Die hoop beskaam nie, meen 69-jarige ná uitdiensstelling te midde van covid-19
DAAR sit ek toe: knus op my troontjie, gemaklik, in my skik, tevrede, gelukkig en dankbaar dat ek nog ’n werkie het. Een waarvoor ek lief is en wat ek geniet.
My jare lange ervaring as ’n persoonlike assistent, konsultant, onderhoudvoerder vir ’n werwingsagentskap en administrateur stel my immers in staat om op my ouderdom steeds ’n positiewe bydrae te lewer. Soms het ek gedink dis te goed om waar te wees, ’n volle vier jaar lank ná die aftreeouderdom van 65.
En toe, eensklaps, bars my borrel. Want covid-19 het gekom. Maatskappye bevind hulle in moeilike tye. Hulle moet salarisse verminder en werknemers aflê, en, ai, my ouderdom: Ek is al 69 jaar oud! Die uiteinde van dié bitter pad kom blitsig: Ons moet jou ongelukkig retrench.
Dis tragies dat die wanopvatting bestaan dat iemand van my ouderdom nie meer ’n bydrae kan lewer nie. Daar’s nie veel hoop vir my om ’n ou joppie te kry nie! Maar dis te vroeg vir moed opgee, en ’n plan moet gemaak word.
Stap een is om my CV op te kikker en vir al wat leef en beef te stuur. Een of twee van die werwingsagentskappe antwoord met simpatie: “Maar dis nou ’n baie slegte tyd, Mevrou . . .”
Die internet is glo ’n opsie, en ek registreer links en regs. My slim meisiekind help my, want my CV is volgens haar nog nie heeltemal reg nie. En nou is dit sommer baie professioneel, foto en al. Daar kom aanbiedinge van oor die aardbol, selfs van Indië, vir allerhande vryskut- en aanlyn posisies, en ek stuur proposals dat dit klap – en dan, stilswye.
Geen reaksie nie.
Nou skryf ek maar weer, en wag.