Huisgenoot

AMPER-EKS HOU HOM AAN LYNTJIE

- As jy ’n persoonlik­e probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.

Ek en my vrou is al meer as ’n jaar lank uitmekaar, maar nog nie geskei nie. Sy het ’n verhouding gehad. Sedert dit beëindig is, het ek al naweke by haar en my kinders deurgebrin­g. Dan was ons intiem. Ek het gedink sy gaan weer wil probeer. Sy het erken sy kan sien hoe ek vir ons huwelik baklei. Vriende het haar aan ’n man voorgestel, en hulle is nou besig om mekaar te leer ken. Sy wil steeds nie die skeipapier­e finaliseer nie. Hoe kan ek oor haar kom? Dit breek my elke keer. G op W

Om oor iemand te kom beteken om die houvas te verbreek wat hulle op jou het. Daarom moet jy ophou teruggaan na ’n vrou wat wys sy verkies ander en wat selfsugtig genoeg is om ’n agterdeur oop te hou ingeval haar nuwe liefdes nie werk nie.

Jy verdien beter en is daarop geregtig om ook vir jou kinders iets beters te bied as ’n naweekpa wat die krummels onder hul ma se tafel kom optel. Bespoedig self die skeiproses as ’n beginpunt om jou selfrespek en trots terug te kry.

Jou vervreemde vrou het met haar ontrouheid en nou haar belangstel­ling in iemand anders gewys dit is nie vir haar die moeite werd om vir jul verhouding te baklei nie. Vra jou prokureur wat die volgende stap in die skeiproses is, en maak werk daarvan.

Jy gaan net met jou eie nuwe hoofstuk kan begin as daar, hoe seer dit ook al is, ’n formele afsluiting is. Maak met jou prokureur se hulp seker dat die ouerskapsp­lan so opgestel word dat die kinders by jou kan kuier en oorslaap sodat jy nie weer in die strik trap om ’n nag onder dieselfde dak as sy deur te bring nie.

Daar is lewe ná ’n egskeiding mits jy kontak met jou eks beperk tot reëlings oor die kinders en by die voorwaarde­s van die hofbevel hou. Sorg dat haar finansiële verantwoor­delikhede teenoor die kinders ook duidelik uitgestipp­el word en dat sy nie net uit jou beursie leef nie.

Die wet verwag van albei ouers om volgens hul vermoëns tot die onderhoud by te dra.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa