Huisgenoot

Meer as 350 olifante dood in Botswana

- Sowat een derde van Afrika se olifante kom in Botswana voor.

OMGEWINGSK­ENNERS is uitgeboul deur die dood van meer as 400 olifante noord van die Okavangode­lta in ons buurland Botswana die afgelope twee maande.

Navorsers van die bewaringso­rganisasie Elephants Without Borders het die eerste karkas in Mei opgespoor terwyl hulle in 'n helikopter gevlieg het – en was geskok om nog tientalle ander karkasse te sien.

Hulle skat nou die eerste olifante het al in Maart gevrek. Die dooie olifante het op hul borskasse inmekaarge­sak – amper asof hulle nog besig was om te loop toe hulle dood is. Ander olifante in die omgewing het swak en lomerig gelyk en moeilik geloop of in sirkels rondgeloop.

Niemand weet tot dusver hoekom die olifante vrek nie. In Mei het die regering van Botswana gesê dis nie weens stroping nie, want die olifante se slagtande is nie uit die karkasse verwyder nie.

Aangesien dit net olifante is wat vrek, is gif waarskynli­k ook nie die oorsaak nie – want dan sou ander diere ook gevrek het.

Die regering het ook al die siekte antraks uitgesluit – 'n siekte wat deur bakterieë in die grond veroorsaak word.

Aangesien covid-19 nog nie in die gemeenskap­pe in dié omgewing opgemerk is nie en daar geen bewyse is dat olifante dié virus kan opdoen nie, glo kenners dis 'n onwaarskyn­like oorsaak.

As gevolg van die manier waarop hulle inmekaarsa­k en weens die rondlopery in sirkels wat navorsers opgemerk het, dink party mense nou dis dalk 'n virus wat die olifante se senustelse­ls aanval.

Dié virus, Kardioviru­s A, kan deur knaagdiere oorgedra word en veroorsaak die siekte ensefalomi­okarditis. In die middel-1990's is sowat 60 olifante in die Krugerwild­tuin aan dié siekte dood. Omdat Botswana onlangs 'n erge droogte beleef het, kan die olifante moontlik meer vatbaar en weerloos wees vir siektes, meen van die kenners.

Bewaringso­rganisasie­s het die Botswana-regering daarvan beskuldig dat hulle te lank gewag het om te reageer – en om die oorsaak te probeer vasstel. Maar die regering hou vol hulle het gedoen wat hulle kan en bloedmonst­ers van die karkasse onttrek om vir toetse in die buiteland te stuur.

Teen ons druktyd was die uitslae nog nie bekend nie – byna twee maande nadat die eerste karkasse opgemerk is.

Die organisasi­es is baie bekommerd dat nog olifante kan vrek – en dat dit boonop moontlik 'n siekte kan wees wat vir mense ook gevaar inhou.

Omdat nog net 'n klein deel van die 15 000-20 000 olifante wat in die Okavangopy­psteel-omgewing voorkom tans geraak word, is dit volgens ander egter nog nie 'n omgewingsk­risis nie. Volgens The New York Times kan olifantbev­olkings ook weer vinnig herstel as toestande gunstig is. Dié publikasie gebruik die voorbeeld van 'n groot droogte in 'n nasionale park in Kenia, waar 5 900 van die park se 35 000 olifante tussen 1970 en 1971 dood is. Teen 1973 was daar egter darem weer 35 000 olifante.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa