Huisgenoot

Nadia Beukes oor haar swangerska­p in afsonderin­g

Nadia Beukes vertel van die afwagting op haar tweede seuntjie wat haar gedra het in haar moeilike swangerska­p in covid-19-afsonderin­g

- Deur JANA VAN DER MERWE

DWARSDEUR haar swangerska­p het ’n liriek in haar gedagtes weerklink: Die wêreld binne my is in afwagting oor jou . . . Toe die hele wêreld deur die coronaviru­s deurmekaar­gekrap is, het Nadia Beukes (37) vasgehou aan dié woorde uit ’n liedjie van Joshua na die Reën. Toe sy maande lank tydens die inperking in afsonderin­g moes wees – sonder die ontvlugtin­g van ’n kuier saam met haar ma, koffie saam met ’n vriendin of ’n stappie om die blok – het dié afwagting oor haar tweede seuntjie die blonde aktrise en televisiea­anbieder gedra.

En nou is hy hier: Joshua Samuel de Villiers is op 18 Junie midde-in die coronaviru­skrisis gebore. Hy het ’n stewige 3,84 kg geweeg en spog met ’n welige bos donker hare wat sy ma onkant betrap het.

“Davey het geen hare gehad nie, so dit was beslis onverwags om nou hierdie baba met donker hare te hê!” sê sy laggend oor haar en die sakeman David de Villiers (35) se eersteling, die woelige blondekopk­napie Davey, ná die geboorte van sy kleinboet. Davey word in Augustus twee jaar oud.

Weens die pandemiema­atreëls kon Nadia en David nie juis haar swangerska­p met familie en vriende deel nie. Daarom is dit vir hulle heerlik om hul vreugde nou met Huisgenoot te kan deel – saam met hul eerste foto’s as ’n gesin van vier.

Toe ons enkele dae voor die fotosessie tydens ’n video-oproep met Nadia gesels, hou Davey hom rustig eenkant besig terwyl sy verduideli­k hoe anders hierdie swangerska­p as haar eerste was.

“Ek onthou ons was so goed voorbereid op Davey se koms, met die voorgeboor­teen eerstehulp­klasse. Ons kon ’n maternity shoot doen, ons het ’n groot babatee gehad, en ek kon na al die mamma-ekspo’s toe gaan, inkopies doen en saam met vriende gaan koffie drink en gesels. Dié keer kon ek egter niks daarvan doen nie.”

Haar groen oë skiet vol trane. “Ek sou graag wou sê my swangerska­p was als maanskyn en rose, maar ek sal eerder wil hê ander ma’s moet weet: Dit was vir my ook rof. My hart gaan so uit na ouers wat hul eerste baba in dié tyd moes kry, want ek hét dit al ervaar, en steeds was dit so

moeilik om alleen daardeur te moes gaan.”

Maar terselfder­tyd wil sy ander ma’s moed inpraat – noudat klein Joshua hier is, volmaak en pragtig. “Ek wil vir ander ma’s sê: Ons sál hierdeur kom; ons vat dit dag vir dag. Haal net asem. En as jy net een voet voor die ander kan sit, besef jy ook hoe ’n groot voorreg dit is . . .”

HIER waar hy op ’n koue winterdag op die Hoëveld knus langs sy ma lê en slaap, is die baba van twee weke salig onbewus van die chaos wat die wêreldwye covid19-pandemie saai. “Ag, hy is so ’n maklike baba. Ek weet nie of hy so maklik is en of ons net gemakliker is nie!” sê sy ma opgewonde.

Maar sy erken sy het ’n uitdagende klompie maande agter die rug sedert die inperking in Maart afgekondig is en sy nes ander Suid-Afrikaners by hul huis in Pretoria afgesonder was.

“Die ergste vir my was om nie met mense te kon connect nie,” sê Nadia. “Ek het gewoonlik nie ’n probleem daarmee om alleen te wees nie, maar ek was baie geïsoleer en ek kon daai tyd nie met ander mense deel nie.”

Dit was ’n bedrywige tyd. “David moes voltyds werk, naweke moes die huis skoongemaa­k word, en toe ons ons oë uitvee, het ons besef: Oor ’n week het ons ’n baba. Ek het heeltyd gedink ek moet seker die babakamer begin regkry en nog al die goedjies koop sodra die lockdown verby is, maar toe hou die lockdown net nie op nie. En ek besef: As ons dit nie nou doen nie, gaan ons nie gereed wees nie!” Met Joshua se koms en die verslapte maatreëls kon hul huishoudst­er, Angelina Moloto (57), weer begin werk. Nadat hulle besluit het om Davey vir veiligheid te midde van covid-19 vir eers nie dié jaar skool toe te stuur nie, het hulle toe ook die onderwysst­udent Annemie Prinsloo (22) as au pair aangestel om in die middae hand by te sit. Voor Joshua se geboorte het die egpaar ter wille van almal se veiligheid geen hulp tuis gehad nie en het hulle vir eers alles self aangepak.

“Hulle het my twee dae voor die keisersnee vir covid getoets, en ek het geweet as ek positief sou toets, sou daar probleme wees.” Maar haar toets was negatief en David kon gelukkig by wees vir die bevalling in die Mediclinic Kloof.

Ondanks die pandemie en die andersheid van hierdie situasie het sy tydens die bevalling geen vrees gehad nie, sê Nadia. “Hulle gaan uit hul pad om seker te maak die pasiënte bly gesond. En dit was so ongeloofli­k dat hierdie klein wonderwerk­ie ten spyte van al die chaos om my gebeur het . . .”

David kon net vir die bevalling tot die eerste aand se besoektyd by wees, terwyl Nadia drie aande in die hospitaal deurgebrin­g het om te herstel. Gelukkig kon haar ma, Eureke (65), ’n permit kry om van Bela-Bela af te kom en hand by te sit die week voor en ná die bevalling. Nadia se pa, die operasange­r Rouel Beukes, is tans in Suid-Korea as deel van die Phantom of the Opera-toergesels­kap.

Hulle het Joshua al in ’n video-oproep aan Rouel en aan Nadia se broer, De Villiers (34), en sy gesin voorgestel. Hy en sy gesin het onlangs na Australië verhuis.

“Die hele hospitaale­rvaring was baie emosioneel. Ek was nog nooit meer as een aand weg van Davey af nie, en hier verdwyn ek vir drie dae en kom terug met ’n baba. So hy was nie daar om die baba te ontmoet en vir my om te verduideli­k die baba het uit my maag gekom nie. Maar hy het dit baie goed hanteer,” sê sy dankbaar oor haar oudste.

“Hy is liefies met Joshua, maar gaan ook dan weer aan en doen sy ding. Hy hou daarvan om stokkies op te tel en saadjies in die tuin te soek. Hy hou baie daarvan om buite te wees.”

Die inperking het beteken sy het baie swaar op David gesteun, sê sy oor haar man met wie sy byna vier jaar getroud is. “Die doktersbes­oeke was die enigste kere dat ek die huis verlaat het – hy moes omtrént inspring!”

Sy het vooraf beplan om weer soos tydens haar eerste swangerska­p heelwat lekker dinge tydens haar kraamverlo­f te doen, vertel die Getroud met rugby-ster. “Juis omdat jy nie altyd lekker voel nie – jy sit gewig aan, jy het sooibrand, jy moet 400 keer per nag ’n draai loop, jy pas nie meer in jou klere nie . . . En toe kon ek dié keer aanvanklik nie eens vinnig om die blok gaan stap net om my kop skoon te kry nie – en ek het omtrent meer gewig aangesit met Joshua as met Davey.” Boonop kon sy haarself nie bederf deur byvoorbeel­d salon toe te gaan nie. “Voor Davey se koms het ek baie moeite gedoen om dinge te doen wat ’n mens goed laat voel, soos my hare en my naels, wat ek nie nou kon doen nie.” Maar deur dit alles was David daar. “Eendag kom David met ’n sak klere van Woolworths hier aan. Hy het vir die assistent gevra: ‘Ek soek klere wat kan rek en oor my vrou se boude kan pas!’ ” Sy lag uit haar maag. “Dave het regtig baie mooi klere gekoop – ek was baie beïndruk! Toe het ek darem in die laaste maand warm klere!”

Hy en ’n paar van Nadia se vriendinne het boonop met haar ginekoloog, dr. Jacquie Grassie, en dié se ontvangsda­me, Katinka Visagie, gekonkel om vir Nadia ’n verbyrybab­atee te reël.

“Dr. Grassie het soos ’n vriendin geword. Ek kan nie sê watter steunpilaa­r sy vir my was nie. Sy en Katinka was die enigste persone met wie ek regtig gedurende die swangerska­p kon connect. David kon weens die streng reëls ná 12 weke nie eens by die hospitaal inkom met die skandering­s nie . . .”

Sy pink ’n traan weg en kyk dan liefdevol in haar jongste se rigting.

“Maar kyk, hier is Joshua nou en hy is gesond. Almal is gesond.”

Al werk David nog dwarsdeur volstoom, help hy waar hy kan.

“Deur die swangerska­p tot Joshua gekom het, het hy nog nie ’n oomblik af gehad nie, juis om hierdie lewe te kan bied dat ons vir Angie en Miemie kan hê om in die huis te help,” sê Nadia met verwysing na Angelina en Annemie.

‘Ek bid sommer nou al dat hulle goeie lewensmaat­s sal kry! ’

En hy is ’n raakvatpa, sê Nadia trots. “David ruil saam doeke; hy sien snags na Davey om wanneer hy in die middernagt­elike ure oorstap na ons kamer en ek Joshua moet voed. Die meeste oggende trek hy Davey aan voor hy gaan werk, en hy het selfs vir hom winterkler­e gaan koop!”

Met Moedersdag het hy vir haar blomme laat aflewer van Joshua en Davey af, vertel Nadia.

Hy doen maar net sy bes, sê David toe ons later ná sy werkdag telefonies gesels. “Ek sou lankal inperkings­koors gekry het as ek Nadia was! Soms het dit gevoel soos ’n movie wanneer ek moet terugrappo­rteer wat ek als die dag daar buite gesien het, die maskers en social distancing in die lang tou buite Woolies. Sy ken dit nie.”

Oor sy hulp met die doeke lag hy net. “Een van my pelle vertel met albei sy kinders het hy skaars vier doeke geruil. Ek sê vir hom: Tjom, hier het ek al voor agtuur vier doeke geruil!”

Die gesin het al ’n lekker ritme en roetine gevind, vertel David.

“Saans bad ek eers vir Joshie terwyl Nadia met Davey speel. Dan vat sy Joshua vir sy voeding, en ek bad vir Davey, en terwyl ek hom aan die slaap maak, sit sy solank die oond aan. Dan maak ek kos. Ons eet seker eers teen agtuur wanneer die masjien tot stilstand kom.”

Dit gaan maar party dae moeiliker as ander, erken Nadia met ’n glimlag. “Ek dink vir enige ouer is daar dae dat dit nie maklik gaan nie!

“Jy as ouer staan altyd laaste in die tou. Ek is die laaste een wat stort in die oggend, wat eet en aantrek. En in dié stadium is dit ’n groot prestasie as ek wel gestort kry!”

HULLE wou nie te lank wag voor Joshua se koms nie, vertel Nadia, veral omdat sy in Augustus 38 word. “Ek het gedink ek is nou in die seisoen van my lewe. Davey is ook al op ’n ouderdom waarop hy ’n bietjie meer selfstandi­g kan funksionee­r. Die speelkamer is reeds deurmekaar . . . Nou gaan dit net vir langer so wees!”

En toe sy hoor sy kry nog ’n seuntjie, was sy baie opgewonde. “Ek bid sommer nou al dat hulle goeie lewensmaat­s sal kry! Ek het groot respek vir mans wat ridderlike gentlemen is – ek hou van daai outydse sjarme en goeie maniere

– en ek voel om die ma van twee seuns te wees gee my die geleenthei­d om daai waardes in hulle wakker te maak. En ek hoop hul lewensmaat­s sal dit eendag waardeer!”

Sy lyk ernstig. “Met al die slegte dinge wat in die wêreld aangaan, sal dit vir my lekker wees om goeie mans groot te maak met goeie waardes wat weet waar hul krag vandaan kom.”

Op sy beurt sien David ook daarna uit om seuns groot te maak. “Ons is nou amper ’n vierbal!” sê hy met verwysing na die gholfterm vir ’n groep van vier wat saamspeel.

“Ek is ’n baie aktiewe mens. Ek sien baie daarna uit om eendag saam met hulle gholf te speel en te gaan skubaduik en bergfiets te ry. Ek en my suster was ook baie na aan mekaar, en ek glo hulle twee gaan ook groot pelle wees.”

Wanneer ’n mens haar vra of hulle later nog ’n kind wil hê, lag Nadia. “As dit van David afhang, het ons sommer vyf kinders. Hy sal net ’n groter kar koop en nog karstoeltj­ies inlaai! Maar ek het net twee hande . . . Tot my twee hande nie meer vol is nie, is daai nie ’n gesprek wat ek nou gaan hê nie. Want ja, dis wonderlik, maar dis ook ’n aanpassing. En dis rof !”

Daarom dink sy nie nou verder vooruit nie. Sy kyk weer teer na die seuntjie wat langs haar lê, wie se eerste naam “God is my verlossing” beteken. Hy deel sy tweede naam met sy oupa Rouel.

“Vir my is dit so wonderlik om te dink ons Joshua is geroep vir ’n tyd soos hierdie. Joshua en Samuel was albei leiersfigu­re in die Bybel. Ek weet nie wat die impak van hierdie virus op ons toekoms gaan wees nie, maar ek glo hy het alles reeds binne-in hom wat hy nodig het om die onbekende aan te pak.” ■

 ??  ??
 ?? Foto’s: NICOLENE MEYER PHOTOGRAPH­Y ?? Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, het onlangs hul tweede seuntjie, Joshua, in die wêreld verwelkom.
Foto’s: NICOLENE MEYER PHOTOGRAPH­Y Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, het onlangs hul tweede seuntjie, Joshua, in die wêreld verwelkom.
 ??  ?? BO: Nadia gee baba Joshua ’n piksoentji­e met hul eerste fotosessie by hul huis in Pretoria. HEEL BO: Soveel liefde vir die kosbare bondeltjie – klein Joshua gemaklik in pa David se arms.
BO: Nadia gee baba Joshua ’n piksoentji­e met hul eerste fotosessie by hul huis in Pretoria. HEEL BO: Soveel liefde vir die kosbare bondeltjie – klein Joshua gemaklik in pa David se arms.
 ??  ??
 ??  ?? REGS: Nadia en klein Joshua deel ’n teer oomblik. Die twee is reeds deur baie saam te midde van die coronaviru­skrisis. ONDER: David en ouboet Davey lag vir die kamera. Nadia sê David is ’n pa duisend.
REGS: Nadia en klein Joshua deel ’n teer oomblik. Die twee is reeds deur baie saam te midde van die coronaviru­skrisis. ONDER: David en ouboet Davey lag vir die kamera. Nadia sê David is ’n pa duisend.
 ??  ?? LINKS: Klein Joshua se babakamer in skakerings van wit en groen was net betyds gereed vir sy koms op 18 Junie. ONDER: Dis vir Nadia heerlik om ’n seuntjiema­mma vir Davey en kleinboet Joshua te wees. Sy droom reeds daarvan dat hulle twee gentlemen sal wees en wil hulle grootmaak as mans met goeie waardes wat weet waar hul krag vandaan kom.
LINKS: Klein Joshua se babakamer in skakerings van wit en groen was net betyds gereed vir sy koms op 18 Junie. ONDER: Dis vir Nadia heerlik om ’n seuntjiema­mma vir Davey en kleinboet Joshua te wees. Sy droom reeds daarvan dat hulle twee gentlemen sal wees en wil hulle grootmaak as mans met goeie waardes wat weet waar hul krag vandaan kom.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa