Diereparkwerkers praat oor inperking
Werkers by diereparke laat geen steen onaangeroer om te verseker die diere kry steeds die sorg wat hulle verdien nie
roete wil volg in ’n enorme koepel wat oor 2 ha gespan is.
Tot dusver kon Saasa nog hul meer as 100 personeellede se volle salaris betaal.
“Ons het noodgeld tot ons beskikking gehad om ons tot nou te dra, maar van Julie af sal almal ’n salarisbesnoeiing aanvaar om te verseker daar is altyd geld om die diere te versorg,” sê Lara. “Ons aanvaar dit met graagte, want ons eerste prioriteit is die welstand van die diere.”
TERWYL mens en dier wag dat die coronavirus wyk en die lewe weer sy normale gang gaan, word flink planne beraam om kop bo water – en dieremae vol – te hou. Genevieve Chisholm van Flag Animal Farm buite Durban stuur byvoorbeeld ’n selfoonvideo waarin sy kinders met hul verjaardag gelukwens terwyl sy by dié se gunstelingdier sit of staan. In ruil daarvoor vra sy ’n donasie aan die plaas waar sy en haar ouers, Julian en Odile FosterGreenwood, 1 300 diere versorg.
“Dit is die grootste dierereddingsentrum in KwaZulu-Natal,” vertel Genevieve. Die meeste van die diere het daar ’n heenkome gevind toe hul eienaars nie meer vir hulle kon sorg nie.
Om ’n inkomste op te lewer, het hulle die plaas aan die publiek oopgestel. Maar nadat die hekke aan die begin van die inperking moes sluit, het die geld opgedroog. Die klein familieonderneming kon nie meer bekostig om hul 26 werkers se salarisse te betaal nie en hulle moes noodgedwonge onbetaalde verlof neem.
Die plaas het aan die einde van Junie vir ’n beperkte aantal besoekers heropen en van die werkers sal nou stelselmatig begin terugkeer.
REGS: Talitha Noble volhou met die rehabilitasie van seeskilpadjies. HEEL REGS: Mmameli Mpukumpa maak seker die diere kry hul kos.
Die afgelope drie maande moes Genevieve en haar ouers self die diere soos voëls, hoenders, hase en konyne se hokke skoonmaak. Sy moes hooibale aandra na die kampies toe en waterkrippe skoonmaak. “Ek dink ek het al 20 kg se spiermassa aangesit,” spot sy. Hulle moes ook self die magdom diere voer. En sonder die inkomste uit besoekers was dit moeilik om vir al die diere kos te koop, erken sy.
“Dis die gemeenskap wat ons dra. Hulle maak kosskenkings of gee donasies. Die belangrikste is dat al die diere versorg is en dat hulle kos het.
“Wat ons die meeste geroer het, is wanneer ’n motor of bakkie by die hek stilhou wat kos en voer aflaai. Of ’n telefoonoproep van iemand wat sê hulle het voer; ons moet dit net kom haal. Dis almal mense wat dieselfde passie as ons vir diereredding het.”
BY GROTER dieretuine soos dié in Pretoria en Johannesburg en by akwariums wat deur staatsdepartemente of groter instansies ondersteun word, gaan dinge ’n bietjie makliker as by diereparke in privaat besit. Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad word deur die V&A Waterfront besit en kan op hul steun staatmaak as hul geld sou opdroog. Gewoonlik word hul daaglikse lopende uitgawes van sowat R160 000 grotendeels gedek deur die toegangsgeld uit die sakke van die sowat 500 000 jaarlikse besoekers.
Terwyl die ingangshek steeds gesluit is, kan die publiek kaartjies op hul webtuiste koop wat tot 90 dae ná die heropening geldig sal wees, sê hul kommunikasiebeampte, Renée Leeuwner.
Ook die uShaka Marine World-kompleks
in Durban het besluit as besoekers nie meer na die akwarium kan kom nie, neem hulle die akwarium digitaal na hul huise toe. Dit word gedoen deur aanlyn video’s wat wys hoe versorgers na die diere omsien, asook opvoedkundige aanlyn programme. Voor die pandemie het die akwarium maandeliks sowat 50 000 besoekers gelok.
Hulle het ’n “ingewikkelde finansieringsmodel wat nie regstreeks aan kaartjieverkope gekoppel is nie”, sê Ann Kunz, hul woordvoerder.
Die Bayworldkompleks in Port Elizabeth, wat onder meer met ’n oseanarium en ’n slangpark spog, behoort aan die Oos-Kaapse provinsiale regering. Tot dusver kon hulle steeds hul 60 personeellede se salarisse betaal. Maar van Julie af sal dit ter wille van besparing besnoei word, sê Greg Hofmeyr, ’n kurator.
Al is die kompleks nou vir die publiek gesluit, woel en werskaf dit steeds agter die skerms, vertel hy. “Daar is ’n magdom navorsers en wetenskaplikes wat hard werk om die voortbestaan van die diere en seelewe te verseker. Gedurende die inperking gaan hierdie mense voort met hul werk, maar nou net van hul huise af.
“Noodsaaklike werkers wat na die diere se welstand omsien, doen alles soos gewoonlik. Die diere ly nie honger nie en daar is nie ’n gebrek aan kos nie.”
Al is daar nie meer besoekers nie, verkeer die Nasionale Dieretuin in Pretoria nie in ’n finansiële verknorsing nie, sê Angeliné Schwan, ’n woordvoerder. Dié dieretuin, die grootste in Suid-Afrika, behoort aan die regeringsorganisasie The South African National Biodiversity Institute, en die nasionale departement van omgewingsake dra tot hul uitgawes by.
Ook by die dieretuin in Johannesburg verloop sake soos gewoonlik . Omdat die dieretuin aan die Stad Johannesburg behoort, kan hulle die diere sonder probleme voed, al moet hulle nou sonder die inkomste uit toegangsgeld klaarkom.
“Ons kry ons vars vrugte en groente vanaf die mark, terwyl krieke en muise op ons plaas naby Parys geteel word,” vertel Ian du Plessis, ’n kurator. “Die personeel is opgedeel in twee spanne wat in skofte gewerk het. Hulle is ook onderhewig aan die voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls.”
Want al kan mense dit dalk nie in groepe by diereparke waag terwyl die covid-19-pandemie voortwoed nie, bly die leeus brul en die voëls roep, en ook hierdie honger mae moet steeds gevoed word. ■