Huisgenoot

Kortverhaa­l: “Moord op die berg”

‘Kort-kort kyk een van hulle om asof iets hulle agtervolg’

- Deur MARISKA McDONALD Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

DIE wolke wat oor die berg inrol, lyk onheilspel­lend. Annalien Vermeulen kan nie anders as om onrustig te voel nie. Iets is aan die broei. Boonop kry sy die gevoel iemand hou hulle dop. Sy sit buite haar tent by die eerste ruskamp op die berg Kilimandja­ro.

Sy hoor stemme. ’n Man en vrou. Hulle baklei. Sy kan nie die gesprek uitmaak nie, maar sy weet dit is Simon en Charlene. Hulle is pas getroud en op hul wittebrood. Aan die oorkant sit die studente Sandra, Jaco, Adelle en Marius voor hul tente en gesels.

Wat ’n jolige klomp mense. De Wet, die gids, is besig met die klimgereed­skap voor sy tent. Hy kyk na haar en glimlag. Hy is oulik, dink sy en glimlag terug.

Ná ete gaan almal na hul tente toe om te gaan inkruip. Dit was ’n lang dag en hulle het rus nodig vir die roete na die volgende ruskamp.

Gedurende die nag word Annalien wakker en hoor geluide buite haar tent. Sy versteen. Sy wil nie opstaan om te gaan kyk nie. Dis dalk een van die ander klimmers wat buite rondbeweeg. Met dié gedagte raak sy weer aan die slaap.

Die volgende dag se klim verloop seepglad, behalwe Simon en Charlene wat soos ’n ou getroude paartjie baklei. Kortkort kyk een van hulle om asof iets hulle agtervolg. Die studente maak grappies en gesels aanhoudend. Annalien weet nie hoe hulle dit regkry om so baie te klets en nog te klim sonder om uitasem te raak nie.

By die tweede ruskamp is sy besig om haar slaapsak netjies in die tent te sit toe De Wet skielik agter haar praat: “Ek kan sien jy is nie ’n amateur nie. Ek is beïndruk.”

Sy val amper vooroor in haar tent van skrik.

Sy bloos en sê: “Ek klim al vandat ek 16 jaar oud was.”

“Ek kan sien jy weet wat jy doen.” Hy kyk na haar asof hy in haar siel inkyk.

Annalien voel hoe die vlinders in haar maag fladder. De Wet onthou skielik die koffie wat hy vir haar gebring het.

“Skuus, ek het aangeneem koffie sal waardeer word” sê hy verleë.

Hy hou van die vrou hier voor hom, maar hy kan nie onprofessi­oneel wees nie. Sy vat die warm koppie met albei hande en glimlag dankbaar vir hom.

“Baie dankie, De Wet,” sê sy skaam. “Ek dink die klomp is honger. Sal ek jou help

met aandete?” Annalien weet nie waarom sy hom gevra het nie. Sy oë helder op en hy sê dankbaar: “Dit sal baie gaaf wees. Dankie.”

Ná ’n heerlike aandete van potjiekos gesels die groep en leer mekaar ’n bietjie beter ken. Annalien kom agter dat Charlene kort-kort oor haar skouer kyk, asof sy iets of iemand verwag. Die onrustighe­id wel weer in haar op.

Nadat almal nag gesê en na hul tente gegaan het, sukkel Annalien om aan die slaap te raak. Die onrustighe­id in haar is erger as tevore. Wat is dit wat haar so pla? Waarom het Charlene so verskrik gelyk? Eindelik sluimer sy in.

’NGIL laat Annalien wakker skrik. Sy maak haar tent oop en sien De Wet voor haar staan. Agter hom hou Jaco vir Sandra vas. Sy huil. Jaco lyk asof hy ’n spook gesien het. Adelle en Marius staan soos standbeeld­e en staar na Simon wat met sy gesig in ’n plas bloed net buite sy tent lê. Annalien voel hoe haar bene lam raak. Sy sak op haar knieë neer. Oral is bloed.

Almal staar versteen na die toneel voor hulle. De Wet kniel by Annalien en sit sy arm om haar skouers. Sy voel siek. Sy druk haar gesig teen De Wet se skouer om die trane te probeer keer.

De Wet staan traag op en praat met almal gelyk.

“Bly asseblief weg van die toneel tot die polisie opdaag. Ek gaan hulle oor die radio inroep.”

Hy kyk na Annalien, vee die trane met sy duim van haar wang af en praat verder: “Ek sal vra dat hulle ’n helikopter stuur om julle te kom haal. Is julle in staat om jul tente en bagasie op te pak en bymekaar te kry?” Die groep knik en draai na hul tente om te begin pak.

Dis Annalien wat vir De Wet vra: “Waar is Charlene?” Hulle kyk rond.

Sy is nêrens te sien nie. Annalien sien ’n bloedspoor wat in die bosse in verdwyn. Sonder om te dink begin sy dit volg. Wie ook al bloei, is erg beseer. Die bloeddrupp­els is baie na aan mekaar. Annalien begin paniekerig raak en dink: Het Charlene vir Simon vermoor en gevlug? Die twee het baie baklei die laaste paar dae.

Sy gaan staan doodstil. Sy is nie die enigste een in die bosse nie. Haar asemhaling is swaar. Sy probeer om dit te beheer. Iemand hou haar dop. Sy kan dit aanvoel. Sy kyk terug. Sy is ver van die groep af. Sy kan nie nou teruggaan nie. Sy moet sien waarheen die bloedspoor haar lei. En na wie.

Terwyl sy die spoor volg, klop haar hart ál harder. ’n Geluid laat haar skielik vries. Sy draai haar kop om beter te hoor. Daar is dit weer. Dit klink soos ’n snik. Iemand huil, maar probeer om dit te onderdruk om nie gehoor te word nie. “Charlene!” dink Annalien. Sy fluisterro­ep: “Charlene! Charlene! Dis ek, Annalien!” Sy bly stil.

Daar is dit weer, die gesnik. Annalien kan dit nou duidelik hoor en stap stadig in daardie rigting. Sy wil Charlene nie laat skrik nie.

Dit is nou te sê as dit Charlene is.

Sy roep weer saggies: “Charlene! Dis ek, Annalien!”

Annalien is so gefokus op die klanke van die gesnik dat sy oor iets struikel en plat op haar maag val.

Terwyl sy omdraai om op te staan, gil sy.

Dit is die liggaam van ’n man. Hy beweeg nie. Dit lyk of hy dood is. ’n Man wat sy nie ken nie. Wie is hy? Skielik gryp ’n hand haar aan die skouer. Met nog ’n gil draai Annalien verskrik om en kyk in Charlene vas. Haar gesig is bebloed en vuil. Die traanstrep­e bewys dat dit Charlene is wat Annalien gehoor het. Charlene gryp Annalien vas en ruk soos sy snik.

“Hy het hom doodgemaak! Hy het Simon doodgemaak!” huil sy.

Op daardie oomblik hoor Annalien bekende stemme. Dit is De Wet, Jaco en Marius, gevolg deur Adelle en Sandra.

“De Wet!” roep Annalien. “Sy is veilig. Charlene is veilig!”

Dan praat sy met Charlene en gee haar ’n stywe druk: “Ons het jou. Jy is veilig.”

Charlene huiwer by die liggaam van die onbekende man.

“Wie is die man, Charlene?” vra Annalien.

Charlene skraap moed bymekaar en begin praat.

“Dit is Dawid. Ons was verloof. Dinge het nie uitgewerk nie. Toe ontmoet ek en Simon mekaar. Hy was die liefde van my lewe, maar Dawid . . .”

Sy kyk na die liggaam en praat verder: “Dawid kon dit nooit aanvaar nie en het ons geteister. Toe ek en Simon verloof geraak het, het hy opgehou om ons te pla. Ons het gedink dit is verby. Ons het Dawid by die lughawe gesien met ons aankoms. Dit is hoekom ek en Simon so baklei het. Simon het beweer ek het nog kontak met Dawid.”

Sy begin weer huil.

“Dawid het ons gevolg en in ons tent ingekom. Ek was so geskok, ek kon nie skree of beweeg nie. Simon het opgespring, sy mes gegryp en Dawid in sy bobeen gesteek. Dawid het toe vir Simon in sy . . . in Simon se . . .” Sy beduie na haar keel, die gedagte te seer om te beskryf. “Hy het my aan my hare gegryp en my saam met hom uit die tent gesleep. Ek het probeer skree, maar ek kon nie.”

Sy begin weer ruk en Annalien hou haar vas.

Dit is De Wet wat die volgende vra: “Charlene, hoe is Dawid dood?”

“Simon moes ’n aar raak gesteek het. Ek het voor hom geloop omdat hy ’n mes teen my rug gehou het. Hy het gesê hy sal my doodmaak as ek probeer ontsnap. Hy het skielik neergeval.”

Deur die snikke vertel sy verder: “Ek het begin hardloop. Ek wou net van hom af wegkom.” Haar stem raak weg en sy staar voor haar uit.

Die geluid van ’n helikopter laat almal opkyk.

“Dis die polisie. Kom, ons moet teruggaan kamp toe. Charlene, hulle sal jou hospitaal toe neem. Is daar iemand wat ek kan kontak wanneer ons terug is by die basis?”

“Asseblief. My ouers in Johannesbu­rg,” sê sy. Sy lyk moeg.

De Wet neem Annalien se hand, en met haar ander arm nog om Charlene se skouers beweeg hulle terug kamp toe.

DIE kamp wemel van polisie. Nadat die polisie almal se verklaring­s geneem het, is Charlene saam met twee konstabels en die res van die groep terug basiskamp toe.

Annalien en De Wet bly agter. Daar was nie genoeg plek vir almal nie. Sy kyk die helikopter agterna en dink aan hoe die jong bruid se sprokie in ’n nagmerrie ontaard het.

De Wet kom langs haar tot stilstand. Hy vou haar hand in syne.

“Wat ’n storie het ons nie so pas beleef nie?” sê Annalien.

Hulle kyk na mekaar. Dan sê hy: “Liefde en moord op Kilimandja­ro.” ■

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa