Huisgenoot

SUSTER KRY STANK VIR DANK

-

Ek wou my suster op haar verjaardag bederf, want sy het nou baie probleme. Sy woon tydelik by my. Al was dit moeilik met die huidige regulasies, kon ek dit regkry dat ons ’n video-oproep na haar kinders maak wat almal ver is. Ek het moeite gedoen met eetgoed en vonkelwyn. Sy het gesê sy wil nie eintlik ’n partytjie hê nie, maar sy is so negatief oor alles en toe doen ek dit maar. Daarna het ek by iemand anders gehoor hoe alles wat ek gedoen het verkeerd was en dat sy kwaad is omdat ek net vir haar ’n kaartjie gegee het. My partytjie was eintlik my geskenk aan haar met al die duur data vir die oproep. Ek voel net sy waardeer nie wat ek vir haar doen nie.

T op H

’n Mens kan maklik as vanselfspr­ekend aanvaar word as jy gereeld die wêreld vir ander ’n beter plek probeer maak. Nie almal sien ’n mens se goeie bedoelings as sodanig raak nie. Soms probeer ’n mens net te hard met sommige mense. Dan moet jy jouself afvra of jy ’n patroon skep waarin jy ander ten koste van jouself tevrede probeer hou. Is daar ook ander gevalle waar sy nie jou pogings waardeer het nie? In party mense se oë sal jy nooit genoeg kan doen nie. Dit is ook ’n vorm van manipulasi­e wat dalk al sedert jul kinderjare tussen julle bestaan.

Jy kan óf vrede maak hiermee óf jy kan openhartig met haar praat oor wat jy gehoor het. Vra jouself af watter een van die twee iets sal laat verander. Min individue kan oornag skielik opregte waardering toon.

As jy haar die voordeel van die twyfel wil gee, onthou party mense geniet dit nie om skielik die middelpunt van belangstel­ling te wees nie. Luister liefs as hulle sê hulle wil nie ’n partytjie hê nie. Almal is ook nie gemaklik daarmee om tegnologie in te span om op die nuwe manier sosiaal te verkeer nie. Jy kon dit nie geraai het nie. Wees sag met jouself. Ons leer almal hier tydens die inperking duur lesse oor hoe verhouding­s en die lewe nou werk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa