So help SA covid-19-entstof toets
Die prof wat ’n SA proef vir ’n covid-19-entstof lei, verduidelik wat dit behels
OM ’N spuitnaald naby jou vel te sien is al genoeg om baie mense koue rillings te gee, maar sê nou die inspuiting bevat boonop ’n splinternuwe entstof wat nog nie voorheen op mense getoets is nie? Dit moet besonder skrikwekkend wees.
Toe Nosisi Ngqiba hoor plaaslike wetenskaplikes soek vrywillige deelnemers aan Afrika se eerste kliniese proef om ’n moontlike covid-19-entstof te toets, het sy egter nie gehuiwer nie.
Maande lank het die ouma van Soweto al gejeuk om iets te doen om die virus te help beveg, en hier was haar kans nou eindelik.
Nosisi (55), ’n toesighouer oor skoonmaakpersoneel by ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg, is opgewek toe sy met ons gesels dae nadat sy die inenting op ’n geheime plek in Gauteng gekry het.
“Die enigste newe-effekte wat ek tot dusver ervaar het, is pyn in my bobeenspiere; andersins is ek oukei,” sê sy.
Maar wat sy wel moes verduur, is nuuskierige bure wat dink sy is dalk ’n gesondheidsgevaar.
“Daar’s selfs skinderstories dat ek die virus sal opdoen, maar ek gee nie om nie,” sê Nosisi.
Sy is een van die 2 000 vrywilligers wat aangesluit het by die proef onder leiding van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).
“My kinders weet hoe passievol ek daaroor is om ons land van die virus te bevry.
“Ek is net ’n gewone burger, maar ek wou ’n verskil maak – al is dit net op ’n klein manier,” sê sy.
Maar is sy nie eens ’n bietjie bang daaroor dat sy met ’n ongetoetste entstof ingespuit is nie?
“Noem my naïef, maar ek glo nie die regering sou mense opsetlik blootstel aan iets wat hulle moontlik kan doodmaak nie,” sê sy.
“Almal het hul eie menings, maar ek kies om my te skaar by die mense wat nou probeer oplossings vind.”
DIE proef vir ’n entstof teen covid-19 vind onder die toesig van prof. Shabir Madhi van Wits se entstofeenheid plaas. Hy is ’n bekroonde wetenskaplike wat al aan die voorpunt van vele baanbrekerstudies oor entstowwe was.
Met dié dat covid-19 soos ’n veldbrand oor die wêreld versprei, was hy gretig om ’n bydrae te lewer. Toe nader hy die Jenner-instituut aan die Oxford-universiteit wat hulle haas om ’n entstof te ontwikkel.
Die entstof word op 4 000 deelnemers in Brittanje getoets, en ’n Amerikaanse studie met 30 000 deelnemers sal binnekort begin. En dan is daar nou ook die 2 000 Suid-Afrikaners wat deel is van die Suid-Afrikaanse “Ox1Cov-19 Vaccine Vida”-proef.
Die eerste groep van 50 deelnemers, wat Nosisi insluit, het hul inspuiting
teen die einde van Junie ontvang.
“Ons ondersoek of die entstof teen covid-19 beskerm en hoe veilig dit is,” sê Shabir, wat ook die direkteur van die Mediese Navorsingsraad se eenheid vir entstowwe en aansteeklike siektes (Vida) is. “Dit help nie ’n entstof beskerm iemand teen ’n siekte, maar veroorsaak terselfdertyd sy eie probleme nie – veral ernstige probleme.”
Die professor en sy span se werk is dus om die entstof toe te dien en vas te stel of dit newe-effekte veroorsaak en dan te toets of dit enige voorkomende uitwerking teen covid-19 het.
“Die Oxford-universiteit verskaf net die entstof; die res daarvan is my verantwoordelikheid,” sê hy.
Daar was heelwat wat Shabir en sy span moes afhandel voor daar met die studie begin kon word, onder meer om finansiering te bekom en die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad te kry.
Toe moes hulle vrywilligers tussen die ouderdomme van 18 en 65 jaar vind wat gesond is, nie voorheen covid-19 gehad het nie en bereid was om ’n ongetoetste entstof te ontvang.
Ondanks die gevare is daar geen tekort aan vrywilligers nie, al ontvang hulle geen vergoeding nie – net ’n bydrae van R300 vir reisuitgawes.
Die mense wat vir die proef gekies is, is lukraak in twee groepe verdeel – die een sal die entstof kry en die ander ’n plasebo. Albei groepe sal 12 maande lank gereelde opvolgondersoeke ondergaan.
“Wanneer ons mense kry wat covid ontwikkel het, sal ons die twee groepe kan vergelyk,” sê Shabir. Deur die twee
groepe te vergelyk kan hulle vasstel hoe goed die entstof werk.
Die deelnemers, wat 50 mense met MIV insluit, sal deur die loop van die volgende jaar sowat agt keer medies ondersoek word en daar sal elke twee weke bykomende kontroles oor die foon wees om te bepaal of hulle enige covid-19-simptome ervaar.
SHABIR is ervare in baanbrekersnavorsing oor entstowwe. Dit is danksy sy pogings dat Suid-Afrika die eerste land in Afrika geword het wat kinders teen die rotavirus en pneumokokkus-konjugaat – algemene oorsake van lewensgevaarlike diarree en longontsteking – inent.
“Dit was die grootste studie wat ons nog gedoen het, waarby ons 40 000 kinders in Soweto betrek het,” sê hy.
“Danksy die studie het die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n aanbeveling gedoen dat alle lande die entstowwe gebruik.
“En met net daardie twee entstowwe sterf daar elke jaar sowat 500 000 minder kinders.”
Hoewel hy wens covid-19 het nooit kop uitgesteek nie, erken Shabir dit is vir hom opwindend om ’n kans te hê om ’n verskil te maak en lewens te red.
Zodwa Makhuvele (’n skuilnaam) deel dié gevoel; daarom het sy ook besluit om aan die proef deel te neem.
“Ek het my ouers verloor toe ek jonk was en het nie sibbes nie,” sê die 22-jarige B.Sc.-student van Soweto.
“As ek hierdie ding opdoen en sterf, sal dit wees asof my familie nooit bestaan het nie.”
Sy neem aan die proefneming deel, want sy wil “’n ware bydrae tot die samelewing lewer”.
“My pa was ’n onderwyser en my ma ’n verpleegster,” verduidelik Zodwa. “Sy wou altyd hê ek moes ’n dokter word – ’n droom wat ek ook vir myself het.
“Om daardie rede is dit ook vir my ’n geleentheid om sake van die ander kant af te beskou sodat ek eendag wanneer ek ’n dokter is ’n getuienis sal hê van hoe ek op ’n positiewe manier tot die wetenskap kon bydra.” ■