stad Hoi An gaan verken het.
Toe die skip op 12 Januarie in Hongkong anker gooi, het die Sandfords langs die hawepromenade gaan wandel. Daardie aand het Vanessa begin hoes. Twee dae later tydens hul vaart na Taiwan het sy ’n skeepsdokter gaan spreek. Hy het haar temperatuur geneem, ’n akute ongespesifiseerde onderste lugweginfeksie gediagnoseer en antibiotika en ontstumiddel voorgeskryf.
“Hy’t vir ons gesê dis niks om oor bekommerd te wees nie,” vertel haar man. Dis onduidelik hoe vroeg die virus ongemerk aan boord begin versprei het.
In die volgende twee weke het hulle na Taipei gevaar, die Yehliu-park verken en in Japan Kioto met sy glimmende Goue Tempel besoek. Ná ’n dagbesoek aan die berg Foedji het nog passasiers by Jokohama aan boord gekom en die skip het na Hongkong teruggekeer.
“Daardie hele tyd,” sê Alan,” het niemand van die virus gepraat nie.”
Op 25 Januarie was die passasiers teleurgesteld toe hulle hoor Hongkong se Nuwejaarsvierings is gekanselleer weens politieke betoging en kommer oor iets genaamd die “Wuhan-virus”. Dit het hulle egter nie veel gepla nie.
Aan boord van die Diamond Princess het die makietie voortgeduur. Rooi lanterns is aan die skip se skitterende drieverdieping-atrium gehang, en honderde passasiers het op balkonne saamgebondel om ’n Chinese draak oor die wit marmervloer te sien dans.
Op dieselfde dag het ’n 80-jarige passasier van Hongkong met ’n hoes daar aan wal gestap. Toe hy positief vir covid-19 toets, is uitvoerende beamptes van die Diamond Princess op 1 Februarie daarvan in kennis gestel.
Die passasiers was nog salig onbewus daarvan toe die skip op 1 Februarie by die Japannese tropiese eiland Okinawa vasmeer. Talle het my vertel hulle was geskok toe immigrasiebeamptes opdrag gee dat ál 3 711 passasiers en bemanning moes afklim vir mediese ondersoeke, maar dit was steeds nie genoeg om paniek te saai nie.
“Jy voel asof jy in jou eie klein borrel op die skip is,” sê Alan. Hulle het in hierdie stadium “skaars gehoor van die virus”.
Agter die skerms was dinge waarskynlik nie so ontspanne nie. “Dit sou ’n groot ding gewees het toe hulle hoor iemand aan boord het die coronavirus gehad,” sê ’n dokter op ’n passasierskip wat anoniem wil bly. “Elke skip se mediese span weet infeksie versprei soos ’n veldbrand aan boord. Dis moeilik om te beheer wanneer jy duisende mense saam in ’n metaalboks het.”
Die dokter verduidelik daar is gewoonlik “twee dokters en vier verpleegsters
Die ‘juweel van die see’ het as die ‘coronaplaagskip’ bekend geword
aan boord in ’n mediese sentrum met vyf beddens, een ventilator en ’n lykhuis waarin twee of drie lyke pas.
“Die deursneepassasier op so ’n skip kan goed in die 70 wees; daarom is sterftes aan boord nie ongewoon nie,” sê die dokter.
Oordraagbare siektes is ook “deel van bootreise. Almal eet en slaap in ’n beperkte ruimte. Die gebruiklike oplossing vir enige ernstige mediese kwessie is om die passasiers land toe te neem.”
Beamptes van die skeepsredery beweer die bemanning het openbare ruimtes meer gereeld begin skoonmaak, buffetgereedskap omgeruil en ekstra handreiniger aangebied. Die passasiers met wie ek gepraat het, het geen verskil agtergekom nie.
Elaine, wat as infeksie-inspekteur werk, sê: “Ek onthou nie dat enigiets verander het nie.” Alan stem saam. “Alles het soos tevore voortgegaan, al het ’n paar mense maskers gedra.”
Toe die skip op 3 Februarie van Okinawa na Jokohama vertrek, het kapt. Gennaro Arma (45) die passasiers ingelig hulle moet op versoek van die Japannese gesondheidsowerhede vroeg vasmeer.
“Ons was steeds buite en het met almal gemeng,” sê Elaine. Op daardie dag het haar koor in die atrium opgetree onder die goue spreiligte. Met begeleiding deur ’n jazz-klawerbordspeler het hulle hul groot treffer, “Oh, What a Night”, gesing.
Elaine onthou “die presiese oomblik toe ek die eerste keer die woord ‘coronavirus’ gehoor het”. Dit was toe die kaptein om 18:00 die gaste inlig ’n voormalige passasier het positief daarvoor getoets. Hy het almal gevra om na hul kajuite terug te keer en te wag dat Japannese mediese personeel gesondheidstoetse kom doen.
NET ná middernag is daar aan Elaine se kajuitdeur geklop. Sy het uit die bed gespring en twee mans in hazmat-beskermingspakke met maskers, handskoene en skermbrille aangetref. By Alan is daar om 03:30 geklop.
“Dít was nogal ’n skok,” sê hy. Maar steeds was hy nie bekommerd nie. “Ons het gedink dis ’n geïsoleerde geval.”
Met uitstappies wat gekanselleer is, het die skip se vermaakspan ’n lys aktiwiteite saamgestel: ’n boontjiesakgooikompetisie om 09:15 op dek 5, ’n Bollywood-dansklas
op dek 7, ’n buitemuurse vertoning van Aladdin op dek 14. “As ek nou terugkyk,” sê Gay, “was dit ’n reusagtige fout.”
Eers die volgende dag “het die werklikheid ons getref ”, vertel Elaine. Sy het om sesuur ontbyt geëet toe die kaptein die gaste vra om na hul kamers terug te keer.
Tien mense is van die skip verwyder nadat hulle positief vir die virus getoets het, het hy verduidelik. Almal moes die volgende 14 dae in kwarantyn in hul kajuite bly.
Op dek 12 het Gay van haar balkon op die Jokohama-hawe uitgekyk en gesien dit wemel van militêre voertuie, ambulanse en mense in hazmatpakke. Satellietvoertuie van die wêreldmedia het ook hul staan daar gekry
“Dit het gelyk asof ons in ’n goedkoop pandemiefliek beland het,” sê sy. “Beslis. Nie. Oukei. Nie.”
Die volgende oggend het die kaptein nóg 10 gevalle aangekondig.
Met die gaste in hul kamers vasgekeer, is hulle gratis internet en aanlyn vermaak aangebied. Die kulkunstenaar het vir hulle kaarttoertjies geleer, en ’n groot snoesige beer het slaaptydstories vir kinders voorgelees. Grootmense het speelkaarte en kinders speelgoed gekry. Termometers is ook aan die passasiers uitgereik en hulle is gevra om die skip se mediese personeel te kontak as hul temperatuur bo 37,5 °C styg.
Aan die ander kant van die skip het Alan op sy balkon op die see sit en uitkyk, ’n bottel wyn bestel en hom reggemaak vir nog ’n week se vakansie. Uit sy minisuite het David Abel met ’n videodagboek begin.
Vasgekeer in Jokohama se Tokiobaai het die Diamond Princess gou ’n wêreldwye nuusstorie geword. In daardie stadium, sewe weke voor Suid-Afrika ook met ’n inperking sou begin, het die skip se lot na iets unieks gelyk – die eerste gemeenskap buite China met ’n beduidende uitbreking van covid-19.
Die wêreld het verontrus en geboei toegekyk terwyl daar daagliks oor die getal gevalle berig is asof die skip ’n land op sigself was. Teen dag ses van die kwarantyn was daar 135 gevalle. Teen dag sewe, 174. Teen dag nege, 218.
Die Abels het die roem geniet toe duisende op hul YouTube-kanaal inskakel. Saam met ander wat op die skip gehou is, het hulle onderhoude aan nuuskanale wêreldwyd toegestaan.
Toe die hutsfrase #HangInThereDiamondPrincess
BO: Vir John en Elaine Spencer was die weke van isolasie in hul klein, vensterlose kajuit baie moeilik.
aanlyn begin opduik het, het ondernemings geskenke gestuur. Waterponieryers het waagtoertjies uitgevoer in die water rondom die skip – verveelde passasiers het hulle met ’n Mexikaanse golf bedank wat oor die balkonne gerimpel het.
