Die prokureur agter die Transnet-sege
Die prokureur wat Transnet-pensioentrekkers ná nege jaar na ’n sege in die hof gelei het, vertel van die swaar pad
kon bekostig nie, het die man sy vrou in ’n rolstoel in ’n dam ingestoot. Daarna het hy ál dieper ingestap tot ook hy verdrink het.
In 2011 het ’n handvol van die verarmde pensioentrekkers by Wynanda kom aanklop.
Sy en die advokate met wie sy saamgewerk het, “is so deur dié swaarkry getref dat ons die saak op ’n gebeurlikheidsfooigrondslag aanvaar het”. Hulle sou dus eers vergoed word as daar ’n voordelige uitslag vir die pensioentrekkers was.
Sy sou nooit kon dink dat sy en die pensioentrekkers nege jaar lank daarvoor sou moes wag nie. Maar dié blye dag het verlede maand vir die sowat 52 000 oorlewendes van die aanvanklike sowat 65 000 eisers aangebreek met regter Sulet Potterill se beslissing in die hooggeregshof in Pretoria.
Sy het besware teen ’n skikking vroeër tussen die pensioentrekkers aan die een kant en Transnet en sy twee pensioenfondse aan die ander kant verwerp en die skikking bekragtig.
Oor die intimiderende taak om die vervoerreus aan te durf sê Wynanda: “Te veel mense kyk weg en hou verby wanneer dinge nie maklik of glamorous is nie. Ons kon dit nie ook ignoreer nie.”
MENSE meen haar naam is ’n verbuiging van haar oorlede prokureur-pa, Alwyn Geyser, se naam, “maar ek is al die vyfde geslag Wynandas”, vertel dié Gautenger wat op Ermelo gebore en op Carolina, Mpumalanga, gematrikuleer het.
Sy het eers medies as studierigting oorweeg, maar het haar pa se wêreld as landdros en later prokureur net te interessant begin vind. Pa en dogter het in 1994 saam met die firma Geyser & Coetzee Prokureurs begin, wat steeds albei se name dra. Wynanda, ’n ma van twee en ouma van drie, is met ’n advokaat, Fanus Coetzee, getroud.
“My vuurdoop was as staatsaanklaer in die landdroshof in Johannesburg, waar ek wonderlike leermeesters gehad het,” vertel sy oor die begin van haar loopbaan nadat sy haar regsgraad deur Unisa behaal het.
Een van haar opspraakwekkendste sake was toe sy ’n lid van die voormalige polisiekommissaris Jackie Selebi se regspan in die omkopery-strafsaak teen hom was. “Dit het my geleer jy ken nie regtig iemand voor jy ’n myl in hul skoene geloop het nie.”