Die kitaarspeler en liedjieskrywer Nathan Smith gesels oor sy derde album
Meer as 10 jaar nadat hy naam gemaak het, reik die kitaarspeler en liedjieskrywer nou sy derde album uit
Blues met ’n skeut pop en rock
Daar is ’n goeie balans van opgewekte goedvoelliedjies en rustige akoestiese musiek op sy derde album, Here’s to the Now, vertel Nathan.
“Die grootste uitdaging was om ’n klank te vind wat kan lei tot ’n identiteit vir Nathan Smith, die solomusikant,” vertel die kunstenaar.
As sessiemusikant moet hy baie verskillende style kan speel en moet hy van dag tot dag by ’n groot verskeidenheid kunstenaars kan inval. “Eendag speel ek op Francois van Coke se rockalbum en die volgende dag speel ek saam met Laurika Rauch in ’n rustiger akoestiese opset,” verduidelik hy. “Die roete wat ek dus met hierdie album gekies het, is pop-infused blues met ’n skeut ligte rock daarby.”
Sy musiekpad
Nathan het aanvanklik ’n sololoopbaan gehad voor hy heel toevallig as sessiemusikant bekend geraak het. In 2006 het hy sy debuutalbum,
Songs from a Diary, uitgereik en in 2009 het sy eksperimentele album, The Nathan Smith Project, die lig gesien.
“Kunstenaars het my ál meer begin vra of ek saam met hulle aan hierdie projek of daardie vertoning kan werk,” verduidelik Nathan.
Kort voor lank het hy saam met plaaslike en internasionale musieksterre soos die Ierse sanger Ronan Keating van die groep Boyzone, Riana Nel en Juanita du Plessis gewerk. Hy was ook al by verskeie SuidAfrikaanse produksies soos The Voice SA, Noot vir noot en Afrikaans Is Groot betrokke.
“Ek is baie bevoorreg om by soveel verskillende kanale in die musiekbedryf ingeprop te wees,” vertel Nathan.
Hoekom die lang wag?
Hoewel hy altyd lief was daarvoor om liedjies te skryf en nooit daarmee opgehou het nie, het sy eie musiek op die agtergrond geskuif namate hy meer in die sessiemusiekwêreld betrokke geraak het. “Here’s to the Now is ’n samesmelting van ’n klompie jare se idees en liedjies,” sê Nathan oor sy derde album.
’n Vriend wat ’n teater in Pretoria besit, het hom sowat drie jaar gelede genader om solovertonings daar te doen.
Nathan het van sy eie musiek ook deel van die vertonings gemaak en die gehoor was gaande daaroor. Dis dié dat hy besef het hy moet weer aan ’n album begin werk.
“As sessiemusikant speel jy musiek meer uit die kopsone. Met my eie musiek het dit meer na die hartsone beweeg.” ■