“Dit was nie alles net wanhoop nie, veral in die eerste week van die kwarantyn,” sê Alan. Hy het vermaaklike video’s gemaak van hom wat in sy kajuit wandelings onderneem en sy onderklere in die wasbak was.
Ingehok in haar vensterlose kajuit het Elaine glad nie so goed gevaar nie. Sy en John “het ’n soort roetine probeer volg om dinge te vergemaklik”. Hulle het elke oggend 30 minute lank op die plek gehardloop. Saans het hulle vriende in Engeland gebel. Maar snags kon Elaine die gehoes en gehuil deur die dun mure hoor.
Nadat kapt. Gennaro ’n hele paar dae met die Japannese owerheid onderhandel het, is passasiers in binnekajuite toegelaat om 45 minute lank op die dek te gaan stap. Elaine het drie dae gewag voor sy in die ysige middernaglug dit na buite gewaag het. Dit het “onwerklik” en “skrikwekkend” gevoel om by mense met maskers verby te loop. Party het gehoes terwyl helikopters bo hulle sirkel.
Sy meen die toetsing was wisselvallig. Slegs dié met simptome is skynbaar getoets. Selfs mense wat kajuite met positiewe pasiënte gedeel het, is soms nie getoets nie.
Bekommerde passasiers het nuwe inligting in die sosiale media gedeel en is dikwels beter deur verslaggewers ingelig as deur die kaptein se aankondigings.
Op ’n banier wat aan ’n balkon gewapper het, is oor ’n “ernstige tekort aan medikasie en inligting” gekla.
Die Japannese gesondheidsdepartement het “vir die hele duur van die kwarantyn die toetsings en kwarantynprotokol vir alle gaste en bemanning op
BO: Sally en David Abel het aan die wêreld deurlopende kommentaar verskaf via hul YouTube-kanaal. HEEL BO: Philip en Gay Courter het ook 14 dae in kwarantyn op die skip deurgebring.
die Diamond Princess bepaal en uitgevoer”, sê Princess Cruises hieroor.
“Jy het geen benul van die druk aan boord van ’n skip wanneer jy so aan jou kajuit gekluister is nie,” het Abel aan Sky News gesê. “Elke keer wat daar aan die deur geklop word, draai jou maag,” het sy vrou, Sally, bygevoeg.
Die kaptein se “soetvloeiende, sexy Italiaanse stem”, wat in gaste se kamers uitgesaai is, was vertroostend, vertel Gay. “Ek het ’n bietjie stockholmsindroom gehad,” spot sy.
Gennaro het gedigte gelees, vir die gaste “bon appétit” gesê, grappe gemaak oor sy hare wat grys word en herhaaldelik herinner dat steenkool slegs onder druk ’n diamant word. “Ons het altyd geweet wanneer hy vir ons slegte nuus gaan gee, want hy het eers die positiewe dinge gedeel en dan teen die einde sou hy sê hoeveel gevalle daar was,” sê Elaine.
TEEN 16 Februarie het 355 passasiers aan boord positief getoets. “Ons het almal telling gehou,” vertel Gay. “Dit het net bly styg tot hulle opgehou het om ons daarvan te sê. Daar is geen manier om te verduidelik hoe vreesaanjaend dit is nie. Hoe de hel word ons siek? Ons bly dan in ons kamer.”
Kos is in die kajuit afgelewer. Ontbyt het bestaan uit gekookte eiers en jogurt. Aandete was ’n driegangmaal: gerookte salm, byvoorbeeld, en beesbredie en groente gratin.
Maar Elaine het gou agtergekom pleks van die gewone silwereetgerei en borde kry hulle weggooibare eetgerei en plastiekbokse. “Ons was baie bewus van die skinkborde en die handvatsels wat inkom. Ons het dit ook afgevee.”
Sy het personeel in die gang hoor hoes “terwyl hulle ons kos aflewer”.
’n Verslag deur die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming het later gewys in die vroeë stadium van die uitbreking was driekwart van die bemanningslede wat besmet is voedseldienswerkers.
Volgens ’n verslag wat in die tydskrif Infectious Disease Modelling verskyn het, het die infeksie ná 5 Februarie “aansienlik” onder die passasiers gedaal, maar die virus het toe steeds onder die bemanning versprei. Restaurantpersoneel het drie etes per dag by 1 337 kajuite afgelewer. Ander bemanningslede het nuwe take verrig soos om medisyne uit te deel en die siekes te help.
Saqnaz Rayi Siwi, ’n 23-jarige Indonesiër, was ’n kelnerin in die skip se Horizon Court-buffet. Dit was haar “droomwerk – om dwarsoor die wêreld te reis sonder om baie geld uit te gee”.
Terwyl die passasiers in kwarantyn was, het Saqnaz steeds van ontbyt tot met aandete gewerk. “Die kaptein het in daardie tyd aangekondig ons moet sosiale distansiëring begin toepas,” sê sy. “Maar dit was moeilik omdat ons almal saam in dieselfde omgewing moes werk en saam geëet het.”
Die bemanning het op dekke twee en drie geslaap, langs beknopte gange in kajuite met stapelbeddens, en ’n eetplek gedeel. Saqnaz sê sy was “elke dag bang”, maar “ek moes steeds werk”.
Gennaro het hierdie voorste linie werkers “my gladiators” genoem.
Slegs bemanningslede wat simptome getoon het, is van hul pligte onthef, afgesonder en getoets. As hulle positief getoets het, is hulle na ’n plaaslike hospitaal geneem. Die res het voortgegaan om die skip skoon te maak, wasgoed te was en siek gaste te help, soms sonder beskermende toerusting.
Princess Cruises sê hulle het “die Japannese gesondheidsdepartement se leiding gevolg oor die gebruik van beskermende toerusting”.
’n Japannese epidemioloog het later die toestande aan boord as “heeltemal chaoties” veroordeel.
Op 18 Februarie het die Abels positief getoets vir covid-19. Drie dae later is hulle na ’n Japannese hospitaal oorgeplaas, waar David se gesondheid vinnig agteruitgegaan het. ’n X-straal van sy longe het die skadu van akute longontsteking getoon. Sally het heelnag sit en kyk hoe hy asemhaal, bekommerd dat sy haar man sou verloor. Byna ’n maand later, op 14 Maart, sou hulle eindelik – gesond – huis toe gaan.
Elaine het toe al op 22 Februarie ’n repatriasievlug gehaal.
“Ek het tranerig gevoel toe ek die kajuit verlaat,” sê sy. Sy het met ’n papiermasker en blou plastiekhandskoene na vryheid gestap. Haar vliegtuig het 31 Europese passasiers huis toe geneem. Hulle is nie aangesê om ’n sosiale afstand te handhaaf nie. Vier Britte op die vlug het later, terwyl hulle in kwarantyn was, positief getoets vir die virus.
Al het hulle die gebeure op die Diamond Princess dopgehou, het Brittanje normaalweg voortgegaan – en eers op 23 Maart het hul inperking begin. Toe is Alan weer ingehok.
“Kwarantyn aan boord van die skip is anders as inperking tuis,” sê hy. “In kwarantyn het jy streng beperkings, maar alles word vir jou gedoen en julle is almal saam in die ding. Nou is ons almal saam daarin, maar moet afsonderlik die mas opkom.”
NÁ DIE gaste se vertrek het die bemanning se kwarantyn begin. Saqnaz het aanhou werk en vir die ander bemanningslede kos opgedien. Sy was tot 1 Maart in kwarantyn. Gennaro was die laaste mens om voet aan wal te sit.
“Om my skip te verlaat was nooit ’n opsie nie,” sê hy vir my.
Teen die middel van Mei was sowat 100 000 bemanningslede nog weens die coronavirus op passasiersbote ter see gestrand. Intussen het passasiers van die Diamond Princess volle terugbetalings ontvang en is ’n gratis vaart aangebied.
“Ek oorweeg dit,” sê Elaine, “maar my kajuit sal ’n balkon moet hê.” ■
‘Dit het gelyk asof ons in ’n goedkoop pandemiefliek beland het’