Huisgenoot

Rebel Wilson nou skraler en gesonder

Rebel Wilson het besluit om die gewig af te skud wat tot haar roem bygedra het en gesond te leef

- Saamgestel deur

SY HET ’n fortuin verdien deur karakters soos Fat Amy in die fliekreeks Pitch Perfect te speel – groter as lewensgroo­t mense wat jou laat skaterlag terwyl hulle met hulself spot sodat ander dit nie eerste doen nie. Haar grootte en houding het haar status as een van Hollywood se skitterend­ste komedieste­rre help versterk – en die glinsterst­ad se winsbehept­e base het dit alte goed besef.

Die aktrise Rebel Wilson het onlangs bekendgema­ak sy is selfs betaal om haar kurwes te behou. Dat sy plusgroott­e in ’n see van skraal sterre was, het gehelp om haar rolprente in loketgoud te omskep.

Kykers wou iemand sien wat nie net in hul vel gemaklik lyk nie, maar dit boonop geniet om groter te wees.

Haar grappe, dikwels ten koste van haarself, het in rolprente soos Bridesmaid­s (2011) en How to Be Single (2016) die kollig gesteel. In Pitch Perfect (2012) was sy die een wat haar mond volgeprop en in sjoebroeke en stywe tops lyf gewys het.

“Ek het ’n werk gehad waar ek baie geld betaal is om groter te wees,” het sy aan die Britse koerant The Sun gesê.

Nie dat sy eintlik kla nie. Sy erken haar grootte het haar van die res onderskei en “ek het dit as ’n voordeel beskou, terwyl so baie mense dit eintlik as ’n nadeel gesien het”.

Maar om by ateljeebas­e te hoor sy moes ’n sekere grootte bly het ’n emosionele tol geëis. “Dit kan ’n bietjie met jou kop smokkel,” sê sy. “Dis asof jy nie in beheer van jou eie lewe is nie.”

En sy is nou gereed om weer die leisels oor te neem. Rebel, wat in Maart 40 jaar oud geword het, sluit dié hoofstuk van haar lewe af en verwelkom ’n nuwe, gesonder een.

“Ek het net gedink dít gaan die jaar wees waarin ek op my gesondheid fokus,” sê sy.

“Dis nie asof ek wil gewig verloor en by ’n sekere nommer uitkom nie. Dis meer as dit; dit gaan oor die sielkundig­e verwerking van hoekom ek my ooreet het.”

Sedert die begin van die jaar deel die Australies­e aktrise haar verslankin­gsreis met haar 7,9 miljoen Instagramv­olgelinge.

In ’n motiverend­e plasing verlede maand verskyn sy handevierv­oet in ’n sweetpak en sê: “Selfs as jy na jou doelwitte toe moet kruip, hou aan – dit sal die moeite werd wees.”

Haar doelgewig is 75 kg, en die resultate begin reeds wys. Terwyl sy haar nuwe Australies­e komedieree­ks, LOL: Last One Laughing, bemark het, het sy ’n blou laehalsrok gedra wat kenners laat skat het sy het sowat 18 kg afgeskud.

’n Bron in die binnekring het aan die Daily Mail verklap Rebel volg sedert verlede jaar die Vivamayr-eetplan, wat op gesonde spysverter­ing fokus. Dit behels onder meer dat jy stadig eet en kou, minder suiker inneem en kosse vermy wat nie met jou akkordeer nie.

Die eetplan sluit ook baie vars groente en vrugte, gesonde proteïene en vette

asook volgraanst­ysels in.

Volgens die bron oefen Rebel ses keer per week met die hulp van ’n persoonlik­e afrigter, sy stap baie en probeer om meer proteïene te eet.

Tydens die inperking oefen sy en die afrigter by haar huis in Sydney, maar sy kan skaars wag dat gimnasiums heropen sodat sy “kan yster pomp”.

“Ek moes uitgaan park toe en op die grond lê terwyl ek opsitte doen,” het Rebel onlangs in die Australies­e televisiep­rogram Sunrise gesê. “Dis ’n bietjie wreed, en dis koud in die oggend.”

Haar nuwe program, wat vandeesmaa­nd op Amazon Prime Video sy debuut maak, laat mense omtrent gons.

LOL is ’n eksperimen­t waarin 10 van Australië se snaaksste komediante ses uur lank saam in ’n vertrek toegesluit word. Die laaste een wat nie lag nie, vat sowat R1,2 miljoen huis toe.

“Dit ontaard baie gou in chaos,” sê Rebel, wat die program aanbied. “Daar’s baie (kru) taal. Dis nie vir kinders nie.”

AS KIND was Rebel glad nie die gevatte ekstrovert wat sy vandag is nie. Sy was leergierig op skool en het pouses alleen in die biblioteek sit en leer. “Ek was ’n totale bleeksiel so op my eentjie in die biblioteek,” sê sy.

Sy was ook ontsettend skaam, maar het eendag besluit om dit te verander. “Ek het iewers gelees as jy nie jou persoonlik­heid teen die ouderdom van 15 vaslê nie, is dit neusie verby; jy gaan vir die res van jou lewe bly soos jy is.

“Ek was ongeveer 14 en het gedink as ek nie verander nie, gaan ek altyd so wees – die skaam meisie wat bloos wanneer sy ’n vraag moet beantwoord.”

Sy het hard gewerk om uit haar dop te kruip en dit het vrugte afgewerp. “Ek het opsetlik uitgegaan en probeer vriende maak. Ek het net elke dag probeer. En toe raak ek as ’n effens parmantige karakter bekend.”

Rebel “is een van die mense wat baie hard werk wanneer sy op iets besluit”, sê haar ma, Sue Bownds, ’n onderwyser­es, hondeteler en internasio­nale hondeskoub­eoordelaar.

Sy het haar oudste dogter die eerste ses weke van haar lewe Rebel genoem na ’n voormalige student wat by haar troue opgetree het. Maar Sue het later “geswig” voor familie se “druk” om ’n “geskikte naam” te kies.

Toe noem sy haar Melanie Elizabeth Bownds, maar Rebel het dit in 2002 na Rebel Wilson verander. Sy het ’n voorsaat se van aangeneem, want sy wou nie meer haar pa se van deel nie. Haar ouers is in 1997 geskei en sy het drie sibbes – twee susters, Liberty Mair en Annaleise, wat die van Annachi gebruik, en ’n broer, wat die van Ryot gebruik.

Rebel was slim en het ná hoërskool in die regte studeer. Maar kort nadat sy graad gevang het, het sy besluit die regsberoep is nie vir haar nie.

Dit is versterk deur ’n openbaring toe sy as uitruilstu­dent in Mosambiek ernstig siek geraak het van malaria. Sy was twee weke lank in die waaksaal, waar sy “gehallusin­eer het ek het ’n Oscar gewen”, vertel sy.

“Ek weet nie of dit van die medisyne of die siekte was nie, maar ek het op die verhoog gestap en ge-rap pleks van ’n toespraak te lewer en dit het groot applous ontlok.”

Sue het gehuil toe Rebel besluit om Amerika toe te trek.

‘Ek was ’n totale bleeksiel so op my eentjie in die biblioteek’

Bridesmaid­s.

“Sy was veronderst­el om ’n prokureur te wees, en sy het boonop sulke wonderlike punte behaal.”

Tog het haar dogter haar vaardighed­e in Hollywood goed benut.

“In die vroeë dae het ek baie van my kontrakte self beding,” sê Rebel. Sy het ook haar regsgraad ingespan tydens ’n verhoor om die rolprentve­reniging van Amerika te oortuig dat die fliek The Hustle (2019), wat sy vervaardig het, ’n perk van O13 (13 met ouerleidin­g) pleks van ’n R vir Restricted moet kry. ’n R sou beteken enigiemand jonger as 17 moes deur ’n volwassene vergesel word, wat kykergetal­le kon beperk.

Deesdae is Rebel sowat R272 miljoen werd en ook ’n suksesvoll­e vervaardig­er met haar eie produksiem­aatskappy met die naam Camp Sugar.

SY IS dalk op ’n reis van gesondheid­svernuwing, maar Rebel is steeds Rebel – die vurige ster wat graag met haarself spot. As aanbieder by die Baftas vroeër vanjaar het sy met die rolprent Cats, waarin sy self verskyn, die draak gesteek. Die fliek het ’n skitterend­e rolverdeli­ng van onder andere Taylor Swift, Idris Elba en Judi Dench, maar was een van die skouspelag­tigste loketmislu­kkings van alle tye – en Rebel was nie van plan om daarvan weg te skram nie.

Sy het by die geleenthei­d laggend gesê die rooi helfte van die tweekleuri­ge rok wat sy dra, is ’n rok wat sy gedra het toe sy “nie Mej. Australië gewen het nie” en die swart helfte kom van “’n begrafnis wat ek pas bygewoon het vir Cats, wat vreemd genoeg vir geen prys benoem is nie”.

Die alleenlope­r sê sy sou graag iemand wou ontmoet “en nesskop”, maar dit is moeilik, want haar roem intimideer mans gewoonlik.

“Dis meestal die baie selfversek­erde verwaandes wat my nader. Gewone ouens kom normaalweg nie na my toe nie,” het sy verlede jaar in die Australies­e Today Show gesê. Toe sy gevra is van watter soort ou sy hou, het sy gesê: “Iemand wat gaaf is, dalk talentvol, nie ’n misdaadrek­ord het nie – so iets.”

Maar vir eers fokus sy daarop om gesond te leef.

“Ek wil die beste weergawe van myself wees,” sê sy. “En ek wil dit vir mý hê.” ■

 ??  ?? HOOFFOTO: Die aktrise Rebel Wilson in Januarie by die Magic Millionspo­logeleenth­eid in Australië. REGS: Sy deel nou haar verslankin­gsplan in die sosiale media.
NICI DE WET
HOOFFOTO: Die aktrise Rebel Wilson in Januarie by die Magic Millionspo­logeleenth­eid in Australië. REGS: Sy deel nou haar verslankin­gsplan in die sosiale media. NICI DE WET
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa