Boeke vir kinders wat al self lees
Boeke vir kinders wat al self lees
VERMAAK | OP JOU BEDKASSIE
KEEGAN & SAMIER: DIE SLEUTELSPEURDERS en KEEGAN & SAMIER: DIE SOKKERFIASKO
Stories en illustrasies deur ANDRÉ TRANTRAAL (LAPA Uitgewers, R78*)
“Elke storie wat ons oor ’n bruin kind maak, is so belangrik. In ons land ken ons mekaar nie; ons ken nie mekaar se stories en realiteite nie.”
André Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler en die skepper van onder meer die strokiesprentboeke Coloureds en Stormkaap. Hy gesels oor die eerste twee boeke in die Keegan & Samierreeks. (As die coronavirus dit nie keer nie, kom daar volgende jaar nog twee.)
“LAPA het my genader oor ’n reeks vir kinders wat in ’n bruin gemeenskap afspeel. Ek wou hê dat dit nie net generiese stories moet wees en dan is die hoofkarakter toevallig ’n bruin kind nie. Dit moes stories wees wat vir enige leser ’n prentjie skep van die alledaagse lewe in die gemeenskappe wat ons nooit in Suid-Afrikaanse kinderboeke sien nie.
“Die illustrasies vul die teks aan. Die kinders gaan speel in die parkie, maar in die illustrasie sien ons dat die glyplank geroes is en graffiti ophet. Dit is vir my belangrik dat ’n bruin kind wat die storie lees hom- of haarself in die boek herken, maar net so belangrik dat enige kind die storie kan lees,” sê André.
“Deur boeke leer ons mekaar se wêrelde ken en dan is ons minder vreemd vir mekaar. Ons almal gaan skool toe, ons almal het ’n vriend, en as ons gelukkig is, ’n ouma soos ouma Mienie wat omgee.”
Dis opvallend dat sy karakters nie almal dieselfde skakering is nie.
“Ten spyte van wat die TV jou vertel, lyk en is bruin mense nie almal dieselfde nie. Dit was vir my belangrik dat die karakters daardie verskeidenheid moes weerspieël. Keegan is donkerder van kleur as byvoorbeeld Samier. Brent, die boelie, is weer ligter, maar al die karakters in die boeke is bruin mense. Net so sien ons ook dat Samier en Samia uit ’n Moslemhuis kom.”
André vertel van die huis waaruit hy kom.
“Ek was nog altyd ’n Kapenaar, grootgeword in Mitchells Plain en Bishop Lavis, en woon nou al ’n paar jaar in Observatory.
“Ek het ’n ma duisend. Sy het enigiets moontlik gedoen sodat ons die kinders kon wees wat ons wou. Ons is ses kinders, so dit was swaar.
“Saam met my broer Nathan het ek vir ’n lang tyd verskeie strokiesprente in koerante gedoen, onder meer Ruthie in Rapport en
Richenbaums in die Argus. Die idees het aanhou vloei, en so het ek begin boeke skryf en teken.”
Hy het in Maart tydens die Woordfees op Stellenbosch die eerste keer voor groot groepe kinders oor die boeke gesels, en hy sê daar was groot opgewondenheid. Vir hom was daar ook ’n ander rede tot plesier: “Dit was vir my ’n ongelooflike oomblik toe ek die boeke in die hande van my ou bibliotekaris van Valhalla Park sien. Die Valhalla Park-biblioteek is amper soos my alma mater, want ek het meer geleer in daardie biblioteek as op skool.”
Binnekort is hy op pad na Graaff-Reinet, want hy is gekies as een van die ses skrywers wat vanjaar die maand lange skrywersverblyfprogram van die Jakes Gerwel-stigting daar gaan bywoon.
“Ek werk op die oomblik aan ’n grafiese roman en my tyd daar gaan ek gebruik om my teks te voltooi.
“Die boek is nie noodwendig vir kinders nie, maar daar is ’n klein deel van die storie wat ek en my inwonende medeboekliefhebber in ’n kinderboek gaan verander.
“Toe sy die eerste keer die teks lees, sê sy daardie klein brokkie is ’n perfekte kinderstorie. Ons beplan om dit teen volgende jaar klaar te hê.
“Ek en my medeboekliefhebber het nie kinders nie. Soms dink ek daar is te veel boeke in ons huis om nog ’n kind ook in te pas!”