Huisgenoot

STRYERIGE KÊREL SOEK TROOS BY ANDER

-

As ek en my kêrel baklei, stap hy uit en verkul my dan met ander vroue. Ek het hom al twee keer uitgevang. Ek begin nou vermoed hy raak opsetlik stryerig om homself ’n rede te gee om my te verkul. Die laaste keer was ons ’n week uitmekaar. Ons het mekaar vroeër altyd alles van ons dag vertel, maar nou weet ek nie meer wat hy heeldag doen nie. As ek hom daaroor vra, baklei ons. Ek stap nou liewer eenkant toe as om sy lokaas te vat. Moet ek hom hieroor los? Ten spyte van alles slaan hy steeds my asem weg.

K op A

As ’n mens stadigaan ’n verhouding wil verlaat, kan jy maklik redes vind om jou optrede te regverdig. Hy lok rusies met jou uit sodat hy nie hoef sleg te voel oor die dinge wat hy nog nie vir jou wil sê nie.

Sulke rusies in die laaste pylvak van ’n verhouding is nie goed om vertroue te bou as jy hom ’n derde of vierde kans wil gee nie. Dikwels neem sulke rusies ’n patroon aan. Julle baklei dalk eintlik daaroor of julle die verhouding moet beëindig of nie.

So ’n stryerige verhouding­smaat sal ook telkens wanneer hy tydens ’n rusie wegstap daarmee wys dat hy moeg is vir die ewige bakleiery en dit as rede gebruik om sy maat te los.

Jy verdien beter as ’n maat wat jou keer op keer in die steek laat. Om ’n verhouding­smaat te verkul is ’n keuse. Jy staan nie net skielik een oggend op en doen dit sonder rede of word deur grenslose passie gedwing om die verhouding­sgrense een aand te oortree nie.

Nee, jy neem iewers gedurende ’n verhouding ’n besluit om dit wel te doen, al stippel jy nie die redes vir jouself of vir ander uit nie.

Al verbeter jul verhouding van tyd tot tyd, is dit nie ’n gesonde verhouding met vooruitsig­te nie. Stap eerder weg voor jy net slegte herinnerin­gs het. Werk teen jou eie pas en op jou eie manier aan jou genesingsp­roses. Jy kan dalk gou iemand anders vind wat jou na asem laat snak – dié keer om al die regte redes.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa