Eusebius se tyd vir ’n nuwe verhoog
Die uitgesproke Eusebius McKaiser vertel hoekom hy die radiostasie 702 ná 10 jaar verlaat het
VIR dié wat hom bewonder, is hy slim, vol skerp insigte, die ene integriteit. Vir dié wat hom nie kan verdra nie, is hy eiewys en arrogant. Maar hom ignoreer, dít doen jy bitter moeilik – maak nie saak tot watter kamp jy behoort nie. Want Eusebius McKaiser (41) skram nie weg van omstredenheid nie. Inteendeel, hy gryp dit met albei hande vas en steek sy kop graag in enige bynes in.
Dis dié dat daar nou gejuig én getreur word oor die feit dat die radio-kapokhaan van 702 se Talk at 9 ná ’n dekade nie meer oor die lug gehoor sal word nie.
En natuurlik word ook gegis oor waarom hy vertrek. Volgens sommige mediaberigte is daar personeelverminderings by die radiostasie en sou Eusebius 30%
Ná matriek het Eusebius filosofie aan die Rhodes-universiteit studeer en ’n beurs verwerf om aan die Oxford-universiteit in Engeland te studeer. van sy salaris moes tot siens wuif as hy wou aanbly.
Snert, sê Eusebius. Sy jare by 702 was gelukkig en vervullend, maar dit is nou tyd vir iets nuuts. “Die plan was altyd om te bedank terwyl die program goed vaar eerder as wanneer die luistergetalle kwyn,” verduidelik hy.
Baie dinge in die mediaomgewing prikkel hom: televisie, skryf, vervaardiging en dokumentêre werk. “Een nadeel van nuuskierig wees is dat jy die een of ander tyd jouself afvra: Bly ek op een verhoog en sterf op daardie verhoog? Tog voel ek skuldig, want baie van my luisteraars wens ek bly of hoop ek sal by ’n ander stasie opduik.”
Maar hy het sy besluit geneem om vir oulaas sy luisteraars te groet. Op soek na ’n nuwe seepkis, ’n nuwe arena waar hy die kwessies en konflikte van ons ingewikkelde samelewing kaalvuis kan pak.
AS JONG skoolkind is dié ervare omroeper en gespreksleier geboelie en gespot omdat sy aksent “anders” was, sê hy. Eusebius is op Grahamstad gebore, in ’n Afrikaanssprekende huis grootgemaak en het ’n Afrikaansmediumlaerskool bygewoon. En toe word hy aan Graeme-kollege, ’n Engelse
model C-hoërskool, ingeskryf.
Hy het mondelingtoetse in die klaskamer gevrees.
“Ek sal nooit vergeet nie – ’n groep seuns het my gevra in watter laerskool ek was. Ek het die naam genoem, en omdat ek mededingend is ook genoem dat ek daar eerste in my klas was. Een seun, Daniel, het my toe gespot omdat ek gedink het dit beteken iets om in ’n bruin skool eerste te wees. Almal het my uitgelag,” het Eusebius al in Mail & Guardian geskryf.
“Maar kort voor lank was ek konsekwent een van die twee topleerlinge in my jaar. Ek het my A-punt vir Engels geniet as ’n ‘f** jou!’ aan eentalige Engelse seuns.”
En net om dit te beklemtoon, het hy by die skool se redenaarsklub aangesluit – en toe verskeie kompetisies gewen, onder meer die Suid-Afrikaanse nasionale skoledebatkompetisie.
Hy was een van die Oos-Kaap se toppresteerders in sy matriekjaar en het daarna filosofie aan die Rhodes-universiteit studeer. Maar hy het terselfdertyd op sy seepkis gebly en onder meer die Wêrelduniversiteite-debatskompetisie gewen.
Filosofie was destyds sy groot liefde, vertel hy. “Dit was ’n vreemde keuse vir
’n werkersklaskind, want as jy nie uit ’n ryk gesin kom nie, kies jy altyd vakke wat tot werk eerder as suiwer vreugde lei,” sê hy filosofies.
“Maar ek het filosofie gekies en dit geniet. Ek was gelukkig om ouers te hê wat net bly was hul kind maak skool klaar en verwerf universiteitsgrade.”
Eusebius was ’n briljante student en het in die vroeë 2000’s ’n Rhodes-beurs na die Oxford-universiteit in Brittanje ontvang. Hy het na Grahamstad teruggekeer om sy meestersgraad in filosofie te doen en toe ’n ruk lank by ’n bestuursagentskap in Johannesburg gewerk voor hy radio aangedurf het.
Volgens hom was die base by 702 eers huiwerig om hom aan te stel, want hulle was bekommerd hy was te akademies vir die breë spektrum van die stasie se luisteraars. Hulle het hom getoets in Politics and Morality, ’n laataandgleuf op Sondae, en hy het “stelselmatig ’n reputasie gekry as iemand wat reguit praat”.
Hy is toe na die oggendprogram Talk at 9 verskuif. Daar het sy gewilligheid om ongemaklike kwessies reguit te takel en sy onbeskaamde strydlustigheid hom soms die koerante laat haal. Die Uitsaaiklagtekommissie het hom meer as een keer oor die vingers getik.
In 2017 het die kommissie gesê hy het
’n “vyandige omgewing” geskep en “onverdraagsaamheid getoon” tydens ’n vurige heen-en-weer-gesprek met David Stewart, voorsitter van die FW de Klerk-stigting.
En in November 2018 het hy weer die nuus gehaal ná ’n onderhoud met Momentum se uitvoerende hoof, Hillie Meyer, oor die niebetaling van ’n versekeringseis aan die gesin van ’n man wat in ’n kaping doodgeskiet is.
“Dit lyk vir my dit is bitter sleg hanteer,” het Eusebius vir haar gesê. “Sou jy saamstem julle kon dit beter hanteer het, al het julle die wet aan julle kant gehad?”
Maar dit het die verlangde uitwerking gehad. Momentum het later ingestem om die eis te betaal.
SY loopbaan was Eusebius deurgaans openlik oor sy seksualiteit.
“Ek’s taamlik uitgesproke oor wat ek dink en glo,” sê hy. “Ek is openlik gay en baie liberaal in ’n land wat moreel konserwatief is.”
Terwyl ons gesels maak sy lewensmaat, Nduduzo, ’n dokter, op die agtergrond kos.
“Nduduzo was altyd een van my luisteraars,” vertel hy. “Ons het mekaar oor die radio ontmoet. Hy het altyd na my program ingebel.”
Maar dit is hoe ver hierdie gesprek vorder. Hy wil nie eens sy lewensmaat se van gee nie; dit maak hom ongemaklik om persoonlike inligting te verskaf. Terug na die toekoms.
“Ek het ’n paar aanbiedinge gekry, maar ek het nog geen besluit geneem nie,” sê hy, en voeg by “langvormjoernalistiek”, oftewel geskrewe diepteartikels, is ’n opsie.
Eusebius is ’n kranige skrywer. Sy rubrieke het al in The New York Times, The Guardian, BBC-tydskrifte en The Star verskyn. Hy het drie boeke geskryf: die blitsverkoper A Bantu in My Bathroom, die essayversameling Could I Vote DA? en Run Racist Run, ’n onbevange kyk na Suid-Afrikaanse rassisme.
Hy werk nou aan sy vierde boek, Searching for Sello Duiker, wat hy voor Kersfees wil afhandel.
Terselfdertyd wil hy die volgende twee maande uit die fel kollig van die sosiale media bly. Hy wil baie lees en soos die meeste van ons die ekstra gewig van die inperkingstyd afskud.
“Ek moet asemhaal, uitasem ná al die daaglikse gepraat, wat emosioneel uitputtend is. Die emosionele prys is baie hoog. Ek dink nie ek hanteer dit goed genoeg nie, en dis hoekom ek ’n blaaskans moet vat. Ek is gelukkig ek kan ’n sielkundige bekostig.”
Eusebius is maar alte bewus van sy reputasie as kwaadstoker. “Party mense verpes my van nature; ander is hartseer ek gaan weg.
“En party mense is ingenome daarmee dat ek weggaan omdat dit beteken hulle gaan minstens ’n ruk lank glad nie uitgedaag word nie!” ■